Trudie gaan ruimte toe

Mooi man! Hier is ek nou! Op die planeet van die liefde. Venus! Wat meer kon ek vra? Dis mos wat ek wou hê. Hoeveel aande in my lewe het ek sit en staar na die sterre, het ek saans gesit en wag dat Venus moet verskyn? Selfs as kind al het ek saans op my fiets sit en sterre tel. Was ek verlief op hierdie planeet. Hoe romanties! Men are from Mars, Women are from Venus. Venus, die vroueplaneet. Die aandster.

Wie sou ooit kon dink dat ek die voorreg sou hê om Venus te kon besoek? Dat hierdie geleentheid oor my pad sou kom om hier te kom woon, watwou dit net besoek? Nie eers in my wildste drome het ek dit voorsien nie! Toe ek hiervan hoor kon ek nie gou genoeg my hand opsteek nie. Asseblief, kies my! Ek wil gaan! Ek wou juis ’n bietjie asemskep van Tinus. Die liewe, dierbare Tinus wat my so oorlaai met sy liefde. Amper versmoor met sy liefde. 

En hier is ek nou op Venus, geklee in ’n ruimtepak wat my van kop tot tone bedek. Om my te beskerm teen die hitte. Ja, hitte, kan jy glo! Ek het altyd gedink Venus is ‘n koel planeet, dis dan die verste van die son af? Toe nie! Tipies die rigtinglose ek, is Venus toe die tweede naaste planeet aan die son! En warm. Vrek warm. Onuithoudbaar warm. So warm dat dit eintlik vreemd is dat ek nog nie gesmelt het nie. Gelukkig is my ruimtepak van ’n besonderse stof gemaak wat die hitte in ’n mate kan weerstaan. Vir ’n rukkie. 

Die eerste paar minute het ek opgewonde rondom my gekyk om die plek te verken. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar alles behalwe dit wat ek hier sien! Hoekom het ek aan water en bome en gras gedink terwyl hier net rotse en vulkane is en as ek nie versigtig is nie, beland ek nog onder ’n aktiewe een se lawa! 

Hoekom sal Venus die vroueplaneet wees? Hier is dan net mooi niks vrouliks nie? Iewers het iemand verseker iets gemis! Dit is nie eers mooi nie. Dit is glad nie mooi nie. Vroulike planete is mos veronderstel om mooi te wees.

Ek verlang na Tinus. Daar het ek dit nou gesê, dertig minute nadat die ruimteskip my hier afgelaai en verdwyn het. Ja, ek verlang na hom. My Tinus. Maar nou is dit te laat. Spyt kom altyd te laat. Ek het mos my keuse gemaak. Om hier te kom woon. Vir altyd. 

Tinus. Ek kan nou nog die hartseer op sy gesig sien toe ek hom die dag vertel het dat ek op Venus gaan kom woon. Die geboë skouers sedertdien. Die amper verslaentheid. Hy kon dit nie verstaan dat ek so ’n besluit kon neem nie. Wat van hom? Wat van ons? Ons wat al begin uitgaan het kort nadat ons skool verlaat het? Ons, wat saam oor ’n toekoms gedroom het? Hoe kon ek hom sommer net los en dit vir so ’n lawwe idee? Wat wou ek daardeur bereik? 

Ek het hom lief en nou kan ek niks daaraan doen nie. Hier sit ek nou, vasgevang op Venus en kan nooit weer terugkeer aarde toe nie. Hier gaan ek vergaan van die hitte. Van noutevrees in die ruimtepak. Van eensaamheid. En ek kan vir niemand kwalik neem nie, want dit was my keuse. Net myne, niemand anders s’n nie. 

Dis toe wat ek die vreemde dreuning hoor. Kan dit wees? ’n Ruimtetuig? Een wat op Venus kom land? Twee ruimtetuie op dieselfde dag? Sowaar! Ja, dit is sowaar ’n ruimtetuig. Dit is net een stofwolk soos hy land. Ek staan asof versteen en staar daarna. Die deur gaan oop. Daar klim iemand uit. Versigtig sit hy sy voete neer op die vreemde planeet en begin hy na my kant toe stap. Dis … Tinus! Dis my Tinus! So vinnig as wat my voete my kan dra hardloop ek na hom toe.  

Toe word ek wakker. Deurmekaar probeer ek agterkom waar ek is. Ek voel met my hande en vind die bekende lyf langs my. Ek is in my eie bed in ons eie huis op ons eie Moeder Aarde. Langs my lê Tinus vas aan die slaap. Ek hoor sy diep, rustige asemhaling wat my nog altyd kalm gemaak het. Tinus, my man al vir amper veertig jaar. My standvastigheid. My sekerheid. In my droom het hy my kom haal, kom red op Venus, net soos wat hy my al soveel keer gered het van een of ander lawwe idee. Ek kan en wil op geen ander plek wees as net hier by hom nie.

