Skattejag

Hierdie idee het ek by ‘n vriendin gekry, toegepas en dink dat dit ‘n vervolgverhaal gaan word.

Kleingoed kuier by oupa en ouma. Ouma moet plannetjies maak om kleingoed besig te hou. Toe gaan haal ouma ‘n kleine skatkis en skryf ‘n klompie briefies daarin. Nommer die briefies van een af aan.

Die kinders maak beurte om die briefies te lees. Eers gaan soek ons die oupa- en ouma grootjie. Ons volg die instruksies presies. Ry tot by … (dan soek ons die punt) . Draai regs. Ry tot by ‘n vulstasie op regs. Draai links. Stop langs die pad. Koop blomme.

So gaan soek ons in die begraafplaas die oupa en ouma se graf en sit blomme neer. Ons volg die instruksies tot by die veearts, die koöperasie. By die silo’s is die oom so oulik en gaan wys vir ons waar die graan afgelaai word, die kontrolekamer, vertel dat hier 100 silo-buise is, wys die lang silosakke vol graan. Daarná neem die instruksies op die briefies ons na ‘n skrynwerker. By Kapula kerse sien ons die mooiste kerse en koppies wat dieselfde patrone ophet. Die ‘hear no evil, see no evil, speak no evil’ uile is beslis ‘n hoogtepunt. En die goudvisse in die dam ‘n bonus waarop ouma nie gereken het nie. Die volgende briefie neem ons tot by ‘n restaurant met ‘n speelplek, net betyds vir middagete. Daarná lei die instruksies ons tot by die plek waar ons al ons herwinningsvulles moet afgee. Daarná verby die brandweerstasie met nóg ‘n lekker instruksie: soek die helikopter!

Toortsie

Ongelukkig haal die tyd ons in terwyl daar nog ‘n hele klomp briefies in die skatkis is. Die lekker daarvan? Volgende keer kan ons voortgaan en sommer nog baie skatte soek en wie weet, dalk het daar dan sommer nog ‘n klomp nuwe briefies ingekom. Ons moet net onthou waar ons laas gestop het, anders gaan ons verdwaal! (Dit was by die polisie op links.)

Ontworteldes

Dis of ek tans net ekstra bewus is van ontworteldes wêreldwyd. Ja, dis sekerlik te verstand, daar heers ‘n oorlog. Maar ek kyk nie nuus nie en hoor net soms die radio. Tog pla dit my.

Die ding is, die oorlog is mos daar ver. Hoe kan dit my raak? Ja, die brandstofpryse skiet die hoogtes in. Dit veroorsaak kosinflasie en mens hoor van sekere produkte wat eenvoudig gaan opraak, want … En kyk ek dan toevallig tog ‘n stukkie TV-nuus dan sien ek ontwortelde Ukraïeners wat te voet vlug. Ek sien ‘n video van ‘n absoluut briljante pianis wat vir oulaas op haar lieflike vleuelklavier speel terwyl iemand anders haar stukkendgeskiete huis afneem. Ek sien ‘n goed opgevoede vrou met haar wieletjiestas te voet oor die grens kom. Ek sien vroue en kinders net soos ons.

In die week was ek toevallig in ‘n winkelsentrum en hoor die gesprek toe ‘n skoonmaker haar ma bel. “Mammie, ek weet nie hoe ek vanmiddag by die huis kan kom nie.” Taxi’s en busse word geblok of sommer afgebrand in die Kaap. Hulle moes werk toe stap. Ek sien die angs op die drie gesiggies en sê dat ek die gesprek gehoor het en dat ek bid dat hulle veilig sal wees. “Mevrou, dis erg.” Die gedagte bly my heeltyd by dat ons nie altyd besef watter opofferings sommige mense moet maak om vir my tot diens te wees nie, om ‘n lewe te maak nie.

Die ontworteldes. Soos wat ek nou hier sit en tik is hier sommer baie naby aan my rye en rye uitlanders wat ontwortel is. Wat uit hulle huise verdryf is. Vyf minute se ry van my af. Dis hartverskeurend.

Almal mense. Gewone mense soos ek en jy. Party van diegene wat ek hier noem, gegoede, opgevoede, opgeleides. Ander dalk minder gelukkig. Maar almal is mense en as jy nie vandag in een van daardie rye staan nie, is jy een van die gelukkiges. Daar is geen waarborge nie. Vir niemand nie.

Mag ons en hulle in die lang rye veilig wees. Mag ons met sagte oë na hulle kyk. Mag dit ons gespaar bly.

