Die pennie wat val. Of die kloutjie by die oor bring. Kyk, dis nie sommer ‘n gegewe dat ek iets gaan kliek nie. En as ek die slag iets kliek, is dit ook nie noodwendig dat my kliek die regte kliek is nie.
Ons besoek die Titanic museum in Belfast. Wat ‘n lieflike plek. Uitstekend gedoen! Hul begin met Belfast se geskiedenis en hoe die mense op ‘n stadium daarheen gestroom het om werk te soek. Die industriële revolusie. Die fabrieke. Linne fabrieke. Belfast linne. BELFAST LINNE!
EK BORDUUR MET BELFAST LINNE! Pieng!, val die pennie. Dis HIER waar my uiters duur linne vandaan kom!

Linne word van vlas gemaak. Pieng! Vlassade. Flax seed. Wat ek eet.
Ons beweeg aan in die wonderlike museum wat gebou is op die presiese plek waar die Titanic gebou is. Ons sien van die presiese toerusting wat gebruik is. Ons ervaar hoe die boot te water gelaat is. Ek leer dat daar omtrent vir nog 480 mense plek was op reddingsbote (ongebruikte plekke). Dat die eerste reddingsbote net 12 mense opgehad het terwyl dit meer as 30 kon vat. Dat hul nie die ysberg waarskuwings gehoor het nie omdat die telekse oorvol was van mense in die eersteklas wat boodskappe uitgestuur het. Dat daar nie 24 uur mense op diens was wat inkomende boodskappe moes ontvang nie. Dat …
Manlief vra vir my: “Wat het jy geleer?” Ek: “Dat ons NOU ‘n linnefabriek moet loop soek. Sjoe! Ek betaal baie honderde rande vir ‘n meter borduurlap in Suid-Afrika en hier is ons nou op die plek waar dit gemaak word.” En hy? Dat die Titanic inderdaad in Belfast gebou is en nie in Liverpool soos iemand genoem het nie.
Ons soek ‘n materiaal winkel. Besluit vooraf dat ons nie heeldag gaan soek nie, net een winkel en dan moet ons verder ry. Die dame het nog nooit van 28 draad borduurlap gehoor nie. Al wat sy het, is 3 rolle sintetiese lap, 14 draad Aïda.
Ag wat. Dan koop ek maar weer Belfast linne in Suid-Afrika. Sy sê daar is nie meer linnefabrieke in Belfast nie. As ek reg onthou, was daar een nie te ver van die Titanic af nie, maar my pennie het bietjie skeef geval.
En nou twyfel ek. Ís dit ooit Belfast linne wat ek gebruik?
Toortsie