Die Here is weer vandag so goed vir my.

Jajaaa, Hy is elke dag goed vir my. Baie meer as wat ek kan droom of dink. Baie keer wat ek nie eers bewus is daarvan nie doen Hy goeie goed, haal Hy klippe uit my pad. Uit jou pad ook!

Maar vandag is dit so sigbaar. Duidelik. Is Hy met mening besig met my.

Vandag moes ek die sanggroep in die kerk op die klavier lei. Ek vra vooraf mooi dat Hy my sal help, ek doen dit regtig vir Hom. Skielik word ek in die diep kant ingegooi – ‘n lied moet vinnig getransponeer word. In my jongdae het ek dit toe-oë gedoen. Nou nie meer so maklik nie. Ek hou van die sekerheid van note voor my en skryf elke lied se melodielyn uit vir as die pawpaw die fan slaan.

Ek werk die nuwe drukke uit, maar voel steeds effens onseker. Die oë gaan met daardie lied baie op ons gefokus wees.

Snaaks, vannag 2 uur hét ek wakker geword met ‘n gevoel dat ek bietjie gedruk word waar ek nie heeltemal so gemaklik voel nie. Ek praat toe in die nagtelike ure met Hom en vra vir Sy leiding. En vanoggend vra ek terwyl ek ietwat bang daar sit: Here, sal U in my hande inklim, asb?

Hy het.

En vanmiddag het Hy gekeer dat die stuk hout wat uit die vuur val, nie ‘n brand veroorsaak nie.

En daar is nóg om te noem, maar kry jy die boodskap? God is betrokke by ons alledaagse dingetjies.

Toortsie

‘n Tikkie wysheid

Ons vriend nooi ons vir ‘n lieflike daguitstappie saam met hom om sy tagtigste verjaarsdag te vier. ‘n Mens sal natuurlik nooit dink dat hy tagtig kan wees nie! Toe ons tog te lekker aansit vir middagete, vra ek hom watter wyse raad hy as tagtigjarige vir sy sestigjarige vriende sal gee.

Hy sê dat hy nooit ‘n dag laat verbygaan sonder om aan iemand iets goeds te doen nie. Hy sal byvoorbeeld as hy ‘n vrou sien stap met haar sakke vol kruideniersware in die hand op pad huis toe, haar optel en gaan aflaai waar sy woon. Hy sal graag vir iemand ‘n kompliment gee. Of, as hy iemand sien wat swaar loop, gaan en die persoon help. Enige daad van goedheid wat daardie dag oor sy pad mag kom sal hy met graagte doen.

Verder sal hy nie ‘n dag deurgaan sonder dankbaarheid nie. Die Here het hom gebring tot waar hy vandag is en glo dat Hy hom end-uit sal help en elke dag is daar soveel dinge waarvoor hy Hom dankbaar is.

Is dit nie mooi nie?

Toortsie

Nie my ouma nie!

Die maatjie is nie heeltemal tevrede met waarmee die tannie die klomp wil besighou nie. Dis boring.

Op ‘n stadium kan hy dit nie meer hou nie. “Tannie is boring.”

En so ‘n rukkie later kan sus dit ook nie meer hou nie. “Hoekom sê jy my ouma is boring?” kom dit kwaai uit haar mond.

Nie my ouma nie. No ways.

Toortsie

Bybel@kinders

Die tannie vertel hoe wonderlik God is. Sy vertel sommer dat haar eie kleinkinders ook hoor. Dat God op baie maniere met ons praat, maar veral ook deur die Bybel. Dat hulle mos saam met Lego’s ‘n boekie kry wat wys hoe hulle dit moet bou. En dat daar ‘n eienaarshandleiding saam met oupa se kar ook kom vir as daar fout kom.

Nou, God het die mens gemaak en die Bybel is die boek wat Hy saamgegee het sodat ons altyd kan weet wat die regte ding is om te doen. Die eienaarshandleiding. Dat Hy vir ons antwoorde op al ons vrae gee in die Bybel.

Ouma lees uit dieBybel@kinders. Ouma besef nou weer wat ‘n wonderlike weergawe van die Bybel dit is. So verstaanbaar en lekker om te lees. En die kleingoed onthou wat ouma al die hele week gelees het! En blaai sommer self ook daardeur.

Toortsie

In net 6 maande

Ek kan my altyd verkyk aan hoe mense, veral kinders, ontwikkel.

Ses maande gelede was ons met die kleinkinders op die plaas. Ouma op haar driewiel en die kleingoed elkeen met ‘n eintlik tè groot fiets. Eers het oupa en ouma al hulle dae om die kleingoed te oortuig om op te klim en te ry. Hulle sal ry wanneer hulle 10 is.

Intussen, met baie oortuiging, raak die span aan die ry. Ouma kry baie meer oefening as wat sy op kan hoop, want die kindertjies kan mos nie alleen ry nie! Wanneer hulle ry, ry ouboet soos ‘n wafferse fietsryer. Die volgende oomblik is al die kragte op en stop die hele prosessie.

Ses maande later is ons weer op die plaas. Ouma nooi die kleinnefie saam. Skielik is hulle wat die oortuiging nodig gehad het, die voorryers. Voorvatters. Wat die plaaspaaie ken. Wat voortou neem, oor die damwal of onderom. En ouma? Sy dek steeds die agterhoede.

Maar toe ‘n pedaal per ongeluk vol beesmis raak en ons ry met kaalvoete … eeuwww!

Ek moet fluister dat my mond oophang oor die intelligensie wat ek hoor!

Toortsie