Sê jy ‘ja’ of sê jy nee?

Volgens die boek, “Boundaries”, leer ons soms vir ons kinders, om die regte redes, verkeerde grense aan. As voorbeeld, ‘n jonger seun word deur sy ouer sussies geboelie, seergemaak, verinneweer, maar hy mag homself nie verdedig nie, want seuns mag nie aan meisies slaan nie.

“When parents teach children that setting boundaries or saying no is bad, they are teaching them that others can do with them as they wish.”

Só stuur ouers dan hul kinders sonder selfbeskerming die wêreld in, waar hul misbruik en gemanipuleer kan word.

Ons móét ons kinders leer om met vrymoedigheid én op ‘n ordentlike manier ‘nee’ te sê, om watter rede ook al.

Deur nie nee te kan sê vir verkeerde goed nie, kan jy later ook nie meer verkeerde goed herken nie.

Hierdie onvermoë om nee te sê, manifesteer op verskillende maniere: Jy’s bang om ander se gevoelens seer te maak; Vrees verwerping; Vrees straf; Bang jy word ‘n grap van gemaak; Bang jy’s onchristelik in jou optrede; Bang vir jou eie, superstreng gewete.

God verwag van ons om goed te wees vir ander mense, maar Hy verwag ook van ons om onsself te beskerm sodat ander nie misbruik maak van ons goedheid nie. Balans.

Hoe verder ek aan hierdie boek lees, hoe meer besef ek dat dit ‘n boek is vir ELKE PERSOON om te lees. Ek glo almal sal iets hieruit leer.

Groetnis
Toorts

Ek lys al die boeke wat ek bespreek, by PINTEREST.

Ons Faceboekblad

Die sterk punte (2)

Hierdie bloginskrywing volg op die bloginskrywing van gister. Dit gaan oor ‘n motiveringstoespraak van Dr Micheal Moll wat ek bygewoon het.

“Maak die beste van jou God-gegewe karaktereienskappe.” In die vorige bloginskrywing het ek klem gelê daarop dat ons ons eie beste karaktereienskappe moet ontwikkel en gebruik, op ons huweliksmaat se sterk punte moet konsentreer. Dit geld ook vir die ontwikkeling van ons kinders.

Konsentreer op jou kind se sterk punte, nie sy swakkes nie. Gee die ekstra aandag aan sy beste vakke, ontwikkel dit soveel as moontlik. Ja, die swak vakke moet aandag kry, die kind moet immers deurkom!,  maar as die swak vakke nie uitermate swak is nie, gebruik eerder jou energie om die goeie vakke te verbeter.  Die probleem is, dat as jy só op die swakker vakke konsentreer, die goeie vakke kan verswak en jy op die ou end met net ‘n gemiddelde kind sit.

“You grow most if you focus on your strength. -Exponential growth” Deur op sterk punte te konsentreer, kry jy eksponensiële groei. Dit beteken jy groei meer in verhouding as jy fokus om sterk punte te ontwikkel, teenoor swak punte. “You grow most in your area of greatest strength.”

Wat is jou sterkpunte? Het jy al ooit daaroor gedink? Wat is jou sterkste karaktereienskappe?  Nie noodwendig jou beste talente nie, maar jou karaktereienskappe? Is jy ‘n sterk leier? Of is jy eerder ‘n goeie ondersteuner? Is jy goed met planne maak, of is jy ‘n probleemoplosser? Het jy baie geduld? Is jy een wat iets vinnig afhandel? Wat is jou sterkste eienskappe?

Ek weet wat myne is, of eerder, ek dink ek weet. En noudat ek hieroor gedink het, en steeds hieroor dink, sal ek beslis nog méér doen om hierdie eienskappe te ontwikkel, tot voordeel van myself, my gesin, my huwelik, ons besigheid, ons gemeenskap.

Abraham Lincoln het blykbaar gesê: “We are all born originals. Why do so many of us die as copies?” Wie het gesê: “Those who are crazy enough to think they can change te world, normally do”? Is jý ‘crazy enough’ om so te dink?

Ons het almal sterk punte. Ons moet net dieper delf om by dit uit te kom. As ons ons sterk punte versterk, wen almal.

Aanhalings soos gegee deur M Moll.

Soek daai sterk punte in jou, jou eggenoot, jou kind, jou werker. Moenie daardeur bedreig voel nie. Ontwikkel dit! Sodat ons almal beter word.

Groete

Toortsie

Wat is jou sterk punte (1)

Ek was bevoorreg om ‘n motiveringstoespraak van Dr Micheal Moll by te woon en ek stem so saam met wat hy gesê het.

Dié aanhaling wat hy gegee het, is só waar, ook vir my: “I wish I had the courage to live true to myself and not what others expected of me.”  Ek weet nie van julle nie, maar sonder dat jy dit besef, doen jy maar, en tree jy maar op soos die gemeenskap of jou gesin of huweliksmaat van jou verwag. Ek het nie ‘n te groot probleem daarmee nie, die lewe gaan mos oor gee en neem, maar waarteen ons móét waak is dat ons persoonlikheid nie gesteel word nie. (Dis my eie woorde.)

