Nuwejaarsoggend

As ek Dirkie se gesiggieboekinskrywing reg verstaan, was daar gisteraand ‘n klomp klapperskieters en lawaaimakers sommer nie ver van haar af nie, en vanoggend is dit doodse stilte, en soos dit vir my klink was syself vroegoggend lus om ‘n paar klappers te skiet…..

Onthou julle in die jare 70 en 80 (in die 1900’s) het die matriekuitslae middernag uitgekom? Met die draai van die jaar? 31 Desember 12 nm, of anders gestel, 1 Januarie om 00:00? Dan moes ons die koerant bel en sê: Hoërskool Bredasdorp, en die naam. Of jy vra dat hulle die name in die koerant tel. As daar genoeg name is, weet jy wie almal is deur. Kort daar 1, vat dit nogals ‘n rukkie om uit te vind wie kort.

Destyds was dit nie ‘n gegewe dat jy jou matriek slaag nie. Nie soos nou wat jy al 6 jaar vooraf moet aansoek doen as jy wil druip nie!! 😯

Dit was nie ‘n gegewe dat my oudste broer matriek sou slaag in 1974 nie. Eintlik was dit ‘n groot vraagteken. Jy sien, hy het net so met sy vingerpunte geraak aan slaag….

Ons het oujaar gehou. My ouers het iewers ‘n skaap op ‘n spit gebraai, en oujaar gehou soos ‘n mens dit net in Struisbaai kan doen. Dit raak 12 uur en ouboet gaan staan in die ry by die tiekieboks … en hy slaag!!!! Vreugde op vreugde!!!! 🙄  Seker so 2 vm, 3 vm dalk het dit stil geraak in die buurt.

Maar mamma en pappa kon nie slaap nie. Die opwinding was te groot. So 5 vm het hulle toe maar opgestaan en langs die see gaan stap. Struisbaai het mos nie verniet die langste sandstrand in die Suidelike Halfrond nie?….

Intussen kon ouboet ook nie meer die opwinding hanteer nie, en so 6 vm se kant het hy toe maar die gras gesny …

Die volgende jaar, op oujaar, het die buurvrou toe gekom, so 6 nm, en ons gras kom “sny”, net om seker te maak die gras word nie die volgende oggend gesny nie…. 😉

Geniet die nuwejaar!!!

nuwejaarstoorts

Toortsie se faceboekblad

8 thoughts on “Nuwejaarsoggend

  1. Ag dit is so pragtig… ek’s mal oor daai buurvrou!! Ken ook daardie gevoel van wonder of die seunskind dit gaan maak… amper omgeval van verstomming en hy was so verontwaardig- ” hoe kan Ma twyfel !!” Mooi jaar vir jou.

    Like

    1. Toe my ander broer se dogter se matriekuitslae nou gekom het, was dit net nadat hy hierdie stuk gelees het. Hy bel my om die goeie punte mee te deel en al giggelend sê hy: “en nou gaan ons gras sny”….. 😆

      Like

Gesels saam, asseblief!