Net nog ‘n bedelaar

Elsabe, jy moes gister skryf wat jy geskryf het. Want ék moes lees. En luister. En hoor wat God wou hê ek moes hoor. Wat maak ons met die bedelaars wat by ons huis kom klop? Dis so maklik om net nee te sê en tot my skaamte moet ek erken: Ek doen dit. Want ek wil nie ‘n toestroming van bedelaars by my huis hê nie. Ek sal baie eerder die leë joghurtbakkies vol eetgoed pak en dit die dorp vol uitdeel, maar net nie by my huis nie.

Hier in ons dorp loop so ‘n baie vriendelike swartman met ‘n oop gesig. Oe, maar kan hy bedel! Toe ons nog op die plaas gewoon het, sou ek middagete vir my ietsie by Checkers koop en dan in die kar gaan sit en eet. Net sodat hy aan die venster klop. Dan gee ek hom maar ‘n bietjie van my kos en eet verder, maar nie vir lank nie, dan klop hy vir NOG! Gendade! Hy ken my gesig en weet waar ek woon. Ag, dalk ken hy die hele dorp se gesigte. Hy is ‘n gereelde klopper. Dan sê ek nee, maar ek gee vir hom as ek hom in die straat raakloop en ek deel bakkies uit.

Iewers is iets groots fout! Ek dink ek verwar die man!

‘n Ander een kom ook klop, maar hy vra vir tuinwerk. Of as ‘n kar buite staan, om dit te was. Ek bied vir hom kos aan, maar hy vra ‘n geldjie. Sal die kos ook vat, dankie. Dit laat my aan tannie Mags dink wat langs die bottelstoor gewoon het. Baie mense het by haar kom bedel. Dan gee sy kos. Ek sê: “Tannie, dis gevaarlik.” Sy sê: “Madelé as hulle honger is, sal hulle die kos eet. As hulle net drankgeld wil hê, sal hulle nie weer klop nie.”

Nadat ek Saterdag weer nee gesê het, refrein tannie Mags se woorde in my kop. My Christelike plig is seker om kos te gee. Sjoe, hier ís mos kos in die huis om te gee. Op die plaas was dit anders. As daar iemand aangeklop het, gewoonlik werksoekers wat vir dae aaneen op die pad is, het ek vir hom ‘n goeie bord kos gemaak. Waar moet hy dan anders kos kry?

Vanoggend klop die tuinwerkman weer. Hy is nogal dringend. Ek vra of hy kos wil hê en bak vir hom drie eiers. En nee, ek het nie geld om te gee nie en nee, jy kan nie die kar was nie en nee, daar is klaar iemand in die tuin, dankie. Hy gaan sit net daar op die sypaadjie en eet die eiers. Intussen kom die eienaar van die kar verby en gesels met hom. Net daarna roep die man my weer. Ek is sommer geïrriteerd, maar luister tog wat hy sê:

“Mevrou! Daardie man in die wit kar het gesê as hy nou terugkom, kan ek sy kar was! Mevrou, hy gaan vir my R100 gee daarvoor.” (Die vreugde straal uit hom uit.)

Hoe skaam is ek nou! Dalk raak dit tyd vir sop kook en in bakkies vries vir wanneer daar nood is by my deur.

Toortsie

Die Goue Vroue hou vakansie #4

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

****************************************************************************

“Under the sea, under the sea. Darling it’s better, down where it’s wetter, take it from me …” sing Seegogga te lekker terwyl sy danspassies met haar hele lyf en voete maak. Appeltjie val agter haar in en sing en dans saam. Een vir een val die Goues in by hulle. Trommeltjie klap die ritme op haar been uit. Ag, dit is darem so lekker om te lewe en noudat hulle nie meer in gevaar is nie, soveel te meer. Hulle is mos saam met Lorenzo en Camilla op ‘n luukse bootvaart.

Vir ‘n oomblik het hulle groot geskrik toe hulle hele boot in ‘n swart gat ingesuig is onder die see, maar gelukkig het Poseidon gou vir hulle lig op die onderwerp gebring: Sy seun, Triton, het verlief geraak op ‘n aardse magiese figuur en Poseidon het die Goue Vroue se hulp nodig. Hulle moet hom vind. En as hulle hom betyds vind voor die sluier tussen die aarde en die ondergrondse ruimte weer teruggetrek word wag daar vir hulle ‘n groot beloning. Maar die tyd is min.

Hoe moeilik kan dit tog wees om hom te vind? Nee wat, die Goue Vroue het mos kontakte. Hulle ken die wêreldvol mense met invloed. Dit gaan tog nie oor wie jy is nie, maar wie jy ken, of hoe? Soos Christa wat hooggeplaastes ken in Kazakstan. En VirgoC wat al ál wat Arabiese koning verpleeg en gesond gedokter het. Sonell en Frannie het bande in Amerika en ek is seker dat Scrapydo ons sal help uitkyk daar in NZ ook. Was dit dan nie juis die een keer in die geskiedenis wat Biden en Trump saamgewerk het toe Frannie vasgekeer was in Amerika met die Covidkrisis en hulle haar gehelp het om terug te keer Suid-Afrika toe nie? En Silwer! Silwer wat die hele ruimte rondtoer met sy ruimtemotorfiets sal beslis sy oë oophou vir Triton, hy sal mos enige iets doen net om Frannie se guns te wen. Una weet wie is wie in Mosambiek en in Bali. Sy kan natuurlik ook sommer net in ‘n oogwink opklim tot op die maan en die hele aarde daarvandaan sit en deurkyk. Dan is daar Amoré van RSG, sy is net ‘n e-pos ver. En Toortsie se neef, Andries, ken ook die hele wêreld se mense, sy kan hom vra of hy nie iets weet nie. Sy het ook familie in Australië wat kan help soek. Dan is daar nog Elon Musk ook met wie die Goues al oor ‘n lang tyd ‘n verhouding gebou het, hy sal beslis weet wat om te doen. En ABBA! Sedert hulle laas op Rebusfontein was, toer hulle mos nou weer oral om hulle nuwe CD bekend te stel. Dis juis hulle kuier daar op Rebus wat hulle so begeester het om weer ‘n musiekvideo vry te stel. Ag, en nadat die Goue Vroue vir mnr Barnum en sy sirkus behoorlik in ‘n nuwe sfeer geplaas het en hy nou absoluut wêreldberoemd is sal tog te graag ‘n ou gunsie wil terugdoen. Dis nou nádat die sirkustent ontplof het toe iemand ‘n vuurhoutjie getrek het omdat die olifant ag jy weet wat en niemand kon asem kry nie. Aalsie kan sommer terwyl sy die nuus by Radio Overberg lees, vra of iemand daar dalk weet. Haar vriendin, Ora, kan ‘n beriggie in die Suidernuus ook plaas. Maklik was nog nooit moeilik nie.

Dadelik het die Goue Vroue aan die werk gespring, ‘n e-pos aan elke moontlike persoon wat hulle ookal ken, gestuur en gevra dat hulle hulle oë en ore moet oophou vir so ‘n liefde. Hulle het ook elkeen ‘n blog daaroor geskryf wat mos wêreldwyd deur mense gelees word. Elke moontlike sosiale media is ingespan: Whattsapp, Telegram, Signal, Linkedin, Facebook, Instagram, Twitter. Positief het dadelik ‘n TikTok video gemaak en dit is ook die wêreldvol versprei. Nou kan die Goues ‘n bietjie ontspan terwyl hulle wag vir nuus van die aarde af.

Skielik gee die boot ‘n vreemde ruk en is die krag af. Ag nee, nie al weer nie! Hulle het dan nou net die dinge begin geniet en ‘n bietjie op die dek verkeer.

“Kkkkykk dddaarrr …” stotter WoordNoot.

“Waar? Wat moet ons kyk?” vra Toortsie.

“Dddaaarrr …” wys WoordNoot met haar hand. En daar waar sy wys, is ‘n seekat se poot so om die boot se rand. Nie sommer enige seekatpoot nie, ‘n massiewe een. Lorenzo wys na die ander kant van die boot, daar is ook een. Camilla wys na nog een. En nog een. En nog een.

‘n Massiewe Seekatkop kom te voorskyn uit die water. Vreesaanjaend. Skrikwekkend. Verbysterend. Groot.

“Kyk hoe aanvallend is sy oë,” fluister Kameel.

“Kyk hoe staan die hare regop op my lyf,” fluister Sonell. “Ons is regtig nou op ‘n plek waar ons nie moet wees nie.”

“Ja,” sê Frannie. “Ek voel ook glad nie gemaklik met ons situasie nie.”

Trommeltjie sein allerhande boodskappe met haar oë. Wat probeer sy sê? Ekmyselff is spierwit in die gesig, haar oë lyk soos pierings.

Skielik begin die boot bewe en hulle hoor die vreemdste geluid. Dan begin die boot vreemd ruk en ruk en ruk. Alles dril. Glase tingel teen mekaar. Hier en daar val iets van ‘n tafel af, maar dit is nie so erg nie, eerder deurdringend. Asof die seekat vir ons iets wil sein en dit wat hy sein voel nie baie vriendskaplik nie. Ons besef dat hy die boot binne sekondes kan omdop as hy wil. Dit hou vir ‘n hele ruk aan. Die Goue Vroue sit asof versteen, niemand verroer ‘n spier nie. Niemand nie.

