My kinders se maats…

As daar een iets is wat ek glo ons nooit genoeg voor kan bid nie, is dit vir ons kinders se maats. As hulle oulike maats het, is die stryd alreeds halfpad gewonne. Maats kan ons kinders maak of breek. Veral as jou kind dalk nie so seker is van hom/haarself nie. Of dalk is sy eensaam, dalk het sy ‘n slegte tyd agter die rug. Dalk is hy nuut in ‘n skool/dorp/waar ook al… Dalk is hy/sy sommer net meer kwesbaar.

Ek het altyd ‘n punt daarvan gemaak om, as hier maats kom kuier het, en dis oulike kinders (wat dit gewoonlik was), dit vir my kinders te sê. So het een van my kinders toe ook vir my gesê nadat ons kinders afgelaai het: “Nou gaan mamma seker sê ons het oulike maats.” Waarop ek toe geantwoord het: “Jy’s heeltemal reg. Julle HET oulike maats en ek is baie dankbaar daaroor.”  (En as die kinders NIE so oulik was nie, het ek maar net stilgebly.)

Wanneer jou kinders oulike maats het, is jy net soveel rustiger as hulle uitgaan, op ‘n kamp gaan, uit die huis uit gaan. Dit waarborg geensins dat daar NIE foute kan kom nie, maar ek glo dit verminder die kanse. Oulike kinders trek mekaar op. Oulike kinders pas mekaar op. Versorg mekaar.

En as ons ons kinders se oulike maats saam met hulle geniet, bring hulle hulle vreeslik graag huis toe! En dis nou iets wat vir my EKSTRA lekker is!

Kom ons bid vir ons kinders, en hulle maats. Kom ons wees dankbaar vir oulike maats, kom ons moedig ons kinders se oulike maats ook sommer aan tot nuwe hoogtes. (Want hulle sleep my oulike kind dan sommer saam na daardie hoogtes!!) 🙂

11 thoughts on “My kinders se maats…

  1. Ek le nou so ‘n laat eiertjie… maar my lewe het om kinders en hulle maats gedraai. Daar tussen die mielielande waar die klomp grootgeword het, was daar niks te doen nie… behalwe “action cricket” waar al die onheil uitgebroei het. Dus was dit ‘n “no go,” vir ons kroos. Hulle maats is huistoe gebring vir deurnagaande. Hoe lekker om die kombuisdeur agter ‘n klomp tieners toe te trek, en te weet vannag bak die klomp pannekoek, speel tafeltennis, of sit sommer om die groot kombuistafel en gesels. Die volgende oggend gaan hulle so een vir een leepoog huistoe, en jy is dankbaar dat ouers hulle tieners vir ‘n nag aan jou nes toevertrou het.

    Like

Gesels saam, asseblief!