x tien

Dag 18 van 40 oor Positiwiteit

‘n Vriendin vertel van ‘n vriend se nagmerrie: Hy droom dat God die bedrag wat hy maandeliks vir die kerk gee, met 10 gaan vermenigvuldig en dat dit dan sy salaris gaan wees. Hy het beangs wakker geskrik, want hy weet nie hoe hy met so ‘n karige salaris gaan uitkom nie…..

In my regtige swaarkry dae het ek die heeltyd skuldig gevoel omdat ek geweet het ek gee hopeloos te min vir die werk van die Here. Ek was behoorlik in ‘n worsteling daaroor, en het vir Hom gesê dat ek regtig graag meer wil gee, maar dat ek net nie een maand uitkom met my geld nie. Een dag kom ek weer terug van die dorp en weer is hierdie saak in my gedagtes. En ek hoor baie duidelik in my kop: “Maar soek eers die Koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir jou toegevoeg word.” Daardie dag het ek besluit om elke maand, voor ek my geld vir enige iets anders gebruik, 10% vir die kerk te gee. En ek kon nog steeds daarna koop wat ek voorheen met dieselfde salaris gekoop het!  (Jammer, nog steeds nie persiese tapyte en kristalkandelare nie!!)

Ek sal vir julle vir maande kan besig hou met hoe God my al geantwoord het omdat ek die 10e getrou betaal. Dis nie ‘n geval van om vir God “om te koop” nie, maar hy sê baie duidelik in Maleagi: “Toets My.”  Vir my gaan die tiende oor die verlede, hede en toekoms. Ek gee dit omdat ek vir God dank omdat Hy in die verlede vir my gesorg het, ook omdat Hy VANDAG vir my weer die geleentheid gee om dit te betaal, maar OOK omdat ek glo dat Hy ook in die toekoms vir my sal sorg. Ek koop Hom nie om om vir my die luukses te voorsien nie. Nee. Ek VERTROU Hom dat, al sou ek ALLES wat ek het, verloor, Hy nog sal sorg vir my snytjie brood.

Ek staan hierdie dag in die reeks van Positiwiteit aan die tiende af, omdat daar min dinge is waaroor ek so positief voel, soos juis dit! Die werk van God moet aangaan. En ongelukkig is daar geld nodig daarvoor. Alles wat ons in die lewe het, kom van Hom af. Is hy dan net ons kleingeld werd?

KOM ONS SAAI SAAD VAN POSITIWITEIT!

19 thoughts on “x tien

  1. Toortsie, wens ek het jou regte naam geken want ek wil jou nou op jou naam aanspreek. Hou asb vol met jou 40 dae. Jy sal nie weet hoe ek daarna uitsien om vinnig tussendeur te kyk wat die dag se gedagte vir positief wees is nie. En dan gaan dink ek daaroor. Ek sal nie noodwendig ‘comment’ nie , maar as ek begin dink het jy mos geslaag en jou liggie gelig waar dit dalk bietjie donker was..? Moet asb nie ophou.

    Like

  2. skuus, ek alweer – dis seker omdat ek noudie dag “The mission” gekyk het, dat ek nou weer van voor af die dinges in is vir die kerk. mens kan nie sommer net iewers invaar en mense se lewens probeer verander nie.
    as die kerk geld insamel om vir mense iewers skole te bou of te help na ‘n ramp, gaaf. maar ek dink dit moet daarby bly. mens kan nie sê “kyk, hier is vir julle kos, MAAR nou gaan ons julle oortuig om te glo soos ons glo nie”. ek dink nie dit werk so nie! dan gee ek eerder geld vir die rooi kruis of een of ander soortgelyke organisasie.

    Like

    1. Ek dink nie ek het al The Mission gesien nie.(sal vir die kinders vra). tog is dit die baie duidelike boodskap van Jesus dat ons moet gaan vertel…. (dis seker oor HOE ons dit doen)… en ek is seker my manier van doen skrik dalk ook mense af? Ons almal probeer mos maar net.
      As jy meer gemaklik voel om die geld vir die SPCA of Rooi Kruis te gee, is dit mos nog steeds jou keuse! Dit gaan oor die GEE en nie als vir myself hou nie, dink ek??