Die volgende oomblik is alles weer rustig asof niks gebeur het nie. Die seekat het net so sag soos wat hy verskyn het, verdwyn. Of het hy? Seegogga, jy sal moet help hier! Jy kan mos seekat praat, kan jy nie? Sal jy verder vertel asb?

Toortsie

Verslawing

Verslawing is iets waarin ek baie belangstel oor persoonlike redes en waaroor ek al baie geskryf het. Dit is juis met my betrokkenheid by ‘n persoon in rehabilitasie wat ek seker een van die insiggewendste praatjies (lesings) denkbaar gehoor het. 

Dit was daardie dag wat ek besef het dat ek ook tekens van verslawing toon. Ek is seker dat as iemand op daardie stadium gekyk het na die hoeveeheid Eglonyl wat ek gedink het, hulle net hulle kop sou skud en gesê het dat ek so min daarvan drink. Dat dit veilig is. Maar omdat ek eerlik daaroor was, het ek besef dat ek stadig, maar seker besig was om meer en meer daarvan te drink en net daar besluit om dit te staak. Dit was ‘n moeilike proses om heeltemal daarvan los te kom, maar ek kon dit doen omdat die Here my betyds gewaarsku en my gehelp het. Dit was ook tóé wat ek besef het dat ek aan kos verslaaf is, iets wat nog op daardie stadium glad nie erken was nie en wat mense gedink het ‘n grap was as jy dit sou noem. 

Bitten Jonnson was een van die sprekers by die World Nutrition Summit 2022. Sy is ‘n gekwalifiseerde verpleegster en ‘n verslawingskenner. Sy werk met alle tipes verslawings, maar meer spesifiek suiker- en meelverslawing vir meer as 27 jaar. 

Sy sê: Verslawing is ‘n siekte van die brein. Dat daar geen verskil is in die tipes verslawing nie. Verslawing is ‘n Primêre, Progressiewe, Kroniese, Dodelike, BEHANDELBARE siekte. Pille en operasies is nie die oplossing nie, jy moet die BREIN herstel. 

Dit is ‘n herhalende, terugkerende siekte. Daarom moet ons HULPMIDDELS (TOOLS) kry om die siekte te hanteer. Verslawing begin by SUIKER … dan sigarette … dan alkohol … dan … dan … dan … (Die ergste is, ONS VOER DAARDIE SUIKER VIR ONS KINDERS!) Die siekte begin al baie vroeg in ‘n kind se lewe. 

Dit gaan nie oor die DRUG of PROSES nie, maar oor die BREIN. Mense probeer so baie dinge – diete, enigeiets. Al daardie goed wat jy probeer, wys dat jy einlik ‘n sterk persoon is. Ons kan nie altyd help dat ons verslaaf raak nie, MAAR ONS KAN WERK AAN ONS HERSTEL.

DENIAL (Ontkenning) is GROOT. 

Die eerste tekens van verslawing begin reeds by 5 – 6 jaar oud. Ons ONTKEN dat daar ‘n probleem is. Solank jy jou verslawing iets anders noem, kan jy NIE met herstel begin nie. 

Ons raak ENSLAVED – dis die DRUG wat jou lewe wil beheer. Deur inligting en kennis hiervan, kan jy bevry word. As kind was jy ‘n soettand. As tienber begin jy dieet, raak anoreksies om die ‘cravings’ te probeer beheer. Dan, wanneer jy nie kan nie, ooreet jy jou. Op die ou end raak jy oorgewig. 

So baie van die ander siektes wat ons kry, is eintlik maar ‘n reaksie op die verslawing. 

Dan sluit sy haar lesing af: Die Keto (Banting) dieet is ‘n goeie keuse in die proses van herstel, die vry word.

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie

Prysuitdeling

Drie maande sedert ek die lawwe idee gekry het van ‘n Banting (Keto) gewigsverslieskompetisie. Dit sou oor 3 maande loop vanaf 1 Feb tot 30 April. Die deelnemers moes die Banting leefstyl volg. Daar is ‘n Whattsappgroep gestig waar deelnemers mekaar ondersteun en raad gegee het. Ek, as Bantingafrigter het ook my bydrae gegee om elke deelnemer na die beste van my vermoë te help.

Vrydag het die kompetisie ten einde geloop en Saterdag het ons groot prysuitdeling gehou. Daar was 3 kriteria waarvolgens die deelnemers plekke toegeken was: 1) Totale gewig verloor; 2)Persentasie van begingewig verloor; 3)Vermindering in BMI. Daar is gewig aan elkeen toegeken en sodoende kon die wenners bepaal word. Ek het elke keer die volgende persoon aangewys wat dan sy/haar prys kon kies.