Hy noem ‘n interessante ding, dat mense wie 30 jaar of langer getroud is, dit regkry omdat hul altyd die mooiste dink van die eggenoot. Of dit ALTYD is, weet ek nie, huwelike gaan mos maar deur erge storms soms, maar ja, hulle fokus op die eggenoot se sterk punte, eerder as om heeltyd swakplekke te probeer regstel. Ek dink dit gaan oor baie meer as net dit, maar dit is ‘n uiters goeie begin as jy begin om jou eggenoot se goeie punte raak te sien en dit te erken. Dít kan ‘n ommeswaai in jou huwelik beteken.

Hy sê: “As jy fokus op jou sterkpunte, gaan jy sukses behaal. As you grow, you become more of who you really are.”

Ek kon net my kop goedkeurend skud. Vir omtrent my hele lewe was daar twee mense wie ek probeer tevrede stel het met my optrede. Die een persoon het dit sekerlik nie eens geweet nie, ek het altyd gewonder of dit haar goedkeuring sou wegdra, tot ek oor ‘n lang tyd besef het dat sy ook maar voete van klei het, en dat ons maniere van optree in elk geval 100% verskil! Wat die ander persoon aanbetref, het ek altyd gevoel of ek dit net nie maak nie. Op ongeveer 45-jarige ouderdom het ek ‘n doelbewuste besluit geneem: “As hul dan nie hou van hoe ek dit doen nie, jammer vir hulle!” Met die een persoon kry ek nie meer te doen nie, die ander persoon raak net meer en meer tevrede met my! Want sien, ek kom nou met selfvertroue oor, omdat ek optree volgens my sterk punte, en hoe dit vir my gemaklik is, nie meer onseker omdat ek ander wil behaag nie. Natuurlik probeer ek om geen ander persoon te ná te kom in die proses nie. Eintlik respekteer ek ander mense nou nóg meer, maar ek tree op vanuit ‘n sterker en sekerder en gelukkiger ek.

Die groot probleem is dat huweliksmaats mekaar probeer verander. Natuurlik skuur ons mekaar tot beter mense, maar ons moet versigtig wees om nie van ons huweliksmaat ‘n duplikaat van onsself te maak nie. Ons is juis sterk in ons andersheid, ons vul mekaar aan, en om jou huweliksmaat eerder toe te laat om sy/haar beste self te wees, versterk ons ook die huwelik daardeur en bereik ons baie meer.

Ek gaan hierdie ‘n vervolg bloginskrywing maak, Dr Moll het nog baie dinge gesê, maar dan gaan hierdie stuk te lank raak. Intussen daag ek jou uit: Gaan dink bietjie, wat is jou sterk punte in jou karakter. Nie jou talente nie, maar jou sterk karaktereienskappe. Moenie jouself depressief of ongelukkig dink en voel jy is te ná gekom omdat jy dalk nie 100% jouself uitleef nie. Begin ook dink hoe jy dalk meer jouself kan wees, sonder om ander aanstoot te gee, hoe jy jou beste jy kan word, en in die proses ook ander meer tot seën kan wees omdat jy juis ‘n baie beter jy kan wees.

Groete
Toortsie

Wat maak jou bang?

Sondagoggend voor kerk, terwyl ons voorsanggroep oefen, vra die dominee wat ons bangmaak. Onveiligheid. Vrees dat ons kinders iets sal oorkom. Finansies. Onsekerhede in ons land.

Tydens die erediens vra hy dit in die kerk. Elkeen wat iets noem, word gevra om vir sy vrees te kom bid. ‘n Kind sê antwoord: Slange. ‘n Ander kleine kind kom smeek by God dat Hy sy ma moet gesond maak. ‘n Ou dame steek haar hand op. Sy vrees verwerping. Sy noem in haar gebed dat ons oud word en in die proses verwerp word.

Vrees vir verwerping. ‘n Vrees wat mens nie sommer hardop noem nie, nie vir jou naaste mense nie, nie in die openbaar nie. Maar hierdie tannie het die moed om haar hand op te steek en dit te noem. Ek bewonder haar daarvoor.

Hoeveel van ons het nie hierdie vrees nie?  Die vrees om verwerp te word, nie aanvaar te word nie, nie goed genoeg te wees nie? Dis moeilik om te erken, maar ook ék het dit. Is dit ‘n vorm van swak selfbeeld dalk?  Is dit ‘n geval dat jy in jou lewe tog maar soms verwerping ervaar het, selfs al is dit nie deur die ander persoon as verwerping bedoel nie, dalk deur ‘n onnadenkende opmerking deur ‘n ouer of onderwyser of ander volwassene? Dalk deur die optrede van iemand ná aan jou, jou man, jou vrou, selfs jou kinders in hul tienerjare, jou beste vriend, iemand wat jy vertrou het?

Is sommige mense dalk meer sensitief, of by tye meer sensitief?  Dieselfde dinge wat jy die een dag van jou sal laat afrol, gaan sit die ander dag onder jou vel?