      Like

    2. Karen, so ‘n nagedagte.
      Iewers baie baie jare gelede (kan 100e jare gelede wees, ek weet nie), was daar iemand wat die moed en oortuiging gehad het om vir een van my voorgeslagte, wie nog nooit van Jesus en Sy wonderlike evangelie gehoor het nie, vertel daarvan. Ek is seker hierdie voorouer van my was nie GEDWING om te glo nie. Hy/sy het die blye boodskap met blydskap ontvang en het geglo. Dit was sy/haar keuse wat sy met daardie boodskap sou doen. Net so, as mense in rampgebiede gaan help by mense wat nog nooit gehoor het nie, en hulle wonder WAT sal hierdie vreemdelinge dwing om hulle te kom help? Hoekom sal hierdie vreemdelinge vir ons soveel liefde gee? En dan vertel die mense vir hulle van die liefde van Jesus…. dan is dit daardie mense se eie keuse of hulle Hom wil aanneem of nie.
      Maar weer oor my voorouer en die persoon wat vir hom/haar vertel het. Ek sal vir altyd en altyd vir daardie vreemde persoon baie dankbaar wees omdat hy/sy uit sy/haar gemaksone geklim het en vir my voorouer kom vertel het. Baie dankbaar!!
      Hoop jy verstaan wat ek bedoel.

      Like

  3. Eers oor die gee – verseker, eerder as om vir jouself te hou. Maar wat die rede? Dit voel net vir my soos ‘n stertjie aangelas as mens dit deur die kerk doen.
    Toemaar, jou manier skrik my nie af nie. Been there, done that. En dan kom ons by The Mission uit – dink nie jy sal vergeet as jy dit gesien het nie. Jeremy Irons, Robert de Niro, en daai pragtige musiek van Ennio Morricone (http://www.youtube.com/watch?v=o35abuR_oLo). Toe was dit die roomse kerk (vir hulle het ek nog minder tyd), maar die gereformeerdes stam ook van hulle. Die fliek is gebaseer op ware gebeurtenisse. Raak sommer weer vies as ek net daaraan dink.

    Like

    1. Die rede? Omdat alles wat ek het, van God af kom. Hy verwag dat ek goed sal kyk na my geld. En Hy sê dit baie duidelik dat ons vir die armes moet gee. Hoekom vir die kerk? want die kerk bedien my elke Sondag. As ek ‘n krisis het, kan ek die predikant, wat darem gewoonlik beskikbaar is, bel en hy gaan my gratis help. Dalk het die kerk ‘n te groot organisasie geword, ek weet nie. Maar die kerk het uitgawes. Die kerk waaraan ek behoort het ‘n gebou waar ek elke sondag baie gerieflik kan gaan sit en luister, of meedoen of wat ook al. Die kerk het predikante wat onderhou moet word. Anders gaan die predikante op die ou end ander werk moet doen en nie meer hulle volle aandag aan hulle diens aan die gemeente kan gee nie. Daar is ‘n orrelis, wat sorg dat ek lekker saamsing. en die koster wat sorg dat die gebou en tuin netjies en skoon gehou word. Dan is daar baie sending-organisasies vir wie geld gestuur word, wat ook deru die kerk onderhou word…. ens. Die kerk het ‘n kombuis waar die armes kan kom kos haal, gestruktureerd. Hulle sorg vir soveel goed wat ek nie eers van weet nie. Maar in Sy Woord staan dit dat ek my volle 10e moet gee. Daarom gee ek dit. Want dit is wat God van my verwag.
      Jy mag maar nog vra!!

      Like

  4. Jy weet hoeveel bedelaars is hier by ons in SA. ek kan onmoontlik vir elkeen iets gee. Ek wil ook nie, want dit moedig bedelary aan. Vandat ek my 10e vir die kerk gee, voel ek nie meer sleg om by ‘n bedelaar verby te stap nie. Ek weet ek het mos my deel gegee. En hulle kan by die kerk gaan vra. Ek voel regtig bevry om die orige 90 % te gebruik soos ek wil, sonder om skuldig te voel. As ek regtig wil, gee ek vir een ‘n stukkie brood. Dis mos nie dat my beursie totaal toe is nie. Maar EK is bevry! En dis ‘n heerlike gevoel.

    Like

  5. Mens hoop maar net bedelaars het die vrymoedigheid om by die kerk te gaan vra. Ek het my twyfels. Maar ek sien jou punt in – so ‘n gebaar kan baie bevrydend wees.

    Like

  6. Toortsie , onthou ons het verskillende sieninge en dit hou alles interessant! Iets wat jy in gedagte kan hou is dat ‘n toorts nooit hoef te verdedig hoekom hy skyn nie.. Dis sy werk. Sorg net dat die ‘batteries’ lekker volgelaai is en skyn dan lekker sterk! Doe so voort!

    Like

Gesels saam, asseblief!