Die pryse was:

‘n Naweek vir 4 persone in een van Seegogga se vakansiehuise; ‘n Heerlike bederfpakkie van Suidpunt Potpourri; 2 Bokse (6 bottels elk) wyn van Boland Kelders; 1 boksie wyn (3 bottels) van Rooiberg Kelders; ‘n Skildery van Rita Oatway; ‘n Avon geskenkpak van Rina van Papendorp; Mrs Martins Skoonmaakmiddels; Gracious Bakers Geskenkpak. 

Die persoon wat die meeste gewig verloor het, was 18 kg. Tog het dit op die ou end nie regtig saakgemaak wie die meeste gewig verloor het nie – elkeen was ‘n wenner in eie reg. Net die feit dat jy ingeskryf het, die kans gewaag het om jou leefstyl aan te pas, ‘n nuwe leefstyl aan te leer het jou alreeds ‘n wenner gemaak. In hierdie tyd het elkeen van ons baie geleer – ek ook! Ek het die wonderlikste terugvoer ontvang. Daar is sentimeters verloor. Klere sit losser. Sommige het dalk nie soveel gewig verloor nie, maar hulle bloedsuiker het totaal gestabiliseer. Ander siektes is onder beheer gebring. In totaal is daar 149.9 kg verloor!

So, wat gebeur nou? Niks! Ons gaan net so aan soos voorheen! Die groep gaan voort. Almal van ons doen nou die volgende drie-maande uitdaging. Hierdie keer is daar nie pryse op die spel nie, maar almal voel dat hulle beslis nog met die leefstyl wil aangaan en ook die ondersteuning van die groep geniet. Elke Vrydag stuur elkeen steeds vir my sy/haar gewig in (persoonlik, dit word nie op die groep gedoen nie) en gee ek ‘n bietjie inligting. Alhoewel, ek dink die deelnemers moet nou vir my begin leer!

Die goeie nuus? Daar is nog altyd plek vir nuwe deelnemers ook. Nog mense wat graag die leefstyl wil aanleer met die hulp van ‘n ondersteuningsgroep. 

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie

Lipedema (Lepidemia?)

Dit voel of ‘n wêreld vir my oopgegaan het met die kursusse wat Nutrition Network aanbied. Ek leer so baie by hulle! Tans is ek besig om na die lesings te kyk wat by vanjaar se World Nutrition Summit aangebied is. 

Twee baie interessante sprekers, nl Leslyn Keith en Catherine Seo het gepraat oor Lipedema. Google beskryf Lipedema as volg:

Lipedema is a condition that causes excess fat to accumulate in the lower part of the body. Lipedema most often involves the buttocks, thighs and calves. The upper arms can also be affected. The condition does not affect the hands or feet.

Ek kan natuurlik nie op al die mediese feite ingaan wat hulle genoem het nie, dit is heeltemal te veel en te ver bo my vuurmaakplek, maar ek kan weergee wat vir my sin gemaak het en wat ek verstaan.

Dit is ‘n toestand wat meestal by vroue voorkom en word gekenmerk deurdat ‘n persoon meestal oormatige vet versamel in die onderlyf en bene. Die bolyf bly gewoonlik normaal. Dit kan ook in die bo-arms wees. Dit kan soms baie pynlik wees. Interessant is dat dit by die enkels stop en die voete in die vroeë stadia spaar. 

Dit is geneties oorerflik en ontwikkel gewoonlik in tye van hormoonveranderinge, soos in puberteit, swangerskap of menopause. Ongelukkig wil dit voorkom of gewone gewigsverlies eetplanne en oefening nie help om hierdie vet af te breek nie. 

Volgens hierdie twee sprekers, wat al vir jare lank betrokke is by navorsing hieromtrent, wil dit lyk of laer insulienvlakke ‘n positiewe bydrae kan maak hiertoe. Dat ‘n Ketogeniese dieet (soos Banting of Keto) die vet kan verminder. Keto kan ook die stoor van vet verminder omdat die insulienvlakke soveel laer is. En die ketogeniese dieet kan verdere vorming van vet en die voortsetting van die siekte keer. 

Hulle is steeds besig met navorsing hieroor en dit is nog nie in yster gegiet nie, maar dit is beslis iets om na te kyk of om te probeer as jy in die ongelukkige posisie is om hierdie siekte te hê. 

……

Ek is dankbaar om te kan noem dat ons Keto-Ondersteuningsgroep steeds aktief is en ons baie goeie resultate kry. Kontak my gerus indien u deel daarvan sou wou wees. Die koste is ‘n eenmalige R700 en sluit Toortsie se 3 resepteboeke in. Weekslikse inweeg- en inligtingsessies per Whattsapp. 

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie