Ek het nog altyd gesê dat ek my nie gaan steur daaraan as ek 60 word nie. Dat ek bejaardheid ‘n ding of twee gaan wys. Dat ek reg is daarvoor.
En ja, ek ís reg daarvoor. Tog besef ek deesdae dat ek nie meer so jonk is as wat ek dink nie. So ‘n rukkie terug was daar ‘n foto in die omtrek van ‘n jong meisie wat dans waarby geskryf staan dat dít die prentjie is wat jy in jou kop het van as jy uithaak. Maar, dat dit wat jou kinders sien, ‘n lawwe ou tannie is.
Met drie nabyvriende wat in die afgelope twee jaar oorlede is, besef ek dat God besig is om te kap in ons bos. Dat, al beplan ek om minstens honderd te word, ons nie onsterflik is nie. Selfs die koningin was nie onsterflik nie, al het dit soms so gevoel. En as ‘n mens reeds bril en gehoorapparate dra, spierwit grys is, jy pieringsvol pille drink om ewige jeug te probeer behou, moet jy besef dat die klok stadig, maar seker besig is om te tik. Nee, ek is nog lank nie oor die muur nie, maar die realiteit is daar. Van die vorige geslag in ons familiie is nog net my ma se suster en haar man oor. Ons is besig om die oues te raak.
Op hierdie toer met ons dogter en kleinkindbaba is die realiteit net al hoe duideliker. Ons ry nog met die kar in die verkeerde kant van die pad en kom goed reg, maar die jeugdige verkenner in ons midde help baie en ons steun al hoe meer op haar.
Kleinkindkind bring die besef keer op keer dat hy in ‘n heel ander wêreld as ons gaan grootword. Dat hy dalk nog weer hierdie paaie gaan loop waar ons dalk nooit weer sal kom nie. Dat die toekoms in hóm gebêre is, nie meer in ons nie.
My gevolgtrekking? Ons raak dalk oud, maar nog lank nie koud nie! Ons jare vir toer is nog glad nie verby nie. Tog sal dit goed wees om elke keer een van ons kinders saam te neem om te help dink en doen. Of toergroepe oorweeg …
Sy vra dat ek ‘n resensie moet skryf op die internet. Of so dink ek dat sy dit vra. Want my Engels is maar min en hare is heeltemal op. Of dalk het sy dit nog nooit gehad ook nie. En my Italiaans beperk tot die paar musiekterme wat ek in my hoërskooldae vir musiekteorie-eksamens moes leer en dit wat sy gesê het, het nie soos een van hulle geklink nie.
Ek het vandag ons huurkar verloor. Of dalk nie so heeltemal verloor nie. Eintlik net die papiertjie. Die bewys dat ons ons kar by daardie parkeergarage ingegee het. Toe ek kos gekoop het. Of my neus wou blaas en ek die sakkie snesies uit my piepkleine handsakkie wou uithaal. Of dalk toe ek my selfoon die hoeveelste keer uit dieselfde piepkleine handsakkie wou haal om foto’s te neem. En ek juis gedink het dat dít darem nou regtig ‘n goeie koop was, die selfiestok. Selfiestok maak foto’s darem net ‘n bietjie meer natuurlik as selfies waar een persoon altyd duidelik uitstaan as die een met die arm wat die foon vashou.
In elk geval, toe ons by die parkeerplek kom, is die papiertjie weg. En ons weet nie eers behoorlik watter soort kar dit is nie, wat nog te sê wat die registrasienommer is. En húlle het die sleutel by hulle, want hulle gaan parkeer die kar op ‘n veilige plek.
Gelukkig het die dame by die verhuuragentskap vir my ‘n e-pos gestuur toe ons die kar gehuur het. Ek kon vir haar die registrasienommer vra terwyl my man en die karhuurman die kar loop soek het.
‘n Paar uur later besef ek dat, toe ek ietwat paniekerig met die verhuuragentskap besig was, ek die selfiestok neergesit het en nie weer gevat het nie. Op ons terugtog met die erg nou pad wat eintlik ‘n eenrigtingpad moet wees, maar ‘n tweerigting waar selfs busse by mekaar verby moet knyp, draai ons toe maar weer met die eenrigtingpaadjie af na die parkeerplek.
