Terwyl ek so lees van jou daar op die ashoop met die sere en alles wat sleg is wat met jou gebeur het en jou vriende wat dalk nie op die manier praat wat jy wil hoor nie, het ek dit op die hart om vandag dít vir jou te sê en sal jy my asseblief vergewe as ek ook verkeerde woorde praat. Want weet jy, ek het die manier om verkeerde woorde op die verkeerde tyd te sê. Om my verkeerd uit te druk. En dan, as ek besef ek het verkeerd gepraat of dat dit anders uitgekom het wat ek bedoel, probeer ek dit regmaak en dan voeter ek dit nog meer deurmekaar en mors ek dit nog meer op. En ai, Job, ek is mos ‘n prater wat heeltemal te veel praat en ek dink, ek weet, ek sou ook probeer woorde sê om dit vir jou makliker te maak. Woorde wat dalk as nutteloos afgemaak kan word.
Maar Job, my hart huil vir jou. Ek ken ook nie die antwoorde nie. Maar wat ek weet is dat God getrou is en dat Hy saam met jou in hierdie ongelooflike sleg tyd is. En dat Hy vir jou die krag sal gee om wel hierdeur te kom. Selfs al voel dit nie nou vir jou so nie. O, en Job, hoe vreemd dit sekerlik vir jou in hierdie situasie sal klink, weet ek dat God vir jou ongelooflik liefhet. Jy weet, dat Hy selfs saam met jou huil. Saam met jou swaarkry.
Job, vergewe my asseblief as ek in my poging om jou te ondersteun dalk verkeerde woorde sê. Want weet jy, eintlik wil ek sommer net hier langs jou sit en saam met jou treur oor hierdie verskriklike ding wat jou oorgekom het. Ag, en dan borrel die woorde soms sommer net uit voor ek gedink het. En weet jy, soms as ek eers gedink het, borrel die woorde selfs nog meer verkeerd uit!
Hoekom dit met jou gebeur het, weet ek regtig nie. Maar ek hoop dat my teenwoordigheid tog vir jou tot ondersteuning sal wees en dalk, eendag as jy terugdink hieraan, dit vir jou iets sou beteken. En dat jy God se genade sal ervaar.
Ek eksperimenteer met die sonoond en kom vertel nie elke keer nie. Wanneer ek wel kom vertel is dit omdat dit so lekker is om te vertel wat ek alles aanvang. En nie soseer om sonoonde te verkoop nie, ek kry nie kommissie nie! Dit gaan daaroor dat ek my eie Toortsieresepte toets in die sonoond en wil sien dat dit werk. Sodat ek kan sê: Toortsie se resepte werk in die sonoond, sien.
Ek het natuurlik die neiging om te veel goed gelyk te wil gaarmaak. Ook om nie die vleise altyd vooraf te ontdooi nie. Dit speel natuurlik alles ‘n rol in die sukses van jou kos.
Verlede Maandag het ek ‘n halwe skaapboud ingesit wat alreeds ontdooi was. Ek het die dag baie rondgehardloop, dus kan ek nie sê hoe lank nie. Dit was omtrent tien vm wat ek die boud ingesit het. Die oond se temperatuur het so tot by 120 grade C gestyg. Dit is natuurlik uiters belangrik dat jy ‘n swart pot of kastrol gebruik en dat die son direk op die pot se deksel skyn.
Die boud was lieflik! Ek het later die dag, omtrent so by 2 nm, ‘n klomp skaapvet in blokkies gesny en dit in ‘n oondplaat met ‘n oondplaat onderstebo bo-op gesit. Dit het onder die boud gestaan. (Ek dink die boud was so 3 nm reg. Teen 4 nm het hier ‘n donker wolk gekom en toe is die oond yskoud. Tog het die vet al heerlik uitgebraai, maar ek moes dit nog ‘n rukkie in die oond sit.
Gisteraand het ek 2 kg frikkadelle gemaak en vanoggend kwart oor 9 op pad kerk toe in die oondjie gedruk. Een namiddag het ek die heerlikste frikkadelle uit my oondjie gehaal en toe die kors van ‘n gebakte kaaskoek ingesit. Toe ons half 2 klaar geëet was, het die kors mooi gebak. Teen 2 nm het ek die kaaskoekvulsel ingegooi en dit bak nou. Die eindresultaat sal ons maar sien, want in die namiddag is dit altyd of die oondjie se temperatuur effens daal.
Nee wat, ek geniet my sonoond! En ja, Toortsie se resepte werk sowaar daarin. ‘n Mens moet maar net meer tyd toelaat as met ‘n gewone oond.