………………..

Ink kortverhaal – ‘En toe’-projek

Skaak in die oorlog

Chessalleeninlonden het die mooiste foto’s geplaas van mense wat in die oorloggeteisterde Ukraine skaak speel. So hartseer. So kosbaar. So hoopvol. Julle kan gerus by haar gaan loer. In ondergrondse bomskuilings. In parke terwyl die geboue rondom hulle stukkend geskiet is.

Foto by Chess geleen

Dít is wat nasies laat opstaan. Mense laat opstaan te midde van die grootste krisis. Die vermoë om daar, waar jou wêreld letterlik inmekaar tuimel, tog die vermoë te hê om op iets anders te fokus. Om selfs op iets lekkers te fokus. Iets lekkers te doen.

En nee, dit is nie verkeerd of sonde of onsensitief om dit te doen nie. Dit is hoopvol.

Ek het al soveel keer sulke tipe stories gehoor. Daardie een persoon wat begin sing in die loopgraaf waar almal beangs sit … en nog een begin saamsing … en nog een … Dit verander nie die krisis nie. Dit maak dit nie minder angsvol nie, maar daardie tikkie hoop wat iewers in iemand se hart brand en in nog een se hart aangesteek word en in nog een s’n. Dít is wat mense op die ou end laat deurdruk op plekke waar dit bykans onmoontlik en onmenslik was.

Ons moet altyd vashou aan die klein vlammetjie van hoop wat daar nog in ons brand en juis in sulke tye mag ons nie toelaat dat ander ons vlammetjie dooddruk nie. Dis dán wanneer daardie klein vlammetjie dalk net genoeg is om die hoopvlammetjie by ander wat nie so gelukkig is om dit te hê nie, aan te steek.

Dankie Chess vir hierdie wonderlike bloginskrywing van jou.

Toortsie

Ek sien hierdie prentjie op facebook:

Boom van die lewe

Ek was nog te jonk toe die hippies hoogty gevier het. In die Sondagskool het hulle vir ons die tekens gewys en is dit aan ons verduidelik dat dit nie Christelike tekens is nie. Die betekenisse van die tekens was mooi, maar het na iets anders gedui as wat ons as gelowiges glo. Ek dink nie ek het ooit regtig geweet wat dit beteken nie en dalk was dit nie lelik nie, maar was ons ontmoedig om dit te dra omdat dit ‘n konneksie met die hippies getoon het?

As gelowige is ek baie versigtig vir die New Age. Vergewe my as ek dalk op tone trap, maar ek moet dit van my hart af kry. Die New Age lyk so baie soos die Christelike geloof, amper soos die 666 amper soos die 777 lyk. So naby, maar so ver. Dit is alles so mooi, hoe kan dit verkeerd wees? Om die waarheid te sê, dit is só naby aan die Christelike geloof, selfs sterk gelowiges kan soms verward raak. In hierdie artikel staan daar:

The New Age objective is to unite all religions, including an adulterated version of Christianity, in an alliance of world religions. In association with demonic doctrines such as evolution, reincarnation, metaphysics, parapsychology, astrology, pantheism and socialism, all faiths and philosophies must revert to their common luciferic origin. In this way, unity can be achieved in the world and all people’s lives be ordered according to the same principles.

Selfs Christene begin gelowiges wat glo dat Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is, kritisieer. Hulle vra Hoe Christene so selfsugtig kan wees om dit te dink dat húlle die enigste weg na saligheid ken? Daar word selfs gesê dat God NET liefde is, en dat daar geen oordeel by Hom is nie. Tog, as ‘n mens die hele Bybel ernstig deurlees, sal jy oor en oor raaklees dat dit oor God gaan. Oor Jesus. Dat Hy baie liefdevol is en baie geduldig, maar dat Hy wil hê dat jy Hom alleen dien. Dat ál manier om by Hom uit te kom deur Jesus is. Dat elke persoon self die keuse moet maak: Neem ek Jesus en Hom alleen aan, of nie. Is Jesus my Saligmaker? As my Enigste Here? En as ek Hom nie kies as my Saligmaker en ‘n pad met Hom loop en ‘n verhouding met Hom bou nie, daar beslis ‘n punt van oordeel sal kom. En daardie punt van oordeel gaan ‘n erg ongemaklike storie wees en sal ons op daardie punt nie ons plan kan verander nie.

