Nee, ek weet nie! Ná ‘n maand van asma en toe bors en simpelheid, dink ek dat ek dit begin afskud. Ag ja, die asma sal seker maar altyd soos ‘n brullende leeu kyk wanneer hy my kan plattrek, maar ek dink dat my lewe weer meer na normaal kan terugkeer. Ek het steeds ‘n groot sensitiwiteit vir ‘n koue luggie wat trek of koue lug wat ek inasem en moet maar veral baie versigtig vir die aandlug wees. (Ek moes nou die aand in die kerk letterlik agter die klavier skuil toe die deure oop was.) Tot tyd en wyl my lugweë weer gemaklik raak.
Maar wat het toe uiteindelik gehelp? Kyk, in hierdie afgelope maand is ek deur letterlik álles. Asmapompie (wat ‘n bietjie kortisoon bevat), nog ‘n ander asmapompie wat weetniewatnie bevat, antibiotika (sommer behoorlike bomme), ACC 200, Andolex C. Hoesstroop vir bronchi..something. Net as ek dink dat ek begin beter word, asem ek ‘n koue luggie in en is ek sieker as voorheen.
Dis tóé wat ek kruie probeer. Dis peppermenttee, boegoetee, gemmertee. Asmatee met lavendula soesies, marribium vulgare, mentha species, plantogo off, symphytum off, uritica urens. En as jy nie die name verstaan nie, ek belowe jou, ek verstaan dit ook nie. Al wat ek jou kan sê, is dat dit nog baie erger smaak as wat dit klink! Aaklig verby! Dít saam met die Vics onder my voete en op my bors gesmeer, ‘n eetlepelvol klapperolie soggens en saans. As iemand raad gegee het, het ek dit gegryp! (Ek het net nie met ‘n aartappel in die bed geslaap nie. Dís dalk die probleem!)
Die dokter het ‘n kroniese asmapil voorgeskryf wat ek saans moes drink, maar ek dink wat die deurslag gegee het, is die anti-allergiepil wat ek soggens moet drink. Dan is daar nog A Vogel se asmadruppeltjies en Vitamien C, sommer 1000 mg, en Echinaforce.
Die kans is goed dat ek sommer nog van die goete vergeet het ook. Maar die ergste is dat ek nie altyd kan onthou of ek die goete wel gedrink het nie!
En dan is daar nog die genade van die Here ook. Seker die grootste bydrae van almal!
Die grootste uitdaging bly steeds om by die huis te bly as daar gejag word. Ek trek my maar net ekstra dik aan, sit ‘n mus op my kop, draai ‘n serp oor my mond as die bakkie se deur oopgaan.
En ek begin nou weer oefening inkry deur in die middel van die dag, as die son lekker skyn, te gaan stap. Hier by ons waai middae 4 nm ‘n lelike koue windjie. Nie goed nie, daardie windjie nie.
Dit wil lyk of daar weer LUG in die tonnel is!
Toortsie
