Skielik is dit oor

Ek is baie lief vir mense, maar ook vir my stiltye. Mense gee my energie. Laat my waardevol voel. Deel voel. Dat ek behoort.

Kyk, vroëer jare het ek hard gespeel en hard gewerk. Baie hard. Ek hét al rustiger geraak, glo dit as jy wil. Baie van my werk afgeskaal. Speel ook nie meer heeltemal so hard nie. Want ek kan nie meer so byhou nie. Het ook rustydjies tussenin nodig.

Hierdie afgelope paar weke was dit nou weer so, maar in middeljarige terme. Hard gewerk en hard gespeel. Heerlik. Ons gesin was mos op ‘n gesinsvakansie, maar heeltemal onverwags, onbepland was die hele lot ook die naweek vóór ons weg is, almal saam. Nie dat hierdie ouma omgee nie! Veral nie as daar nog so ‘n paar dae werkstyd tussenin is en ouma net weer haar punte bymekaar kan trek nie.

En nou, ná 2 weke se hard speel, (nee! Hard WERK!🙈) was die hele lot weer bymekaar. Met ‘n naweek wat sommer ‘n lekker langnaweek geword het vir my. Want ‘n Aussie niggie en neef en kleinding het kom kuier. My span was al huis toe, en ons kon toe lekker saamkuier met die Aussies. Sommer van die juwele in ons distrik geniet, soos die De Hoop Natuurreservaat. Ag, dis elke keer lekker om daar te kom. Die elande, die bontebokke … Hy laat my neerlê in groen weivelde, na waters waar rus is lei Hy my heen. Koppie Alleen, die seeplekkie met sy ongerepte see wat om persoonlike redes vir my baie ná aan die hart lê. Ons kon walvisse sien water spuit, maar nie een het bo die water uitgekom nie. Malgas met sy pont is altyd lekker. Selfs nou met die pont wat met diesel aangedryf word en nie meer met die hand getrek word nie.

En nou is almal weer weg. Ouma kan weer haar punte bymekaar kry. Dalk ‘n ruskansie ook …, die ouderdom is ook maar hier.

Maar my hart is vol. Ek is ryk aan liefde. My hart klop lekker. Want dit was heerlik verby. Met sommer van die niggies en nefies wat hier in my dorp woon wat ook ingeval en ingeloer het. Wat meer kan jy vra?

Mag ons nooit ophou om by mekaar te kuier nie. Selfs nie in hierdie ekstra besige wêreld waarin ons tans leef nie. Want mense is nie gemaak om alleenlopers te wees nie. En jy kan sê van familie wat jy wil, familiekuiers is net anders. Want ons wortels lê diep. Om die waarheid te sê, ons hét dieselfde wortels. En dís die verskil.

Toortsie

Stres en gewigsverlies

Wanneer ‘n mens stres, skei jou liggaam glukose af wat jou gewigsverlies belemmer. Wel, en as jy enigsins ‘n emosionele eter is (soos ek), raak jy aan die kou sodra jy gespanne raak en eet jy al wat voorkom – dit wat reg is en ook wat nie goed is vir jou nie. Om die waarheid te sê, het jy ‘n geneigdheid om sulke tye juis te wil gryp na suikers en tjips en lekkers. 

Daarom is dit belangrik om te kyk na wat jou stresvlakke opjaag. Kan jy dalk iets daaraan doen? Is daar dinge op jou program wt jou geluk stel en bydra tot ‘n stresvolle lewe? Is dit moontlik om af te skaal? 

Watter saadjies van bitterheid het jy dalk toegelaat om wortel te skiet? Vir wie wil jy nie vergewe nie? Dink daaroor – wat gaan gebeur as ek dit laat gaan? Wat gaan gebeur as ek die persoon vryspreek?

Die waarheid is – deur iemand vry te spreek, deur doelbewus te kies om die persoon te vergewe, spreek jy nie net daardie persoon vry nie, maar kom jy ook vry. En om die persoon keer op keer te vergewe, elke keer wat die kwaad weer kom, raak jy vryer en vryer. Jou hart ligter en ligter. Gesonder en gesonder. Skei jou liggaam minder glukose af. 

Ja, as jy wil gewig verloor, help dit nie net om te kyk na wat jy eet en jou oefening nie. Om suksesvol gewig te verloor moet jy na die hele jy kyk. Dat die hele jy gesond raak. En dán sal jy meer moed en krag hê om die onmoontlike aan te pak. 

Sterkte!

