Nuwe Nuut

“Nuwe nuut” is ‘n woord wat ek ‘n paar jaar gelede geleer het toe ek die Christelike Nood- en Traumaberadingskursus gedoen het by die Hugenote Bybelinstituut. Dis ‘n woord waarvoor ek regtig lief is.

Waar die woord in die kursus gebruik word, is waar ‘n persoon dalk erge trauma gely het, erge verlies wat dalk nie teruggekry kan word nie. Dis waar daar ‘n nuwe nuut geskep moet word. Iemand het dalk ‘n geliefde verloor, wens met alles in hom of haar om die persoon terug te kry, maar dis onmoontlik. Die nuwe nuut sal wees waar die persoon dalk leer om weer te lewe, ten spyte van verlange, ten spyte van die groot verlies wat gely is, maar om weer sin te maak uit die nuwe lewe wat dalk nie so gemaklik is nie. Soms ly mense groot verlies, en kan tog die nuwe nuut leer liefkry.

Nou het ek so ‘n diep draai gaan maak en eintlik wou ek die woord by Banting toepas. Die fout wat baie nuwe Banters maak, is dat hulle terugverlang na die ou kos, soos byvoorbeeld brood en koek en terte en soetigheid. Dis natuurlik normaal! Groot moeite word gedoen tot groot uiterstes om die “ou” kosse wat hulle nie meer kan eet nie, te “vervang”. Dis presies waar ek die Nuwe Nuut wil toepas. Die ou lewe met grane en suiker en ander stysels is verby, daar is soveel Nuwe dinge wat nou geëet kan word wat voorheen tabóé was.  Vir my lê die geheim daarin om vorentoe te kyk en juis in die nuutheid daarvan nuwe resepte te probeer, ou resepte anders te maak, anders te begin eet sodat ook jyself op die ou end ‘n nuwe nuut sal wees, want hoekom het jy in die eerste plek besluit om so ‘n drastiese verandering in jou dieet te maak? Sekerlik nie omdat jy gelukkig was met jou lyf of met jou gesondheid nie? Jy het dit dalk uit desperaatheid gedoen. Moet daarom nie terugkyk nie! Kyk vorentoe! Vergeet van wat jy alles “verloor” het in die proses, sien raak wat jy alles gewen het en maak die beste daarvan!

Natuurlik is die nuwe nuut by Banting nie ‘n skrale vergelyking met die groot verlies wat ek hierbo geskryf het nie. Verskoon my as ek ongevoelig voorkom, dis nie die bedoeling nie. Ek dink net die woord pas so perfek in by die nuwe leefstyl wat ons Banters volg.

Groete

Toortsie

Toortsie se Bantingboerkos faceboekblad

Bestel Toortsie se Bantingboerekos HIER

Toortsie by Bidorbuy

Ns. Ons is ernstig besig met die Engelse Toortsie! 🙂

20160106_115454.jpg

6 thoughts on “Nuwe Nuut

  1. Baie, baie jare na ons egskeiding het my eks my gebel en gesê ek het aangegaan met die lewe, en hom alleen agtergelaat en hy kon nie weer sy pad vind nie. My antwoord was dat hy gekies het om by die graf stil te staan, maar ek het ‘n nuwe lewe begin. Dit glo ek is ‘n nuwe nuut, MAAR die nuwe lewe was met groot pyn in my hart. Dit was ‘n hoë prys om vir ‘n nuwe lewe te betaal.
    Dit het nou niks met banting te doen nie… maar die woorde nuwe nuut het my getref.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!