Toortsie

Oop

Oop

Hier is sy nou op pad. Terug. Haar goed is ingepak. Haar huis verkoop. Sy kan nie glo dat alles so vinnig gebeur het nie, sy staan eintlik verstom. Amper net so vinnig soos destyds, maar hierdie keer asof in tru-rat. 

Daardie dag het sy gedink: nooit weer nie. Nooit weer sal sy haar voete op ‘n plaas sit nie. Nooit weer sal sy die platteland besoek nie. Sy het die stof letterlik van haar skoene afgeskud, haar hart finaal gesluit vir alles wat die platteland verteenwoordig. Veral vir die mense. Die plattelandse mense wat nie hulle neuse uit ander se sake kan hou nie. Mense wat beter as jyself weet wat met jou aangaan. Bemoeisieke mense. Wat graag ‘n storietjie oorvertel en stertjies aanlas.

Hoe lank het almal al geweet dat Koos haar verkul terwyl sy onbewus was daarvan? Dit, terwyl hulle op troue gestaan het? Hoe het hulle haar nie agter die hand beskinder, maar kamtig vriendelik voor haar gewees nie? Haar vernedering was hulle plesier. Nee, sy wou nooit, ooit weer iets met enige van hulle te doen hê nie. 

Hoe goed het alles nie toe uitgewerk nie. Jaap du Randt, die buurman, het haar erfgrond behoorlik opgeraap toe hy hoor dat sy dit wou verkoop. Hy kon sy geluk nie glo nie. Sy kon vir haar ‘n pragtige huis in ‘n luukse kompleks in die stad koop. Daar was nog genoeg fondse oor wat sy kon belê ook. Hoe gelukkig was sy nie om dadelik ‘n goeie pos by ‘n ouditeursfirma te kry nie. In hierdie afgelope agt jaar het sy haarself oor en oor bewys en is sy bevorder tot ‘n senior rekenmeester in die maatskappy. 

Sy verdien ‘n goeie salaris. ‘n Baie goeie een om die waarheid te sê, en sy kan al die luukshede bekostig waarvoor daar nooit op die plaas geld was nie. Elke moontlike sent is deur die plaas opgeslurp. Hulle het nie armoedig geleef nie, inteendeel. Tog moes hulle maar altyd versigtig met hulle geld omgaan, want hulle was afhanklik van die natuur. Geld oorlos vir die maer jare wanneer die droogte ongenadiglik kom en alles wat voorkom verslind. Uitmergelend. Jou stroop totdat daar niks oor is nie. 

Sy het vir haar ‘n goeie lewe in die stad gebou. Sy het haar totaal verdrink in haar werk sodat sy so min as moontlik met ander mense te doen kon kry. Sy het geen vriende gehad nie – nie by die werk nie, ook nie in haar vrye tyd nie. Sy sou haarself nie weer blootstel aan mense wat haar verneder, manipuleer of belieg nie. Wat voorgee dat hulle haar liefhet terwyl dit eintlik net haar besittings is wat hulle begeer nie.

Sy het graag in die luuksste winkelsentrums rondgeloop. Haar klere in boetieks gekoop. Hare en naels deur kundiges laat doen. Haar huis was met net die beste gemeubeleer en toegerus. Kristal. Silwer. Persiese matte. Sy het onthou wat haar ma haar geleer het en haar studies herbevestig het: Tien persent moes sy spaar vir die wis en die onwis. ‘n Verdere tien persent moes belê word in die buiteland of in aandele. Soos die ou man op die plaas gesê het, lammerooie wat jy nooit slag nie. Beleggings wat moes groei oor jare waaraan jy nie raak nie. En hèt haar beleggings nie gegroei oor hierdie tyd nie! Eksponensieel gegroei. Sy kan met trots sê dat sy ‘n vermoënde vrou is. Eerstens danksy haar erfporsie, maar ook omdat sy self mooi gekyk het na haar geld. Slim gewerk het daarmee. Tog was daar genoeg oor wat sy voluit kon geniet.

Haar ma het egter ook altyd gepraat van die derde tiende. Die tiende vir die kerk. Sy moet erken dat sy dít totaal afgeskeep het. Om die waarheid te sê het sy nooit ‘n kerk besoek in hierdie hele tyd wat sy in die stad gewoon het nie. Sy het haar eenvoudig totaal afgesluit van enige iemand, amper ook van God.

Hier is sy nou sowaar op pad terug. Terug na daardie presiese wêreld waarop sy haar rug gekeer het. Wie sou dit ooit kon voorspel? Dat haar lewe in ‘n kwessie van ‘n week só kon verander!