So iets het ek nog nie beleef nie! Toortsie se kreatiewe brein is heeltemal op hol en ek het nie ‘n idee hoe ons hom weer ingetoom gaan kry nie. En julle weet van perde en treine en osse en al daai derglike dinge, as hulle onbeheerst voorthol … maar nee, hier gaan NIE ‘n ongeluk kom nie, hoor jy? Nee!
Aan die een kant brei sy vir ‘n vale aan die outydse 1950 mansgholfhempie waaraan sy al sedert April verlede jaar brei en brei en brei en brei EN BREI! en dit voel of dit nie vorder nie. Maar skielik is die twee groot pante klaar en doen sy die moue en raai, nou gebeur dit vinnig. Daar is lig in die tonnel en dit wil net al hoe meer lyk of sy dit betyds gaan klaarkry voor Maart. As sy gelukkig is.
En dan is dit die bont skapies. Daai lap is nou sowaar heeltemal toe! Maar daar moet nog baie aan gedoen word. Skaduwees en dinge. En nee, sy trek wraggies nie nog een iets uit nie! Dit voel alreeds of sy daai lap drie maal oorgedoen het. Kan jy glo? Selfs daar is die einde van die tonnel sigbaar! Ook voor Maart moet dit klaar wees. Steeds voor Maart is die gehekelde rugsakkie vir ‘n kleuter. Die seekoeikop is darem al klaar, maar die sakkie moet nog gedoen word. In tapersseriehekelwerk …
Intussen oefen sy klassieke kitaar vir ‘n vale. Haar vingertjies frons net so af en toe vir haar. Want sien, sy moet haar dogter gaan help vir ‘n rukkie met haar musiekleerlinge. Kry gou in jou kop. Daai prentjie op die selfoon met sulke groot ogies. Ja! Oeeee maar ouma geniet dit, hoor!
En dan het Toortsie mos in ‘n oorbesige, oorwerkte ooomblik die wonderlike gedagte gekry van ‘n Banting Gewigsverlieskompetisie! Ai tog! Haar grootste vrees was dat daar net een persoon inskryf, want wie hou nou ‘n kompetisie met net een persoon? Dan eerder niemand inskryf nie. In haar hart hoop sy op drie inskrywings. As sy haarself goed strek, darem so vyf, maar sy moenie nou voorbarig wil staan en raak nie. Maar sjuut, julle moenie uitpraat nie … daardie verwagtinge is al verby gesteek, om die waarheid te sê, haar stoutste verwagtinge is oortref.
Toortsie geniet haar gate uit. Jy kan met haar toor. Eintlik ís sy getoor!
Want gister vra die orkesleier of sy nie môre eerder klavier wil speel nie, in plaas van kitaar? Natuurlik sê sy ja, hoe anders? Sy kry die liedjies en begin dit inoefen, maar haar kreatiewe brein, ek het mos gesê dis op galop … julle, haar kop is nou so vol note en vol verwerkings … ons sal nie daai trein gestop kry nie, kom ons hou maar net asem op!
Julle moet haar sien! Sy straal! ‘n Mens sou sweer sy is ‘n kat wat room gekry het!
Hierdie Banting Gewigsverlieskompetisie raak net al hoe opwindender by die dag! Hoor net hier: Mrs Martin’s Mikrobes wat die wonderlikste skoonmaakreeks het, bied ‘n Mrs Martin’s beginnerspak aan as prys! Die waarde daarvan is R800 en hulle sal dit self koerier na die wenner hiervan, wat die waarde van die prys R950 maak.
Maar dis nog nie al nie! Hulle bied ook ‘n kompetisie in die kleine aan vir hierdie selfde kompetisie. Hulle gaan ‘n gratis kaartjie skenk aan een van hulle kliënte (waarde R650). Noem dit nou besigheid, né?
Hoe werk mikrobes vir skoonmaak?
Mrs Martin’s skryf:
So onlangs as 150 jaar gelede het Joseph Lister eendag voorgestel dat dokters hulle hande moet was en instrumente moet steriliseer voor operasies. Die skoner teatertoestande het daartoe gelei dat prosedures oneindig suksesvoller was as voorheen. Skielik het mense verstaan hoe belangrik higiëne is. Vandag nog word gereelde was van hande ’n baie belangrike aspek van gesondbly gereken.
ALLE BAKTERIEË SKADELIK?
Maar êrens het ons alle bakterieë as ‘skadelik’ begin aanskou. Oormatige gebruik van anti-bakteriële middels uitwendig, en antibiotika inwendig, het wel aansteeklike siektes laat minder word, maar nou sit ons met allergieë en outo-immuunsiektes en wonder hoekom. Nuwe navorsing dui al hoe meer op hoe voordelig meeste bakterieë regtig is, en hoe kompleks jou verhouding met jou eie mikrobioom is.
WAT IS BAKTERIEË EINTLIK?
Bakterieë is eintlik mos eensellige fabrieke. Hulle gebruik die boustowwe wat hulle in hulle omgewing vind, om allerhande nuttige samestellings te vervaardig. Ons gebruik reeds bakterieë om goed soos antibiotika, vitamines, proteïene, inentings en ensieme vir ons te vervaardig.
Afval word ook baie doeltreffend deur bakterieë afgebreek. Wanneer ’n besoedelde area deur mikrobes herstel word, word dit bioremediëring genoem. Miskien het jy al gelees van groot olie-stortings soos die Exxon Valdez (wat 380 miljoen liter olie in die see gestort het), of die Deepwater Horizon boor (wat 800 miljoen liter olie gelek het). Omdat ru-olie ín die natuur voorkom en soms in die see inlek deur die seebodem, is daar reeds bakterieë in die see wat die koolwaterstowwe in ru-olie, kan verteer. Wat opruimwerkers moes doen, was om hierdie bakterieë se getalle groter te maak deur nog daarvan in die see te spuit. Dit word biologiese aanvulling genoem.
INHEEMSE BACILLUSBAKTERIEË
Hier in Suid-Afrika is daar al meer as ’n dekade gelede besef dat bakterieë wat behoort tot die bacillus genus, baie nuttig aangewend kan word. Bacillus bakterieë is staafvormige, aerobiese bakterieë wat spore vorm. Die spore is bestand teen hitte, koue, bestraling en uitdroging asook ontsmettingsmiddels. Dit beteken hulle is nuttig as aktiewe agente in skoonmaakmiddels.
Beide die beginsels van bioremediëring en biologiese aanvulling word ingespan. Kom ons dink aan ’n stortvloer. Die goeie bacillusbakterieë is klaar teenwoordig op jou stortvloer. Jy kan dit nie help nie en dit beteken nie jy is vuil nie. Hulle is daar omdat bakterieë oral is en omdat daar vir hulle kos is. In plaas daarvan om daarteen te stry en jou stort steriel te probeer kry (onmoontlik, want die lug is ook vol bakterieë; onnodig, want dis nie skadelik vir jou nie!), kan jy die beginsel van biologiese aanvulling toepas. Gebruik ’n skoonmaakmiddel wat die populasie aanvul!
Ek gebruik al ‘n geruime tyd Mrs Martin’s se mikrobes in my huis en dis regtig lieflike produkte. Baie dankie vir hierdie wonderlike prys. Ondersteun gerus hierdie borg.
Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.
Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.
Rita Oatway is ‘n skilder wat sowaar ‘n skildery aangebied het as prys vir die Banting/Keto Gewigsverlieskompetisie wat loop vanaf 1 Februarie tot 30 April 2022.
Ek is bly om te kan sê dat daar al heelwat inskrywings ingekom het en dat die mense vuur en vlam is om te begin. Ek glo dat die ondersteunende groep deelnemers vir mekaar goed sal wees en dat almal verryk sal word.
Rita sê:
Op 14 Februarie 2012 (ja, ‘n dekade gelede) is ek die eerste keer aan kuns voorgestel . My heerlike kunsreis het daardie warm dag afgeskop. Met meer entoesiasme as vaardigheid het ek nie alleen my passie gevind nie, maar dit daagliks begin uitleef. Ek kan as ‘n ‘late bloomer ‘ beskou word, want ek was al 55. Vandag is ek ‘n senior burger (hoe waardig klink dit nou skielik) met die opgewondenheid van ‘n kind. Elke dag is dit ek by die esel. Of by my werkstafel waar ek aan my journaalboeke werk. Saans skets ek, want ‘n skilder moet skets, glo ek.
Die wenner van ‘n skildery van Rita Oatway mag kies uit hierdie twee, of, as jy nie hiervan hou nie en jy kan na haar toe gaan, selfs ‘n ander een. Maar verkieslik een van hierdie:
Blomme collage en akriel op canvas. 60cm (h) x 42 (b).Weskushuisie. Olie op canvas . 46cm (h) x 41cm (b)
Is dit nie ongelooflik mooi nie? As jy nog van Rita Oatway se pragtige skilderye wil loer, kontak haar gerus by 079 497 6931
En wyn! Wie hou nie van ‘n glasie wyn nie? Die goeie nuus is dat Rooiberg Kelders daar in die Robertson area vir een van die deelnemers ‘n wynboksie gaan skenk. Is dit nie tog te lekker nie? Loer gerus op hulle webblad watter lieflike wyne hulle alles het.
Baie dankie vir hierdie twee borge! Ons ander? Kom ons ondersteun hulle!
Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.
Toortsie
Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.