En daar lê die selfiestok! En ek is so bly! En sy vra vir ‘n resensie of dalk iets heeltemal anders. Maar, hier is dit. As jy parkeerplek soek, die eerste parkeeragentskap wat jy kry op die eenrigtingpad nadat jy afgedraai het na Positano, gebruik dit! Hulle is wraggies oulik!
Kyk, ek praat glad nie hierdie kragkrisis waarin ons land tans verkeer, goed nie. Glad nie! En ek raak ook, nes al die ander mense gefrustreerd. Waar, wanneer dit ons ‘beurt’ was wanneer die krag af was, dink ek, moet ons nou begin kyk na wanneer die krag wel aan is. Dán is dit ons beurt.
Sulke hekkies in ons pad kan ons totaal verlam. Soos wat dit doen. Maar, as ons gelukkig is, kan dit ook lei tot nuwe idees. Soos wat die mislike Covid ook soveel mense verlam het, maar vir soveel mense die begin was tot nuwe dinge en nuwe denke.
In plaas daarvan dat ons heeldag sit en kla en mor en por en onsself in depressie in verknies, sal dit dalk tog help as ons buite die boks begin dink. Miskien is daar dinge wat ons nou anders moet doen? En ja, ons hét reeds al so baie toegegee! En ja, ons kan níé nóg toegee nie. Of kan ons?
Hierdie paar ure wat ons in ‘n dag wel ‘n bietjie elektrisiteit tot ons beskikking het, moet goed benut en bestuur word. Dit verg beplanning dat ons die dinge wat elektrisiteit vra, in daardie tyd doen. En terloops, ek wil graag glo dat die meeste besighede darem al teen hierdie tyd alternatiewe begin oorweeg het? So ek skrywe hierdie met die doel op huishoudings. Ek kan glad nie dink wat ‘n besigheid maak as hy nie sy volle tyd krag het nie.
Toortsie moet nog leer om haar ver ente se stap in die berg nou eerder te doen wanneer die elektrisiteit AF is, sodat sy tuis is, die paar ure kragtig kan gebruik. Sy moet ook haar somtydse middagslapies skeduleer vir die ‘af’tye.
Dalk is dit nou ‘n goeie tyd om ‘n nuwe ding aan te pak. Iets waarvoor jy nog nooit tyd gehad het nie. Soos ‘n handwerkie. Houtwerkie. Naaldwerkie. Of dalk weer begin regte boeke lees? Of die tyd gebruik en die buurman wat jy nog nooit ontmoet het nie, te gaan opsoek en sodoende sommer nuwe verhoudings bou. Of kerk toe gaan. Tyd met God spandeer. Bybelstudie hou. Nuwe idees met kos kry. In die ‘aan’ tye groter hoeveelhede kos gaarmaak, sommer genoeg vir ‘n paar dae. Dit spaar natuurlik ook baie krag. Maak sommer twee of drie hoenders op ‘n slag gaar. Of twee of drie kilogram se frikkadelle. Dieselfde moeite, dieselfde elektrisiteit, maar heerlik om uit te haal in daardie ‘af’tye. Die rok wat jy wil maak, knip terwyl die krag af is sodat jy kan stik wanneer die krag aangaan.
Kom ons raak kreatief, ook in ons denke. Ons fokus daarop om positief te bly te midde van al hierdie chaos. Want DAN het ONS gewen … en vorentoe beweeg.
Hoe bad jy ‘n padda in kookwater? Deur die water stelselmatig warmer te maak en die padda gewoond te maak daaraan. Ja, ons ís ‘n klomp paddas wat al jollie oulik is in hierdie warm water! As ons tot hier toe innoverend kon wees en dit kon maak, hoekom nie vorentoe ook nie?
Nou die dag vra hulle op RSG, waaraan kan jy dink wat jy gedoen het wat klein en onbenullig begin het en groot geword het?
Meer as twaalf jaar gelede het ek bang en onseker my eerste bloginskrywing gedoen op Madele Oor Leef. Die man met die hoed het my vrees raakgelees en geskryf: “Welkom, ons byt nie!” Wel, daardie blog het nie oorleef nie, maar ‘n paar dae na Madele Oor Leef se skielike afvee van die web af, is Toortsie gebore. Danksy daardie bang skrywes van daardie tyd het Toortsie gemaklik begin raak met ‘n skrywery. Voor blogs het ek net in my bidboek geskryf. En werkstukke vir my kursusse. Intussen het Toortsie haar vlerke al hoe wyer gestrek en selfs aan skryfkompetisies deelgeneem en verbasend goed gedoen. Daar is van haar kortverhale en selfs gedigte toegelaat in publikasies.
In Julie 2014 het die vetsugtige, moedelose Toortsie gebid en vir God hulp gevra. Sy het nie meer raad geweet nie. Sy het elke verslankingsdieet onder die son getroef (of het hulle vir haar getroef?) Dit wou nie meer werk nie. Sy kon net eenvoudig nie meer by enige van daardie eetplanne bly nie. Sy het gehoor van Banting, maar ja, ‘n mens moet GEBALANSEERD eet, so sy kan dit nie doen nie. Om die waarheid te sê eet sy konstant gebalanseerd te veel! (Intussen het sy agter gekom dat sy regtig baie gebalanseerd eet, geen mens het stysel of suiker nodig om ‘gebalanseerd’ te eet nie!)
Op my eie het ek daardie dag, 27 Julie 2014 met Banting begin. Alleen die onttrekkingsimptome trotseer. Al plek waar ek kon deel van my ervaring was op hierdie einste blog … Ek het nie geweet waar om hulp of resepte te soek nie, behalwe in Tim Noakes se rooi boek nie. Ek moes die lyste bestudeer van wat ek mag eet en wat nie. Ek moes die eie kos wat ek eet, onder oë neem en kyk wat ek steeds kan eet en waaraan ek moes skaaf. Ek het resepteboeke gefynkam vir resepte waaraan ek kan verander sodat dit Bantingvriendelik kon raak. Sodat ek darem nie élke dag van my lewe net van eiers, vleis en mengelslaai hoef te leef nie.
Vandag, 3 resepteboeke later wat steeds al drie baie goed verkoop (terloops, boek 1 is nou amper by die 3 000-merk!), is ek steeds op die Bantingpad. Ek het omtrent 16 kg verloor wat ek behou en nie heeldag op en af wipplank ry nie. My klere pas vir jare en sit gemaklik. Ek het al heelwat kursusse gedoen by Nutrition Network in hierdie verband, veral met die oog op diabetes. My Whattsapp Bantinggroep wat ook so met verloop van tyd begin het, is lewendig en die mense help en ondersteun mekaar. Nuwe mense leer die leefstyl aan met my en ander groeplede se hulp.
Ja, daardie kleine stappies wat ek amper 13 jaar terug geneem het met my blog en 8 jaar gelede met Banting, het my grootste verwagtinge oortref. As mens het ek ontwikkel. Ek voel of ek ander tot hulp en nut kan wees. Al wat ek kan doen is om in dankbaarheid en verwondering My God te loof en te eer, want sonder Sy hulp, Sy beskerming, Sy leiding en raad, sou albei hierdie klein beginnetjies net soos mis voor die son verdwyn het. Daardie tyd al.
Die Goue Vroue is ‘n paar besonderse vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!
Versteen van die skrik sit die Goue Vroue in hulle deftige hommeltuigsitplekke, wat nog sagweg op en af sweef van die momentum van hulle onstuimige rit. Vasgevang in ‘n 1984-tydborrel in die mag van ‘n waansinnige Rus wat sy Roebels en sirkustrok by die Goue Vroue eis. ‘n Rus wat vlot Afrikaans praat omdat hy in Johannesburgse agterstrate grootgeword het.
“Alexi…” noem Una sy naam saggies. “Ja! Alexi! Jy is Alexi! Ek onthou!”
“Wat onthou jy?”, vra Alexi nors. “Daar is niks om te onthou nie, behalwe waar my geld en my trok is.”
“Nee man!, ek ken vir jou! Ons was saam op skool in Brakpan!”
“Nee, jy vat ‘n kans! Jy wil nou net met ‘n slim manier hier uitkom. Ek was nooit in Brakpan op skool nie”, brom hy.
“Mmmmm… en dan is hierdie mos jóú hond. Ja, dis jou hond! Kira! En jy is net so min ‘n Rus as wat ek een is.”
Skielik is daar ‘n harde knal, die hommeltuig gee ‘n ruk en val met ‘n slag grond toe. Gelukkig was die hommeltuig nie ver bo die grond nie, anders sou almal baie seergekry het. Terwyl die Goue Vroue nog verward rondkyk, sien jy net ‘n stofstreep soos Alexi teen die spoed van wit lig weghardloop, met sy hond agterna.