Sy het die dag nog doodstil in haar kantoor sit en werk, besig met ‘n ingewikkelde kwessie by een van haar kliënte. Sy moes regtig konsentreer en het gesteurd opgekyk toe daar ‘n ligte klop aan haar deur was. Daar, in die deur het Jaap gestaan. Jaap du Randt. 

Toe sy hom daar voor haar sien staan, het alles verkrummel. Al die mure wat sy om haarself gebou het. Want Jaap verteenwoordig haar verlede. Haar kinderdae. Dit was soos ‘n wal wat in haar breek en die herinneringe het in haar hart ingestroom. Haar gedagtes totaal oorgeneem. Sy kon dit nie verhelp nie, dit het net gekom en gekom. 

Hier voor haar het haar eertyse vriend lewensgroot gestaan. Hy het haar so aan haar pa laat dink en hulle lewe op die plaas. In sy stil, nederige houding kon sy sekerheid sien. Rustigheid. Vrede in sy hart. Iemand wat weet wie hy is sonder enige fieterjasies. Geaard, met sy voete plat op die grond. Haar beste maat vandat sy kan onthou, totdat sy die dag van die plaas af weg is en haar rug op alles en almal gekeer het. Sedertdien het sy nie weer met hom kontak gehad nie. Eintlik het hulle alreeds van mekaar begin vervreem toe sy die dag met Koos op die plaas opgedaag het. 

Hulle was altyd saam. Saam het hulle help skape aanjaag en tussen die wolbale gespeel wanneer daar geskeer word. Saam het hulle leer ponie ry. Saans as die koeie gemelk is, het hulle saam met die plaaskinders in die koeistal gespeel. Dit was vir hulle tè lekker om met hulle kaalvoete in die warm koeimis te trap. Wegkruipertjie gespeel in haar ma se mooi tuin. Saam het hulle die skaap se pote vasgehou as dit geslag is. Hulle het meestal saam met haar pa rondgery op die plaas, nie eintlik saam met sy pa nie. Ag, en as haar pa-hulle die dag die skape in die duinegrond gaan versorg het, kon niks hulle terughou nie. Saam moes hulle gaan. Sy was altyd so angstig as hulle vasgeval het in die sand, maar Jaap het altyd haar pa gehelp om die bakkie se wiele weer los te grawe. Dan het hulle ‘n streepsak onder die wiel ingeskuif en het haar pa agteruit gery en het die bakkie los gekom. Natuurlik altyd met ‘n vreeslike stofwolk. Sy glo nou nog dat hulle soms sommer aspris vasgeval het, net om te kyk of hulle weer kan loskom! En later in hulle tienerjare, het sy en Jaap altyd saam na al die motorhuispartytjies gegaan. Nie as ‘n paartjie nie, maar eerder as twee lekker maats wat die saamwees sommer net geniet. 

Almal het altyd gedink dat hulle twee sou trou en was baie verbaas toe sy en Koos verloof geraak het. Tóé het hulle al geskinder. Maar nee, iewers het Koos haar anders laat besluit. ‘n Mens trou tog nie met jou beste maat van al die jare nie! Maar, wat ‘n dom besluit was dit nie! Sy kon haarself soveel verdriet gespaar het. Haar ma hét haar gewaarsku, maar sy was jonk en slim. Tè slim en toe vang slim sy baas voordat sy nog kon keer! En is sy kop tussen die bene daar weg. Alles het in so ‘n kort tydjie gebeur – eers haar ouers se dood in ‘n gru-ongeluk. Toe, Koos se verraad. Sy moes net daar wegkom. Hoe gouer, hoe beter. 

“Anna-Sofie,” het Jaap in sy sagte stem gesê toe hy daar in haar kantoor se deur gestaan het.

“Jaap?”, het sy geantwoord. “Wat maak jy hier?”

“Ek het jou kom haal.”

“Hoe nou? Sommer net so? Kom haal?”

“Ja, ek kom jou haal. Terug na jou plek toe.”

“Jaap?”

“Terug na my toe. Soos dit nog altyd moes gewees het.”

“Jaap? Ek kan nie? Ek het te veel verander. Ek sien nie meer kans vir die platteland en sy mense nie.”

“Nee, Anna-Sofie. Jy het nie verander nie. Jy is steeds die mens wat lief is vir mense. Jy het net hier in die stad kom wegkruip omdat jy nie geweet het wat jy anders kon doen nie. Omdat jy skaam was. Kom terug. Dis tyd. Jy het nou lank genoeg weggekruip. Ek het lank genoeg gewag vir jou.”

“Maar jy het dan my plaas gekoop. Waarheen moet ek teruggaan?”

“Ek het jou plaas vir jou gekoop. Om dit vir jou te beskerm en te behou. Sodat niemand anders dit onder jou kan uitkoop nie. Jy kan terugkom daarheen. Jy kan sê wat jy daar wil doen. Jy wou nog altyd ‘n gastehuis gehad het, mense onthaal. Jy kan die plaaswerf kry en daarmee maak wat jy graag wil terwyl ek steeds die plaas bewerk.”

Ja, hier is sy nou op pad terug. Terug na haar wêreld. Terug na haar mense. Sy besef dít wat sy so lank wou wegredeneer: Haar wêreld is ‘n oop wêreld. Oop om seëninge te ontvang én uit te deel. Dis mense met oop harte. En ja, hulle praat baie van mekaar, hulle skinder, maar eintlik is hulle omgeemense. Want platterlanders kyk na mekaar, dis hulle behoud. Hulle is mense met oop deure waar almal enige tyd welkom is. 

Jaap het vir haar haar ouers se huis gegee om in te woon. Sy gaan dit inrig en bedryf as ‘n gastehuis. Maar dit sal nie te lank wees nie, want ook haar hart is oop. Oop vir haar mense. Oop vir liefde. Oop vir Jaap om sy plek in haar hart vir ewig te kom opeis. Soos dit van die begin af bestem was. Saam met hom sal sy ook weer kerk toe gaan. Ook daar was haar plekkie heeltemal te lank oop. En met haar God sal sy weer tyd spandeer. Daardie deur was ook nog altyd wawyd oop. 

(Kortverhaal soos vir Ink se Oop projek)

Een vir een daag hulle op

Ná ‘n lang en besige tyd begin die Goue Vroue weer een vir een terugkeer Rebusfontein toe. Dalk om die batterye te laai, dalk nie. Wie weet? Volg hulle terugkeer HIER.

…………………..

Een vir een daag die Goue Vroue op by Rebusfontein. Ons was lank laas hier. Om die waarheid te sê, nog nie in hierdie jaar nie. Eintlik is die Goue Vroue regtig stil, selfs op hulle whattsapp-groep. Almal is besig. Té besig.

Ek lees dat Frannie gaan isoleer het op Rebusfontein nadat die groot C haar ook ‘n rukkie in sy kloue gehad het. Seegogga is ook daar ná haar lekker Italiaanse partytjie. Jong! Dit was heerlik, ek was mos daar. Ek en Aalsie ook. Jy moet kyk daar tussen Seegogga se foto’s, ons was daar! Heerlik gedans. Sjoe, daai Italiaanse sanger het sy ding gedoen, hoor! Om alles te kroon het Seegogga vrugtekoek gebak. Julle, my bantinghart sal dit beslis nie kan weerstaan nie. En Danie, Una se hond, loop blykbaar met ‘n sonbril op. As ek dit reg verstaan, dink hy dat ons hom nie raaksien nie. Una is ook daar.

Nou ja, soos ek reeds geskryf het, is my stadspitsverkeertyd amper verby. Dit sou eintlik al oor wees, maar ‘n simpel C-voorvalletjie het veroorsaak dat dit ‘n week aangeskuif het. Waaroor ek natuurlik op die ou end bly was, want ek kon die week net ietwat rustiger by die huis bly. ‘n Bietjie dingetjies afhandel, maar in ‘low gear’.

Ek sien regtig daarna uit om ‘n rustige tydjie op Rebusfontein te gaan hê. Maar ja, ek moet bysê, rustig bly nie lank rustig daar nie. As daar meer van die Goues opdaag … wel … ‘n mens weet mos nooit wat kan gebeur nie!

Ek het myself in ‘n besering ingeoefen verlede week met die kerkorrel. Die ding nou weer heeltemal oordoen. Dis nou as jy vir amper dertig jaar nooit ‘n ding doen nie en dan skielik weer begin. Uitgehonger, dis die woord! Elke dag een tot twee ure gaan oefen en ‘n ondraaglike pyn in die nek ontwikkel. Ja, dalk is ek die pyn in die nek, maar sjoe, was dit erg. Spasma in ‘n erge graad. Ek doen my rug- en nekoefeninge wat ook agterweë gebly het, maar tevergeefs. Sal ek sowaar hoor dat die probleem by my … BRIL … lê. Kan jy nou meer! Want ek dra ‘n multifokale bril en die ‘leesgedeelte’ is al baie klein en heel onder en die boekstaander is hoog. Die erg opkyk om in die boek te kan sien en dan weer af om my voete letterlik tussen die voetpedale te vind en my hande wat verdwaal tussen die klawers …

Ek het ‘n heerlike nuwe uietert wat ek wil saambring Rebusfontein toe. Met spek in. Iemand wat dit nie weet nie, sal nooit dink dat die tert van UIE gemaak is nie. Geurig verby.

