Vyf ure

Angus Buchan sê dat hy by een of ander Geestelike leier geleer het dat hy vyf ure per dag in God se teenwoordigheid moet deurbring. Ek neem aan, deur stiltetyd. Hy sê, deur Bybel te lees en te bid. Daarvoor staan hy soggens baie vroeg op om dit te doen voor hy met sy dagtaak begin. Terloops, ek het die Uncle Angus toep op my foon afgelaai. Daar kan ek kies tussen al die verskillende tipes lesings wat hy gee. Ek volg tans die Revival Train. Sjoe! dis kosbaar!

Vyf ure per dag stiltetyd. Sjoe! Dis iets om na te streef. Ek weet nie of ek dit sommer sal regkry nie. En terwyl ek dit dink en tik, besef ek: Wat ‘n klap in die Here se gesig! Wat ‘n belediging eintlik. Ek kan vir ure en ure op ‘n dag orrel oefen. En as ek dink hoe wonderlik, bevredigend, leersaam my stiltetyd is, hoekom kan ek dit nie langer doen nie? Maar vyf ure? (Terloops, ek verwag dat Hy 24 ure per dag my beskerm!)

Eers bid ek vanoggend dat mense meer tyd in God se teenwoordigheid sal spandeer. Ek lees daarná in my Bybel waar my merk is. Lukas 18:35 tot 43 gaan oor die blinde man by Jerigo. Toe hy hoor dat dit Jesus is wat daar verbygaan, roep hy om hulp. Die skare maak hom stil, maar hy roep harder totdat Jesus stop en hom help. Net daarná, in Lukas 19 vers 1 tot 9 is dit weer Saggeus wat so klein is en in ‘n boom klim om vir Jesus te kan sien. Die Bybellennium sê dat dit eintlik vernederend was vir iemand van sy statuur om in ‘n boom te klim.

Twee mense wat só vir Jesus soek, só ‘n behoefte aan Hom het dat hulle teen die skare se versoek dat hy moet stilbly, aanhou roep, of teen hulle waardigheid in, iets onwaardigs doen net om Hom te sien.

En Jesus, wat hoor en sien as mense na Hom soek. En reageer. En nie stilbly nie. En stop. En raaksien. En doen. En meer gee as waarvoor hulle Hom vra. Ek kan ook dit van Hom getuig uit persoonlike ervaring. Dis my Jesus, daardie!

Maar vyf ure? Ek het nog ver om te gaan.

Toortsie

(Naskrif … die vyf ure was ‘n asnbeveling vir oom Angus wat ‘n prediker wou word. Ek dink darem nie dis ‘n reël nie.)

Toe val Lig

Iemand het my genooi na ‘n damestee van een of ander kerk, nie ons eie denominasie nie, en ek gaan toe. Eers sing ons.

Daarná praat die pastoor se vrou en vertel van wonderwerke wat God in hulle lewens gebeur het en steeds gebeur. Daarná was die pastoor aan die woord. Baie interessant. Baie inligting. Mens moet luister en kophou met wat hy alles sê. Iewers sê hy iets en die Bybelvers gaan deur my kop dat dieselfde krag wat Christus uit die dood laat opstaan het, ook in my is.

Daarná praat nog ‘n vrou en sy sê daardie selfde vers in woorde. Onthou, die Pastoor het dit nié gesé nie, ek het dit net gedink. Toe sy klaar is, is die sprekers klaar en mense kan nog tee drink as hulle wil. Ek maak reg om te gaan.

Ons het by tafels gesit. Net agter my sit vreemde mense. Die vrou wat skuins agter my sit, vat aan my arm. Ek het haar in my lewe nog nooit gesien nie. Sy vra wat my naam is. Ek sê vir haar. Sy sê dat sy die vorige nag van my gedroom het. Sy sê dat sy eers nie heeltemal seker was of dit ek is nie. In haar droom het ek ‘n rooi pak klere aangehad. (Op ‘n stadium het ek daardie rooi throw wat ek so graag dra, om my gedraai. Dit was vir my vreemd dat ek so koud gekry het terwyl die meeste mense redelik lig aangetrek was.) Toe ek die rooi om my het, was sy baie seker dat dit ek was. Sy sê dat ek in die droom baie lank was. Ek sê, maar ek ís baie lank. Ek is eintlik lewenslank. Het sy al gesien hoe lank ek is? Ek staan op. Sy staan ook op. Haar kop kom so by my skouer. Sy lag en haak by my in. Sy sê sy het by my ingehaak en vir my gesê: ‘Dieselfde krag wat Christus uit die dood laat opstaan het, is in jou.’
Ek sê vir haar: ‘Besef jy dat ek dit nou in ‘n uur se tyd al die derde keer hoor?’ Sy sê dat daar in die droom ‘n baie bekende, ou Pastoor gestap het. Nadat sy vir my dit gesê het, het hy ongedraai, geglimlag, sy kop instemmend geknik en gesê: Mmm Mmmmm.
Dit was ongelooflik! Ek was sommer in trane!
Ek sê altyd as God Homself begin herhaal, moet ek luister. (My vriendin sê, as God met haar begin Engels praat…)
Maar die storie het nog meer om die lyf.
Ek sê altyd dat dit nie nodig is dat God ‘n engel sigbaar maak vir my nie. Ek glo in Hom en ek glo dat engele bestaan en in God se diens is en baie keer bid ek dat Hy engele sal stuur vir beskerming. Dan weet ek hulle is daar sonder dat ek hulle hoef te sien.
Ons bybelstudiegroep is al heel jaar besig met Daniël. Nadat die engel al ‘n paar keer aan Daniël verskyn, meestal met ‘n boodskap, vra ek vir God dat, as dit Sy wil is, ‘n engel dalk vir my ook sigbaar moet word. Hoekom, weet ek nie, maar dit sal nice wees. So een wat ‘n boodskap bring of hoe Hy dit ookal wil. Toe stuur Hy vir my ‘n boodskap! Hy is groot. En Hy maak Hom baie duidelik sigbaar sodat ons vir geen oomblik twyfel of dit Hy was of net ons verbeelding nie!

Nou die dag vra iemand my: Bewys my dat jou God bestaan. Ek kan nie. Net Hy kan.

Toortsie

En, net as jy wonder… ek dink, as jy in ons dorp vra wie ‘n lang, gryskop krulkop vrou is wat rooi dra …

Perfeksie

Ons lewe lank word ons gedruk tot ‘perfeksie’. Of, moet ek eerder sê, wat die wêreld as ‘perfek’ beskou. Ons hardloop ons beentjies kort, ons werk ons vingers stomp, ons sit ure en ure en ure in net om perfek te wees. En kry dit die meeste van die tyd nie reg nie. Dit maak ons moeg. Dit versteur die rus in ons siel. Dit veroorsaak dat ons voel dat ons nie inpas nie, dat ons nie goed genoeg is nie. Want ons maak dit net nie. Want ons kan doen wat ons wil, daar sal altyd iemand beter, meer perfek wees as ons heel beste pogings.

Iewers in my lewe het ek begin wegbreek daarvan. Ja, ek probeer steeds ‘my’ beste doen, maar dit pas glad nie meer in in die ‘perfekte’ boksie nie. Dalk is my persoonlikheid so en het dit veroorsaak dat ek wegbreek. Dalk was dit net omdat ek al so MOEG was om MY BES te probeer en dit net NOOIT goed genoeg was nie. Ek was rondom 45 toe ek daardie keuse gemaak het. Solank ek niemand anders skade doen nie, volg ek my eie kop en laat my eie kreatiwiteit toe om te ontwikkel.

Dít is ‘n moeilike pad. ‘n Stroomop pad. Een vol slaggate. Een wat jy foute maak. Dinge oor en oor doen totdat jou hart en jou siel sê dat jy nou tevrede is. Een van die beste besluite wat ek ooit kon doen. Want, as ek dit nie gedoen het nie, sou ek nooit begin blog het nie (ek sal nooit vergeet dat my seun vir my gesê het dat ek juis dit moet skryf wat die ander nie skryf nie, so dankbaar vir hom.) Sou ek nooit resepteboeke uitgegee het nie (die persoon wat my goed redigeer moes ook aan die gedagte gewoond raak dat ek resepte en metodes van kook uit ‘n heel ander hoek benader.) Sou my musikaliteit nie so ontwikkel het soos dit het nie (vir 25 jaar het ek geen klassieke musiek gespeel nie, maar musiek gemaak soos wat my hart dit wil hê.) Sou ek nooit borduur het vir die VLV nie (selfs die beoordelaars begin nou gewoond raak aan my bont borduursels! My vriendin wat my help met my borduurwerk, sy borduur fantasties, het ook noual vrede gemaak dat daar by my altyd ‘iets anders’ op my borduurstukke sal wees, selfs al is dit binne die reëls.) Sou ek nie die bontste bond sjaals gehekel het nie (hoe sê ‘n vriendin? Ag, dis net Madelé ❤ ) My Rustle of Spring klink nie na ‘n lentegeritsel nie, maar eerder na Bredasdorp se November stormwinde.