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Ek wil jou graag uitnooi om deel te word van ons Banting (Keto) whattsappgroep. Ons kommunikeer in Afrikaans. Ons indersteun en help mekaar om die leefstyl goed aan te pak.

Toortsie

Die teksielorrie ry weer

Ja! Die teksielorrie het weer gery. En net indien jy wonder, daar is ‘n baie logiese verduideliking hoekom dit ‘n teksielorrie is en nie ‘n taxibus nie, al lyk die twee op ‘n haar na mekaar. Maar ouma is ‘n bietjie voertuiggestremd en verstaan nie heeltemal so mooi nie. Maar wie is ouma in elk geval om te stry?

Die beplanning is al in Desember gedoen vir hierdie tweede rit. Verlede jaar het die hele span, dis nou oupa, ouma, al die mammas en pappas en die oom en al die kleingoed mos met die teksielorrie wildtuin toe gery. Hierdie keer was dit Tuinroete en in die Oos-Kaap tot by Addo Olifantpark. Want sien, ouma moet mos op ‘n baie erg gereelde basis die see sien en op nog amper net so ‘n gereelde basis olifante. Anders raak sy omgedollie.

Op die gegewe dag is die teksielorrie gekry, almal, tien van ons in totaal, opgepik langs die pad en was die eindpunt vir daardie dag die Bontebokpark net buite Swellendam. Natuurlik het ons gebraai, hoe dan anders? Ons het ook geslaap by Groot Brakfontein, Jeffreysbaai, Addo, Plettenbergbaai en Warmwaterberg.

Dit was heerlik. Oupa en ouma kon die kinders en kleingoed bederf soos nog nooit te vore nie. Elke dag is daar iets interessants gedoen. Daar is gezipline, gegeocache, gebungi (ouma se senuwees het maar swaaaarrrr gekry), familie opgesoek, geëet, geëet, geëet, gelag, gesels, geoe en geaa oor olifante en voëls, oor bontebokke en rooi hartebeeste en koedoes en bobbejane. Daar is boot gery, gestap by Robberg, gefliek, geswem in die warm swembad. Addo Olifantpark en Kragga Kamma verdien spesiale vermelding. Daar is ‘n groot verskeidenheid diere te sien.

Eetplekke wat uitgestaan het is Elvis Blue se plek net buite George, Elvis Brew. Ook by die Stormsrivier dorpie is daar ‘n fantastiese eetplek wat glad nie so duur is nie. Iets uit die 60’s. Marilyn’s 60’s Diners. Beslis die moeite werd om dié dorpie te besoek. Daar is sommer baie aktiwiteite vir die avontuurlustiges. En Tapas in PE en in Knysna. Wat ‘n lekkerte!

Familie (en vriende) is ‘n geskenk van God af. Dis spesiaal. Vriende kan jy nog self kies, maar nie familie nie. En ons kan maar vir God vertrou daarmee, Hy weet regtig die beste selfs al voel dit soms vir ons anders. Ek het net in hierdie tyd weer eens besef hoe waardevol tyd met jou familie is. Dis kosbaarder as goud of korale. Hierdie toer met die teksiebus was ‘n geskenk van die Here. Ek is so dankbaar daarvoor. Wonderlik.

Toortsie

Atkins

Dr Atkins New Diet Revolution

Ek lees tans bogenoemde boek na aanleiding van Prof Tim Noakes se verwysing daarna. Hy verwys daarna tydens sy verhoor destyds nadat hy by die Mediese Raad aangekla was oor raad wat hy vir iemand gegee het rondom babavoeding. Terloops, hy is onthef van al die aanklagte. En het jy geweet dat hy as wetenskaplike in die Mediese lyn 3e in Suid-Afrika en 1240e op die wêreldranglys is? 

Terug by die boek: Dr Atkins New Diet Revolution. Wat ‘n lieflike boek! Ek het altyd gedink dat Atkins eerder konsentreer op proteïene terwyl keto op vette konsentreer. Wat seker waar is. Maar as jy die boek lees, is daar soveel ooreenkomste en soveel te leer. Hy antwoord sommer ‘n klomp vrae wat ek nog in my hart het. 

Hy noem dat as jy vir langer as 4 weke ‘n plato bereik het, jy ernstig moet kyk na wat jy eet. Het jy nie dalk ongemerk weer meer koolhidrate begin inneem nie? Oefen jy genoeg? Moet jy nie ‘n bietjie sny op alkohol nie? Dalk moet jy melk en selfs koffie vir ‘n ruk uitsny? Neute vir ‘n ruk vermy as jy glad nie gewig verloor nie. Net groen groentes eet om weer aan die gang te kom. Natuurlik altyd jou proteïene met vet aan. Vetter snitte vleis. 

Hy noem ook dat party mense ‘n groter metaboliese weerstand het. Dit veroorsaak dat jy moeiliker gewig verloor. Die antwoord? Eet nóg minder koolhidrate. En soos wat ek soveel keer vir my groeplede sê wat dalk sukkel om die gewig af te gooi: Daar is eers metaboliese herstelwerk wat gedoen moet word. Moenie ontmoedig voel as jy nie dadelik verloor nie. Dalk het jy in jou lewe al soveel keer dieet, gewig verloor, verkeerde eetpatrone gevolg, weer opgetel. Dit laat sy merk en moet eers weer reggestel word. 

Atkins se boek is ‘n baie praktiese boek. Dit is geskryf in ‘n baie gemaklike trant en lekker om te lees. 

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Ek wil jou graag uitnooi om deel te word van ons Banting (Keto) whattsappgroep. Ons kommunikeer in Afrikaans. Ons indersteun en help mekaar om die leefstyl goed aan te pak.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie

Wanneer ander beter weet

Ek is sekerlik die laaste persoon wat hieroor mag skryf, want ek weet ook soms té beter.

In TPM is ek geleer dat die brein presies onthou wanneer jy vorige kere in jou lewe gevoel het presies soos nou. En dan natuurlik ook waar daardie gevoel se oorsprong is.

Ek is gefrustreerd met ‘n diensverskaffer wat in die verlede vir my uitstekende diens gelewer het. In Januarie 2021 moes hier ‘n klein verstellingkie kom en sedertdien is dít wat eintlik verbeter moes word, swakker. Ag, dan werk dit beter, dan swakker. Ek het hulle ‘n paar keer gebel en gevra dat iemand hiernatoe sal uitkom, maar hulle kom nie sommer net uit na enige kliënt en hier is eers ‘n paar toetse wat ek moet doen voor hulle kan uitkom. Elke keer is daar ‘n redelike aanvaarbare rede gegee hoekom dit nie werk soos dit moet nie, maar steeds werk dit nie.

Totdat ek gister my speelgoed nog nie so behoorlik nie, uitgooi. Hulle kom uit, doen ‘n paar verstellings, ry weer. NIKS het verbeter nie. Ek stel iets voor, wat ek vandag hoor, hulle hoof ook voorgestel het, maar vanoggend het iemand weer eens gevoel dat dit nie nodig is nie. Ons wag eerder nog ‘n ruk.

Dis tóé wat die frustrasie opbou en meer speelgoed uit die kot gegooi word.

Wat het dit met die TPM te doen? Ek onthou toe waar ek die eerste keer so gevoel het. Presies daardie selfde frustrasie. En noudat ek groot is, die frustrasie van PRAAT en nie GEHOOR word nie. Nie gehoor WIL word nie. Want die ander persoon WEET MOS BETER.

Ek was 6 jaar oud. Erge tandpyn. Ek huil dae en nagte om. Regter boonste kiestand is verskriklik seer. Bredasdorp het nie daardie tyd ‘n tandarts nie. Dit beteken dat ons Hermanus toe moes ry. Nog nie so ‘n mooi pad soos vandag nie. Daar aangekom vra die tandarts vir my watter tand. Ek wys hom. HY besluit: Nee, ek sal nie weet watter tand in my eie mond pyn nie. Veral nie terwyl dit al ‘n hele paar dae en nagte pyn nie. Hy trek links bo. Vir jare daarná het ek geweier om my mond vir ‘n tandarts oop te maak. My tande is getrek toe ek onder narkose was vir my mangels.

Verstaan jy daardie frustrasie? Wat sal ek nou weet of die ding in my huis werk soos dit moet? Huh? Regtig? Ek is mos nie ‘n ingenieur of ‘n tegnikus nie?

So, hoe laat dit my voel?, vra ek myself in my TPM sessie. Soos ‘n NONCOMPOUP. Soos iemand waarna nie geluister hoef te word nie. Dat ek NIKS weet nie, die ander persoon wat NOG NOOIT IN MY HUIS WAS NIE, weet beter.

Toe sê God vir my (wat ek mos eintlik weet): Hy luister vir my. Hy hoor my. Wat ek sê is nie minderwaardig nie.

Mooi né? Raai, en nou is ek glad nie meer so gefrustreerd nie. Jy weet, as húlle nie wil hoor nie, is dit mos eintlik hulle probleem. Dan nie?

Toortsie