En ek wil my klavier daar op Rebusfontein loop afstof en speel en speel totdat my siel en my liggaam weer mekaar gevind het.

Toortsie

Van kompetisie tot ondersteuningsgroep

Dit gaan sommer baie goed met die Banting gewigsverlieskompetisie wat reeds op 1 Februarie begin het. 

Twintig mense het aanvanklik ingeskryf en die meeste van hulle is nog op die Banting (Keto)-wa. Hulle doen ongelooflik goed en tussen die 19 van hulle wat weekliks hulle gewig instuur, het hulle al 90 kg verloor! Wow! Ek is so trots op hulle!

Intussen het ons besluit dat ons nie 30 April wanneer die kompetisie amptelik stop, die groep gaan stop nie. Die Whattsappgroepie is ‘n wonderlik ondersteuningsgroep en ons help mekaar behoorlik. Geen kompetisiegesindheid of -atmosfeer word gevoel nie. Eerder ‘n gevoel van samehorigheid. Dit is wonderlik! Saam-saam is ons besig om gesond te raak.

Intussen het nóg ‘n besigheid besluit om deel te word en ‘n prys te borg. Dit is Gracious Bakers wat die lieflikste Keto produkte maak. Ek gebruik al lankal hulle heerlike beskuit, koekies en sadebeskuitjies en toe ek nog ontbyt geëet het, het ek graag hulle ontbytpap geëet. 

Gracious Bakers gaan ‘n geskenkpak saamstel met 6 van hulle gewildste produkte! Wat ‘n heerlike prys! Gaan loer ‘n bietjie op hulle webblad watter heerlike en gesonde produkte vir die Keto-leefstyl of vir almal wat gesond wil eet, hulle het. Fran, met wie ek daar by hulle gesels het, beskryf hulle besigheid as volg: 

Gracious Bakers are passionate and driven to provide customers  with superior health products. They are focused on uplifting and inspiring healthier communities, by connecting people with real food.  Customers are investing in health more than ever before. For some it’s a choice for others it’s the only solution. With the growing disease epidemic, allergies and Intolerances, conscious eating is the only solution. Gracious Bakers are part of that solution. They have developed innovative and unique in-house recipes that cater for Gluten Intolerance, coeliac, diabetics, Low Carb , keto and paleo. All their products are handmade. The products are not only convenient, but ideal for the on the go person. All products are made using only superior ingredients that also taste great and are price competitive. All their products are additive and preservative free, they believe less is more. Where recipes lack in carbs, they are packed in flavor and taste. From traditional buttermilk rusks to penne pasta, you’ll find something to satisfy your everyday craving.

Ondersteun asseblief ons borge om hulle te bedank vir hulle lieflike gebaar.

  1. ‘n Naweek vir 4 persone op Struisbaai in een van Seegogga se lekker vakansiehuise.
  2. ‘n Lekker geskenkpak van Avon produkte geskenk deur Rina van Papendorp.
  3.  Mrs Martins Mikrobes het ook ‘n wonderlike geskenkpak skoonmaakmiddels, die lekkerste produkte denkbaar. 
  4. ‘n Pragtige skildery (blomme) deur Rita Oatway. 
  5. ‘n Boksie wyn van Rooiberg Kelders, geskenk deur een van ons vriende.
  6. ‘n Boksie wyn van Boland Kelders, geskenk deur een van ons vriende.
  7. ‘n Wonderlike geskenkpak saamgestel deur Desiree Kleinhans, eienaar van Suidpunt Potpourri, die mees suidelikste restaurant in Afrika, en ook van Earth, ‘n lieflike restaurant en geskenkwinkel in Struisbaai.
  8. ‘n Geskenkpak met die lieflikste Keto eetgoed geskenk deur Gracious Bakers

Wil u ook deel word van hierdie lekker ondersteuningspan en die Keto leefstyl aanleer? Praat gerus met my. 

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Groete

Toortsie