In ons humanistiese bestel het me, myself and I die allerbelangrikste geword. Wat EK wil hê sal ek voor baklei al kos dit WAT.
Al beteken dat ek dit wat die ANDER PERSOON wil hê in die gruis in vertrap. Of dat ek teen die ander persoon se geloof gaan en dus sê dat, as die ander persoon glo wat in die Bybel staan nie ooreenkom met wat ek WIL HÊ nie, hy maar moet hoes. Is hy verkeerd.
Ek wonder soms: Gaan menseregte regtig net oor MY, MY WIL, MY BEHOEFTES? Beteken menseregte dat ander hulleself agteroor moet buig, selfs tot hulle val net om MY behoeftes te bevredig? Dat die ander persoon my behoeftes moet eerbiedig, maar ek op GEEN MANIER die ander persoon s’n hoef te eerbiedig nie?
Dit voel soms vir my asof drukgroepe werk maak daarvan om die Christelike geloof en dit wat in die Bybel staan, al hoe meer direk aan te val. Asof ons howe nie meer die mag of die reg het om dit teen te staan nie. Ja, ek is outyds, ek weet, maar ek glo nog steeds met my hele hart wat in die Bybel staan. Om die waarheid te sê, ek glo dit meer as ooit. En ja, ek maak elke liewe dag foute, maar probeer om al hoe meer te lewe soos wat God in Sy Woord vereis. Want ek het in my lewe gesien dat dit vrugte afwerp. Want Hy IS in beheer, of ons dit wil erken of nie.
As ek ‘n byvoorbeeld ‘n Christelike geleentheid wil aanbied, gaan ek nie aandring daarop om dit in ‘n plek te hou waar dit teen daardie organisasie se geloof is nie. Ek gaan eerder ‘n plek soek waar ek as Christen welkom is om my geloof uit te leef. Ek gaan nie hof toe gaan en miljoene rande eis net omdat ‘n sekere plek nie my Christelike waardes vir my Christelike geleentheid wil aanvaar nie. In ons land is hier GENOEG plekke waar ek dit steeds kan doen. Sonder om met ‘n klomp ander daaroor te baklei.
Mag ons as Christene dan nie ook dít van ander vra nie? Dat hulle ook óns geloofsoortuigings sal eerbiedig nie? Hier is in ons land genoeg sonskyn, genoeg plekkies in die son vir elkeen en genoeg plekke wat vir ons in ons spesifieke behoeftes sal akkommodeer. Ongeag wat ons behoefte ookal mag wees.
Toortsie