“Una? Hoe het jy geweet?” (Christa)
“Daar was altyd van die stadskinders by ons in die skool. Hul het in die koshuis gebly. Alexi was een van hulle. Hy het in ‘n droomwêreld van sy eie geleef en altyd vertel van sy hond wat hy eendag gaan hê. Kira, want sy moet kan heers. Hy het op ‘n stadium hipnose toegepas op mense, maar het die pad byster geraak en al ‘n paar keer met die gereg gebots. Die oomblik toe hy ontmasker was, is die spel wat hy oor ons gehad het, verbreek.”
“Julle, maar dit nou daar gelaat. Hier sit ons nou tussen niks en nêrens sonder vervoer. Om die waarheid te sê het ek nie eers ‘n idee waar ons is nie. Hoe op aarde gaan ons by Rebusfontein uitkom?”, vra WoordNoot.
“Ja, sies tog, Scrapy, wat jy nou nie al alles moes deurmaak om terug te kom op Rebusfontein nie en hier sit ons nou in die stof. Dors, sonder water ook nog.” (Appeltjie)
“Het iemand darem al gekyk of daar selfoonsein is? Dan kan ons mos darem iemand probeer bel.” (Sonell)
“Wat gaan ons maak?” Frannie is sommer ná aan trane.
“Luister! Ek hoor iets!” (Lolla)
“Dis ‘n helikopter! Julle, waai dat hy ons sien! Hy kom ons soek!” (Seegogga)
Geleen op internet.
Statig hang die helikopter ‘n rukkie bokant die Goue Vroue voordat hy rustig afsak. Die deur gaan oop en ‘n pragtige vrou klim daaruit. Nog ‘n keer staan die Goue Vroue verstom, want Seegogga stap nader om haar te omhels.
“Julle, ontmoet vir Tharina. Sy is my beste vriendin al van skooljare af. Ek is so trots op haar, sy is ‘n uithaler boer wat haar plek volstaan in die mannewêreld. Ek het ons pin location vir haar gestuur in die hoop dat sy ons kan help, want ek weet dat sy ‘n helikopter het. En hier is sy om ons veilig in Rebusfontein te besorg!”
“Hoog tyd, sê VirgoC. Regtig, nou kan ons darem ‘n slag by Rebusfontein uitkom! Hierdie trippie raak nou lank en ons is al moeg. Baie, baie dankie Tharina. Baie dankie.”
Een vir een klim die Goue Vroue in die helikopter om die laaste skof te neem Rebusfontein toe.
Daar aangekom, moet Scrapy eers agterbly in die helikopter terwyl die res van die Goue Vroue vir haar ‘n prettige erewag vorm. Vandag gaan hier fees gevier word. Positief het sommer gou-gou vir elkeen ‘n helderkleurige lint in die hand gestop om te swaai. Aalsie het gesorg vir vrolike musiek. Waar hulle dit so vinnig in die hande gekry het, weet ons nie, maar voor jy kon sê, ‘mes!’, het Trommeltjie en Ekmyselff vir elkeen ‘n regte eilandrompie omgebind en ‘n string blomme om die nek gehang.
Dis tóé wat Kameel vir Scrapy geroep het om uit die helikopter te klim onder luide toejuiging van die res van die Goues.
Die langtafel in die meent is sommer gou reggetrek en met allerhande lekkernye gelaai. Toortsie het gesorg vir ‘n Banting koekstruif, net soos sy belowe het. Appeltjie se donkersjokolade met die lemoenskil in lê ook reg.
“Welkom terug, Scrapydo! Ons het jou gemis!”, roep die Goues uit.
“Sjoe, wat ‘n reis! Maar wat anders kon ek verwag? Dis mos die Goue Vroue hierdie en hulle reise is nooit net doodgewoon nie. Eers moes ek op ‘n manier by die Nieu Seelandse Antarktikaboot uitkom. Toe met ‘n bobslee tot by die Suid-Afrikaanse basis. Toe ‘n sirkuswa. Daarna ‘n hommeltuig! En ‘n helikopter om die rit mee af te sluit. Baie, baie dankie, julle. Julle is kosbaar.”
“En ons sê almal so…”, sing die Goues verder. Vanaand word daar nie geslaap op Rebusfontein nie.