Die boom van die lewe

Hierdie pragtige boompie sien ‘n mens deesdae oral, veral in juwele. Te mooi. Vir Christene beteken die boom van die lewe dat ons geënt word met God se boom, om by Hom te wees en krag by Hom te kry. Bogenoemde prentjie is ongelukkig nie dit nie. Dit stem ooreen met die Buddhistiese boom van die lewe wat dui op ons persoonlike ontwikkeling, uniekheid en individualisme. Ook mooi, maar geanker in die self, die menswees eerder as in God.

Wil ons regtig ‘n Buddhistiese of New Age of watter teken dra en uitdra as ons in Christus Jesus glo?

Toortsie

Kompetisie tot kompetisie

Wonderlike nuus! Die eerste Banting (Keto) gewigsverlieskompetisie loop nou amper tot einde. Dit eindig DV op 30 April en dan gaan ons die wenners aankondig van die verskillende pryse! Dit gaan opwindend wees! 

Daar is egter nog goeie nuus. Die ondersteuningsgroep gaan aangaan vir diegene wat wil aanhou. Daar gaan steeds weeklikse inligtingsessies wees en inweegsessies per whattsapp. Die deelnemers is goed op dreef en die meeste van hulle het die leefstyl goed onder die knie.

Maarrrrrr daar is nóg nuus! Daar begin DV ‘n NUWE kompetisie op 1 Mei en sal loop tot 31 Augustus 2022. Hierdie keer is die inskrywingsfooi R1000 en 30% van die volle inskrywingsfooi van al die inskrywings gaan verdeel word tussen die persoon wat die meeste gewig verloor in hierdie tyd en die een wat die grootste persentasie gewig in verhouding met sy begingewig verloor. 

Ingesluit by hierdie R1000 is ook Toortsie se 3 resepteboeke, weeklikse inweeg- en inligtingsessies deur ‘n gekwalifiseerde Bantingafrigter en ‘n whattsapp ondersteuningsgroep. Alles gebeur per whattsapp wat beteken dat deelnemers enige plek in die wêreld kan woon en steeds kan deelneem. Die voertaal van die groep is Afrikaans. 

Kontak my as jy belangstel. 

Toortsie

Pre-diabetes

Iemand vra hierdie vraag op Twitter: 

Serious question:- Can someone please explain ‘pre-diabetes’ to me? My view is someone either has diabetes or doesn’t … am I missing something?

Ek het ‘n ding oor diabetes en hoe meer ek daaroor lees, hoe ernstiger voel ek daaroor. Diabetes is ‘n baie groter en gevaarliker siekte as wat ons ooit kan besef. En diabetes KAN GEKEER WORD. Deur wat ons EET. 

Soos wat ek al hoe meer hieroor oplees en nog lesings en kursusse by Nutrition Network doen, hoe meer rys die hare op my lyf. Want ek was uiters siek en ek het dit nie besef nie! As ek kyk wat die mense geantwoord het op bogenoemde vraag, was ek nie pre-diabetes met .1 van amptelik diabetes af nie. Ek het reeds diabetes gehad! En ek het my skouers opgetrek. Ag, ek het net ‘n bietjie minder suiker in my koffie gedrink. 

In ‘n onlangse studie is bevind dat DIABETES die hoofooraak van hartaanvalle is met Metaboliese Sindroom kort op sy hake. Insulienweerstandigheid. Hoë bloeddruk. Vetsugtigheid. Rook. Die ergste van alles is dat die dokter vir my gesê het dat ek Metaboliese Sindroom het. Dat ek pre-diabetes is. EN EK DIT NIE GEKLIEK HET NIE! Al rede hoekom ek die keto (Banting)-leefstyl begin doen het was omdat ek my hande in die hare gehad het oomdat ek by die dag vetter en vetter word. Ek was op ‘n trein sonder brieke op pad na ‘n HARTAANVAL en ek het dit nie geweet nie!

Dr Neville Wellington beklemtoon in Nutrition Network se kursus: Doctor’s Desk: An Introduction to Type 2 Diabetes dat SUIKER die hoofoorsaak van diabetes is. Dat as jy 32-36 kg suiker per jaar vir 20 jaar inneem, jy ‘n uiters groot kans het om diabetes te ontwikkel. Dit kom neer op 21 teelepels (of 100g) per dag! En onthou, dit is nie net ‘sigbare suiker’ nie – dit is ALLE STYSEL EN SUIKER WAT JY INNEEM. Sigbaar en versteek. Alles. 

Hy noem ook dat diabetes skielik in toetse begin wys. Asof die liggaam vir baie lank alles in sy vermoë doen om die glukose in die liggaam te beheer en dan skielik net opgee.

Diabetes is ‘n verskriklike siekte wat by ‘n mens steel. Mense verloor hulle ledemate as gevolg daarvan. Ag, daar is baie nagevolge. En dit kan in die meeste van gevalle verhoed word deur dit wat jy eet. 

Dink daaroor.

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie