Goed wat mense vir my gesê het wat my lewe verander het.

Hier is sommer ‘n paar goed wat mense oor jare vir my gesê het wat my bybly, wat my lewe verander het. Daar is nog baie meer, maar ek kan nie nou aan hulle almal dink nie, dit kom mos in jou kop op wanneer dit ter sprake is.

Met my eerste vakansiewerk het my pa vir my gesê:

  1. “Bepaal jou aandag by jou klant, moenie geselsies maak met al die ander rondom jou solank daar ‘n klant by jou is nie.”
  2. “‘n Arbeider moet sy loon waardig wees. (Dit was toe ek die een oggend nie lus het vir opstaan om my werk te gaan doen nie.)”
  3. Sommer oor almal se opinies oor wat jy doen, het tannie Mags gesê: “Wie verbyloop sien dit nie, wie staan en kyk, traak dit nie.”
  4. Ook my pa: “Moet nooit ‘NOOIT’ sê nie.” So waar. Hy het ‘n manier om jou in te haal.
  5. Tog, om by nr 3 aan te sluit, is die sinnetjie, “Do what you do, do well, boy” een wat baie keer in my kop vasstteek. Of ek dit altyd doen, weet ek nie, ek wil te veel goed doen!
  6. Marinda Otto het vir my gesê dat ‘n mens maar self jou lewe moet inkleur.
  7. Phil Bosmans: “Blomme van geluk moet jy self PLANT.” (Nie net wil pluk wat ander geplant het nie!)
  8. Louis Malherbe het gewaarsku dat ‘n mens eerder die Bybel self moet lees, eerder as om net OOR die Bybel te lees.
  9. Op ‘n baie spesifieke stadium in my lewe het die Heilige Gees vir my gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God, dan sal al hierdie dinge vir jou toegevoeg word.” Baie waar. Dit kan ek na baie jare getuig.
  10. “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê”, nie soos die ek-gerigte sinne wat ‘n mens deesdae hoor nie.
  11. My Wiskunde onnie het gesê: “As jy die werk nog nie ken nie, het jy nog nie geleer nie.”
  12. Die Skim, my rekeningkunde onnie het, as hy ‘n toespraak maak en ‘n applous kry, sy hande in die lug opgesteek en gesê: “Moenie vir my hande klap nie, klap vir Hom wat die eer verdien.” – Nederigheid
  13. Dalk kom hier nog ‘n paar in my gedagtes tot teen die tyd wat ek dit publiseer. Intussen, mooi loop.
  14. So ‘n nagedagtetjie, kan nie onthou wie dit vir my gesê het nie: “Ek ontvang eerder die Here se seën op 90 % van my inkomste, as om geen seën te kry op 100% nie.”

Groetnis

Toortsie

Toortsie se faceboekbladsy.

14 thoughts on “Goed wat mense vir my gesê het wat my lewe verander het.

  1. Van my ma geleer dat alle mense harte het en met respek behandel moet word… kleur maak nie saak nie.
    Vir my kinders geleer as jy iets doen, is net jou beste goed genoeg…. anders los dit. Hierdie een het diep indruk op my dogters gemaak… en al gesorg dat hulle in werksomstandighede al vir die baas gesê het ‘My ma het gesê……’ 😆

    Like

    1. Ja, alle mense met respek behandel. Ek stem daarmee saam.
      My seun vertel dat ek glo op ‘n stadium gesê het dat ‘n sekere man wat by ons werk ‘n swarte is. Hy was totaal verbaas, want hy het nog nooit so daaroor gedink nie! Hulle was nie gewoond daaraan dat ons van mense as *kleur*mense praat nie.

      Liked by 1 person

  2. My pa het altyd vir ons kinders gesê: “Van lekker lag kom lekker huil”. En hoe waar is dit nie? Wanneer ons uit ons velle was, was dit nooit lank voor een gehuil het nie – al was dit net ‘n toon gestamp.

    ‘n Vriendin het ook eenkeer so ewe teenoor my kwytgeraak: “Daar is twee soorte mense – dié wie se karre vuil word as dit reën en dié wie se karre skoon word as dit reën.” Ek was nog nooit juis lief vir kar was nie, maar ek maak vinnig plan wanneer ek soos die laasgenoemde spesie begin lyk.

    Like

Gesels saam, asseblief!