Dieselfde klere oor en oor

If you were forced to wear one outfit over and over again, what would it be?

Sjoe! Jetpack vra, as ek geforseer sou word om dieselfde klere oor en oor te dra, wat dit sou wees?

Genadiglik is ek nie in so ‘n posisie om slegs een stel klere te besit wat ek dag in en dag uit moet dra nie. Genadiglik kan ek my klere afwissel.

Maar sê nou net ek mag net een stel klere dra, oor en oor … sjoe, julle! Wat sou ek kies?

Ek kan nogal ver kom met ‘n gemaklike jean. ‘n Gewone blou jean. Maar dis by die toppies wat die verveling gaan kom. Want sien, ek hou van allerhande kleurvolle toppies. Baie van hulle is navy en wit patrone, en ek sal seker eerder een van húlle kies as ‘n totaal bont een. Ek kan nogal moeg raak vir bont – kan jy dit glo! Ek sal beslis verder kom met iets rustiger, soos navy en wit.

Vir die koue, my rooi opgestopte baadjie wat ek al baie jare gelede gekoop het en wat steeds mooi bly. Hóm sal ek maklik elke dag dra. Heerlik gemaklik en warm.

Ek wou julle nou skok en sê, met Crocs daarby. Asb! 😳🤭, nie gaatjie Crocs nie, maar ‘n mooi paar (ek het nogal in my lewe by die Crocs uitverkopings belê in mooi pare sandale en skoene, selfs Crocs boots!) Maar ek het ‘n paar navy skoentjies waarmee ek nogal ver en graag stap.

Maar as dit enigsins kan, mag ek darem so drie of vier toppies kies? Asseblief man! Net vir my geestelike gesondheid asb?

Toortsie

Watter noemenswaardige dinge het vandag gebeur?

What notable things happened today?

Jetpack vra: Watter noemenswaardige dinge het vandag gebeur?

Dadelik dink ek: My kinders en kleinkinders het vandag gekom om die naweek saam met ons te spandeer. Vir ander mag dit gewoon wees, maar vir my bly dit keer op keer noemenswaardig. Iets wat my steeds elke keer opgewonde maak. Iets baie besonders.

Daar het ook iets anders gebeur. Ons Bybelstudiegroep het vandag Openbaring 22 gedoen. In die covid-tyd het ons plaas Bybelstudiegroep finaal ontbind ná seker 27 jaar van Maandag ná Maandag se samekomste. Ek het dit geweldig gemis en in daardie tyd wat ons amper nog nie kon saamkuier nie, het God vir my ‘n groepie gelowige vroue gestuur. Elkeen van hulle loop ‘n besonderse pad met ons Here. Ons het besluit om Openbaring deur te lees en te bespreek. Nie elke week nie, maar wanneer ons kon. Soms het ek gedink dat ons nooit sal klaarkry nie. Soms het ek gevoel om Openbaring te los en eerder ‘n ander Bybelboek te doen. Maar ons het deurgedruk. Wat ‘n genade!

Ons weet beslis nog nie alles van Openbaring af nie en dit maak ook nie saak nie. Ons het baie by mekaar geleer. Ons geloof is versterk. Ons vriendskap hegter.

Volgende gaan ons Petrus aanpak.

Toortsie

Hoekom ek die huiskonserte so geniet

Natuurlik omdat ons so musiek maak! Hoekom dan anders? Ek, wat vir meer as 20 jaar nie meer klassieke musiek gespeel het nie … wat later só onseker geraak het dat ek nie meer twee note wou speel nie … wat selfs nie meer op gehoor kon speel sonder dat my keel toetrek nie (kan jy glo! Ek het aand vir aand by die koshuis op gehoor gespeel en dan het die kinders gedans terwyl ek speel.) … ek, wat selfs gespanne was om ligte liedjies in die kerk speel … het weer begin klassieke musiek speel. My musiek het letterlik uit die graf opgestaan. As jy dink hoe angsbevange ek net verlede jaar nog was. Ek leer weer nuwe musiek aan, wel nog nie op die standaard wat ek destyds gekom het nie, maar wel. Ek kry weer selfvertroue by die klavier. EK HET ‘N DOEL OM VOOR TE OEFEN! Ja! Presies dit!

So, die huiskonserte het veroorsaak dat ek weer ernstig oefen. Dat ek weer les neem.

Maar, die huiskonserte is ook lekker omdat dit warm en knus is. As ek voor die klavier sit, kan ek my arm uitsteek en aan die mense raak. Die mense sit warm en styf teen mekaar, wat ‘n besonderse atmosfeer skep. Daar is ‘n atmosfeer van liefde en toegeneëntheid. En ek glo dat die mense wat daar is, daar WIL wees, wat dit so anders maak. Hulle is daar net om een rede – die liefde vir musiek!

En dan die vriendskappe wat ek smee. Mense! Kan jy dit oorvertel? Kon ek dit in my lewe visualiseer? Ek kry wonderlike musiekvriende. Ons oefen saam. Ons kuier saam in die musiekkamer. Ons praat note. Ons ontdek goed op die internet en ons deel dit met blink oë met mekaar. Ons trek mekaar op! OP! OP! Ons moedig mekaar aan. Ek leer mense ken wat ek nooit sou leer ken het nie. Wonderlike mense. Ons droom saam. Ons maak saam planne. Musiekplanne.

En ons speel! Ons speel, speel, speel! Selfs ek mag speel en is goed genoeg! Yesssss!

Sjoe! Ek is dankbaar vir hierdie geleentheid wat die Here weer eens vir my gegee het. Ek klou behoorlik aan sy hand vas, want sonder Hom sou ek dit nie gemaak het nie. Ek besef net meer en meer hoe verskriklik afhanklik ek van Hom is.

Hierdie naweek hou ons weer konsert! Vanmiddag, môre-oggend én môre-aand! Ons het só hard gewerk!

Toortsie

Jong, ek is opgewonde!

Het ek julle al vertel van Mev Martins?

Ek dink nogal ek het! Hulle was mos een van my prysgewers toe ek verlede jaar die Bantinggewigskompetisie gehad het. En een keer het ek vertel dat, deur hulle produkte in konsentraat te koop, ek baie minder plastiek gebruik.

Juis in hierdie bloginskrywing het ek vertel hoe hulle produkte werk. Nié dat ek dit self uitgedink het nie, ek het dit maar op hulle eie webblad gaan opsoek!

Maar hoekom is ek nou vanoggend so opgewonde oor hulle? Omdat hulle my opgewonde maak! Want sien, hulle is bereid om die ekstra myl te stap vir hulle kliënte. By hulle is jy nie net ‘n nommer nie, maar ken hulle hulle kliënt later op die naam, selfs al het julle nog nooit in persoon ontmoet nie. Dít beteken vir my geweldig baie!

Soos die dag toe ek vir Lize bel en vra of hulle ‘n prys sal borg vir my kompetisie van laas jaar. Sonder huiwering het sy ja gesê, maar meer nog, sy het dit toe sommer by haar ook as ‘n kompetisie aangebied en so die boodskap versprei. Net vandag het ek dit weer ervaar. Ek kon ‘n afslagkoepon op moedersdag kry. Wat ek gekry het. Dit verval môre. Toe ek vandag my bestelling per internet plaas, sien ek nie die plek waar die afslagkoepon aangeteken moet word nie. Óf ek verloor dit, óf ek moet die hele bestelling weer plaas en dit was nogal ‘n klompie produkte. Ek bel haar. Geen probleem! Sy stuur vir my die nuwe bedrag wat die afslagprys insluit, sommer per whattsapp! Is dit nou nie diens nie?

Verder, as jy die betaling per direkte bankoordrag doen, kry jy altyd ‘n geskenk by. Hierdie keer is dit fudge. Die meeste kere is dit ‘n produk. Ek sê: “Maar ek wil nie die fudge hê nie.” “Natuurlik!”, hul stuur vir my sommer ‘n boks van die nuutste produk wat hulle net vandag gekry het! Eintlik, sê ek, is dit nie nodig nie, ek het mos ‘n groot afslagkoepon? Nee, nee, nee, hulle stuur dit saam. Kan ek nie darem net die helfte daarvan betaal nie? Nee nee nee!

‘n Ander keer het ek ‘n oproep gekry van haar af: Watter vriendin wil jy vandag bederf?, en daar, saam met my produkte, kom ‘n bederfpakkie vir die vriendin gratis saam!

Hulle produkte ís goed. Dis lekker om dit te gebruik. Dit is goed vir die natuur. Totaal bio-afbreekbaar en dit mag maar saam met ons afvalwater in die gryswatertenk kom. Dit sal nie skade doen aan ons plante en groentetuin nie. Dit sal nie skade doen aan die natuur nie, nie aan die aarde waarvan ek deel is nie. Dit werk my allergië teë.

Dís hoekom ek julle van hulle wil vertel. Hulle is iemand om te ken!

Toortsie

Nalatenskap

Jetpack vra: What is the legacy you want to leave behind?

Watter nalatenskap wil ek agterlaat? Hoe wil ek hê my mense moet my onthou? Watter monumente het ek in my lewe gebou? Wat ‘n vraag!

Wel, my een groot nalatenskap is sekerlik my kinders en kleinkinders. En ja, ek ís trots op hulle. Ek is ook dankbaar vir hulle. En dankbaar vir my Here vir hulle. Hulle doen hulle ding, is selfstandig. Baie genade van die Here.

Mag my grootste nalatenskap wees dat ek die Here ken. Dat ek ‘n lewende verhouding met die Lewende God het. Mag dit sigbaar wees in my alledaagse lewe. Mag dit straal uit my wese, my oë. Ek skryf dit nou hier en ek is nie sommer skaam om my geloof te bely nie, maar mag dit sigbaar wees selfs al sê ek niks. Mag juis dít ander aanspoor om dit ook te soek.

En ná die vorige paragraaf, tel al die ander duisende goetertjies waarmee ek vroetel, al die kreatiwiteit, al my werk wat ek vir ons boerdery gedoen het, die speel met die plaaswerkers se kinders, die kosboeke, die musiek, eintlik niks.

Toortsie