Ek dink tog dat die vrees vir verwerping iets is waaraan gewerk kan word, eintlik kan ek getuig daarvan dat dit so is. Deur te werk aan jou gees, deur doelbewus aan jou selfbeeld te werk, kan jy begin beter voel oor jouself. Deur tyd met God te spandeer, Sy liefde in te drink, te besef dat jou waarde vir Hom ver bo korale is, dat Hy jou liefhet nét soos jy is, kom daar genesing. Soms is dit nodig om ‘n sleg situasie te oordink en te besef dat die probleem eintlik nie by jou lê nie, dalk voel die ander persoon nie goed nie, hy is dalk moeg en ontsteld oor iets anders en het toe teenoor jou oorreageer.

Mense sal sê dis makliker gesê as gedaan, maar ek kan opreg sê, omdat ek dit al soveel keer gedoen het: Bring jou vrese vir God. Gee dit vir Hom. Sê vir Hom waarvoor jy bang is. Vra dat Hy dit sal verwyder, jou sal beskerm, jou sal leer om dit beter te hanteer. Doen dit oor en oor. Glo Hom, Hy wíl jou help!

Sterkte
Toortsie

Ek dink ouer mense voel soms vergeet, verwerp, weerloos. Hul kinders se lewe gaan aan. Ons moet dalk regtig meer sensitief wees en uitreik na ou mense. Baie van hulle is regtig eensaam. As jy jou ouer in die ouetehuis gesoek, gesels sommer ‘n bietjie met die ander bejaardes wat jy raakloop. Gee ‘n bietjie aandag, dit beteken wondere.

Skinderstories

‘n Vriendin is ontsteld omdat dieselfde skinderstorie oor haar uit verskillende monde, deur dieselfde oorspronklike mond versprei, by haar uitgekom het.

Kyk, die een wie die oorspronklike storie versprei het, se mond moet met Sunlight Seep uitgespoel word, maar wie se nekke ek wil omdraai, is hulle wat, goed bedoelende, die storie kom aandra het. Ek wonder baie keer of die “aandraers” nie meer skade doen as die oorspronklike skinderbek nie.

Jare gelede is ek deur die plaaswerkers beskuldig dat ek ‘n growwe skinderstorie versprei het, wat natuurlik nie waar was nie. Ek het met hulle oor 2 goed gepraat, wat vermeng is in een totaal onwaar, gruwelike storie. Ek was woedend en het almal ingeroep en hard en duidelik die ware toedrag van sake vertel, en ook dat ek nie tot daar sal daal waarvan hul my beskuldig nie.

Wat maak jy in so ‘n geval? Probeer jy dit regstel? Gaan praat jy met die een wat die storie versprei? Is dit dalk meer olie op die vuur?

So ‘n storie kan jou baie seer maak. Sommer hartseer, maar ook sosiaal seer. So ‘n storie het gewoonlik “iets” van die waarheid in, wat heeltemal buite verband geruk is.

Dalk moet ‘n mens tog, as dit dan nou vir jou oorvertel is, luister daarna en werk maak daarvan AS DIT NODIG IS. Dit reg leef, soos ‘n vriendin voorgestel het. Jy weet wat jy weet, en deur dalk nie te veel te reageer nie, loop die storie sommer dood. Ek het dit al gedoen, dit dood geleef, omdat mense ook glo wat hul sien.

Karring jy te veel daaraan, is dit soos wind in ‘n vuur, dán loop die storie sommer behoorlik, want die skinderbekke kan weerskante dophou!

Party stories kan regtig skadelik wees.

Hierdie is dalk nie so ‘n seermaakstorie nie. Ons hele gesin is een keer Australië toe om by die familie te gaan kuier. Dit was in die tyd wat hier so ‘n uittog van Suid-Afrikaners was. Vier dae voor die tyd hoor ek dat ons emigreer, altans, dis hoe die storie loop.

“Toevallig” kom die bron van die storie daardie selfde oggend by ons kantoor ingestap. Ek bied vir hom koffie aan, en terwyl ek dit maak, babbel ek onophoudelik. Ek vertel hom dat my man so ‘n fantastiese werk by ‘n boer in Aussieland gekry het, en dat die juweelmaatskappy wie se juwele ek op daardie stadium gesmous het, gevra het dat ek ‘n tak in Australië moet gaan oopmaak. En ek las aan. Die arme man! :shock: Hy het nie ‘n woord ingekry nie! Hy het net sy koffie vinnig gesluk en is daar uit. ;)

Ek bel my man net daar en vertel hom die storie. Net soos dit nou maar moet wees, loop manlief hom net daarna raak en borduur voort, vertel van die boerdery, ens…

Nou ja, ons is hier weg, en wat van die storie geword het, weet ek tot vandag toe nog nie. Maar die ou het ‘n Groot Storie gehad om te vertel, soos gehoor uit die perd se bek. :)

Ons móét maar versigtig wees met wat by ons monde uitgaan, veral as dit oor iemand anders is… goedbedoeld of te nie.

Toorts

Ek plaas oulike bloginskrywings op ons Faceboekblad. Loer gerus daar.