Ek sien vandag ‘n hekelkursus met die mooiste goed. Die vrou sê: Uit ONPERFEKSIE skep sy die mooiste goed! Pretty Yenda se musiekdosent het vir haar gesê jy kan perfek musiek maak en dan is dit net perfek, of dalk nie só perfek nie, maar die harte van mense aanraak.

My onperfeksie maak mense moeg. Ek weet. Ek is regtig jammer daaroor, maar as jy eers oor die perfekte lyn getrap het en jou hart begin volg, draai jy vreeslik moeilik terug.

Hê ‘n mooi dag.

Toortsie

Oudword is nie vir sissies nie

What bothers you and why?

Jetpack vra: Wat pla my en hoekom?

Net gister het ek gesê: “Daar is ‘n massiewe verskil tussen 59 jaar en 350 dae en 60.

Nog nooit het ‘n jaargetal so by my gespook nie. Ek kon nog nooit verstaan as mense dit nie kan verwerk dat hulle 40!, 50! is nie. Dis mos net nog ‘n jaar? Die verloop van die lewe, of hoe?

Ek het die weke voor ek sestig geword het, uitgesien daarna: Ek sal bejaardheid wys … tot ek dit getref het. ‘Don’t let the old girl in!’ Ek probeer hard, maar sy smokkel met my kop.

Want sien, ek is ook realisties.

Daar is ‘n groot verskil van trek van een plaas na ‘n ander terwyl jy jonk is en julle uitbrei of dit ‘n verbetering is of wat ook al. Om plaashuis leeg te maak omdat jy begin afskaal, is ‘n ander storie.

Om as jy 40 is te besluit om nie meer klassieke musiek te speel op die klavier nie bloot omdat jy nie tyd kry vir oefen nie, is ‘n ander storie as wanneer jou stem regtig yl begin raak en jy skielik besef dat jy eintlik nie meer so mooi sing soos jy gedink het nie.

Om op 30 so twee vlakke laer as waar jy gaan draai het mer jou klavier, weer te begin en die stukkies in ‘n maand of drie aan te leer … teenoor om dit op sestig weer te probeer. Nie dieselfde nie.

Die wete dat jy stadiger begin raak. Dat jy vandag ‘n musiekstuk foutloos speel net om môre in die middel van dieselfde stuk skielik nie ‘n idee het hoe dit moet klink of waar die note lê nie … om dit oormôre weer reg te speel. Nie vir sissies nie, hoor jy?

Om die berg die een dag soos ‘n klipbok uit te draf en dieselfde bergpaadjie net ‘n week later nie einde het nie.

Realiteite. Wat. Moet. Verwerk. Word.

Maar soveel ander voor my het dit reggekry en vrolik voortgeleef. Kyk nou net die blymoedige tannie Hannah wat Saterdag 100 word! Wat kar bestuur het tot op 95.

Daar’s hoop! Selfs vir sissies soos ek! Wag! Waar’s my orrelboeke!? Laat ek loop oefen! Baai! Sien julle. Love you!

Toortsie

Blog-adres verander

Daar was ‘n satdium wat dit vir my baie nodig was om ‘n baie maklike blogadres te hê. Dit was toe ek begin resepteboeke verkoop en my blog deel van my bemarking was. Toortsie.com was net soveel eenvoudiger as toortsie.wordpress.com.

Ek het ook gehoop om ‘n paar dollars te verdien. Nou ja, hierdie Afrikaanse blog het een keer $100 gekry, maar jaarliks baie meer as dit betaal. Hierdie $100 het oor jare gegroei totdat dit genoeg was om uit te betaal. Die punte word bereken deur hoeveel mense op jou blog kliek, eintlik die ander advertensies raaksien wat op jou blog is. Die probleem is, klieke in sekere lande kry baie meer gewig, en daardie sekere lande is hoofsaaklik Amerika. Nou ja, met ‘n Afrikaanse blog … selfs al is daar al heelwat Afrikaanssprekendes ook in Amerika!

Ek het my blogadres terugverander na toortsie.wordpress.com. Ek skryf deesdae net te min. Nou moet ek bysê, ek het steeds ‘n betaalde blog. Want hier is soveel inhoud. Oor baie jare is hier baie geskryf! So, die bietjie wat ek spaar deur die toortsie.com te verander na toortsie.wordpress.com is minimaal.

Onthou om my in die toekoms by toortsie.wordpress.com te soek.

Groete!

Toortsie