Elke jaar tydens die lydenstyd vas ek alle drinkgoed, behalwe natuurlik water. Geen koeldrank. Geen wyn. Geen tee of koffie. Net water. Ek doen dit in herinnering aan my Here wat so swaargekry het en ek moet sê, die bietjie ongerief wat ek verduur hiermee is nie ‘n druppel in die emmer van wat Hy moes verduur nie. Eintlik raak dit tyd dat ek my vas ‘n bietjie moet aanpas, want ‘n mens raak gewoond aan iets en dit raak makliker.
Ek let altyd met meer gespitste ore op as God Homself begin herhaal. Dan weet ek dat daar vir my ‘n boodskap in is en ek moet hoor wat Hy sê. Spesifiek hoor.
Die laaste tyd is wat ek hoor: Jesus. As my man vir ons saans uit die Bybel en dagstukkieboek lees, lê die klem aand vir aand op Jesus. Op wie Hy is. Dat Hy die hoof van die kerk, wat Sy liggaam is, is. Dat Hy die begin en die einde is. Die Een wat uit die dood opgestaan het. Wat die dood oorwin het. As ek voorberei vir die Dienssentrum bybelstudiegroep uit Kolossense, hoor ek net Jesus, Jesus, Jesus. Dat Hy is wie Hy is. Dat Christus ons hoop op die heerlikheid is. Dat ons met Hom versoen is en dat Hy ons, deur Sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor God kan stel … mits ons in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig en nie sal wegbeweeg van die hoop wat die Evangelie bring nie (Kol 1:23). Werk ek deur Openbaring, is die refrein maar weer daar … Jesus, Jesus, Jesus. Hy is die Een wat waardig is om die boekrol oop te maak. Ons moet dit nooit vergeet nie. Ons moenie lou raak nie. Afdwaal nie.
Terwyl ek die water so drink voel ek hoe my liggaam gereinig word van al daardie gifstowwe wat ek tog maar inneem. Ek drink wel gewoonlik die dieetkola wat 100% gif is en noudat ek net water drink, kan ek die verskil duidelik voel.
Strome lewende water sal deur jou binneste vloei … en jou reinig van alle ongeregtigheid …
Toortsie