‘n Nuwe lewe

My vingers klem die hals van my nagklere vas; dit voel asof ek versmoor so swaar druk die benoudheid op my bors, en die angsweet slaan nat op my voorkop uit.  Langs my lê Ken en snork in sy slaap; in die kamer langsaan is alles ook rustig.. ons driejarige blondekop seuntjie speel seker heerlik in droomland.  Dit is die hoeveelste angsaanval die afgelope tyd….. Vrees laat my nou byna nag, na nag in angsweet wakkerskrik.

Toe ek veertien jaar gelede met die woorde: “as God bestaan, kan Hy my eendag wys Hy lewe,” die wêreld ingestap het, het ek dit nie halfhartig gedoen nie.  Ek lewe met passie, en dit waaraan ek my hand slaan doen ek met oorgawe.  Een voet in die kerk, en een in die wêreld was dus nie ‘n  keuse nie; ek moes kies en ek het die wêreld gekies.  Ek kannie onthou wanneer “vrees vir die dood” saam met my begin stap het nie… maar hy het my nou stewig in sy greep gehad.

Ek roep nie na God, of gryp na ‘n bybel nie.  Saam met God, het ek sy woord ook uit my lewe geban.  Ek vee die sweet af, en kruip agter Ken se rug in.  Klein en kwesbaar lê ek in die donker kamer; die wêreld het vir my ‘n angswekkende plek geword.

“Jy gaan wat?” vra ek ‘n paar dae later vir Ken.  Hy het ‘n tydjie terug vir hom ‘n plek as kantoor ingerig om verder te studeer.  “Bid,” sê Ken…. ”ek het so gedink, as ek bid voordat ek leer behoort ek goed te doen.”   Bid is nie iets wat ek of Ken doen nie, dus is my verbasing te verstane.  Wel as hy dink dit gaan hom help, laat hom dan maar bid besluit ek.  Die wiel was aan die draai, ek het dit net nie besef nie.

Dis Sondagoggend; ek hang wasgoed aan die waslyn op.  Meteens begin die kerkklokke lui.  “Verbeel ek my of lui hulle ekstra hard vanoggend?”  Daar is twee dinge wat ek haat; die gelui van kerkklokke, en orrelmusiek.  Ek kners op my tande, en probeer my aandag op die wasgoed hier voor my sit, maar tevergeefs.  Dit voel asof ek te midde daardie klokke staan en hulle om, en deur my weergalm.  Met ‘n kreet laat val ek die wasgoed, en druk my hande oor my ore.  So kry Ken my toe hy om die hoek van die buitegebou gehardloop kom.  “Wat is verkeerd?” vra hy en probeer my regop trek.  “Maak stil daardie kerkklokke…. maak net stil daardie kerkklokke!!” smeek ek hom huilend.

En toe bring Ken ‘n bybel huistoe.  “Bid alleen help nie,” verduidelik hy.  “Ek gaan nou eers ‘n stukkie daaruit lees, en dan bid.”   “Net solank jy nie verwag ek moet iets daarmee te doen hê nie.” sê ek en wonder wat het geword van my “ek soek nie ‘n bybel in die huis nie,” die dag toe ons saam huis opgesit het.

“Ek gaan nie kerk toe nie!!” sê ek vir Ken ‘n paar weke later.  “Ek het gesê ek sit my voete nooit weer in ‘n kerk nie.”  Eers was dit bid, toe die bybel, en nou wil hy kerk toe gaan… alles om hom te help met sy studies.  “Jy gaan Sondag saam met my kerk toe,” sê Ken met daardie toon in sy stem wat vir my sê “no more arguing.” Ek uiter nog een desperate poging; “ek het nie ‘n hoed nie; en jy mag nie in die kerk sonder ‘n hoed ingaan nie.”  “In hierdie kerk mag jy, ek het gebel en gevra.”

Die Sondag sit ek langs Ken in die stafkamer van ‘n skool.  Ek was verlig toe ek sien die byeenkoms is nie in ‘n kerkgebou nie.  Binne my kook dit… “my liggaam is miskien hier,” dink ek, “maar luister die sal ek nie!”  Die pastoor is lank en lenig gebou.  Hy is nog jonk, definitief ‘n paar jaar jonger as ek en Ken.  Vanaf die preekstoel glimlag hy breed, en verwelkom die nuwelinge vriendelik.

Rustig begin hy sy preek; gefassineerd staar ek na sy lang arms wat in vloeiende bewegings hulle eie taal praat.   My oë volg sy arm toe hy dit stadig in die lug steek en sê, “of jy gaan hemel toe,” ek kan die wolke om sy vingerpunte sien; dan laat sak hy sy arm, en leun oor die preekstoel, laat sak sy arm grondwaarts; “of jy gaan hel toe;” die vlamme lek aan sy vingerpunte.  Onbewustelik luister ek na die woorde terwyl sy arms dan hier, dan daar in grasieuse bewegings dans…. meteens roer iets in my hart, trane vorm in my oë.  Ek sluk hulle weg, en probeer beheer oor myself kry.  “Ek kannie nou wil huil nie; dit nadat ek so met Ken baklei het omdat hy my kerk toe wil sleep.”  ‘n Geluid langs my laat my na sy kant toe kyk.  Hy onderdruk ‘n snik, haal ‘n wit sakdoek uit sy sak, en vee die trane wat oor sy wange loop daarmee af.  Nou is daar geen keer meer nie… die trane wat ek probeer keer het stort oor en ek laat hulle vrylik loop.

Die pastoor nooi ons om die volgende Sondagaand ‘n kerk “ralley,” in ‘n teater daar naby by te woon.  Oorgretig ry ons ‘n week later daarheen, en neem ons plek in ‘n vol bioskoopsaal in.  Tussen my en Ken sit ons blondekop seuntjie.  Ons hang aan elke woord van ‘n vreemde prediker,   Aan die einde van sy preek nooi hy die wat hulle harte aan Jesus wil gee vorentoe.  Soos ‘n pyl uit ‘n boog skiet Ken uit sy stoel uit op, en ek sien hom met die paadjie af verdwyn.  Toe ek opstaan om hom te volg, begin ons blondekop huil.  Ek tel hom op my skoot en sak terug op my sitplek.  Met geslote oë prewel ek diè paar woorde; “Here, as dit wat ek vanaand hier gehoor het waar is, hier is ek.”

Dit is eers die volgende oggend by die werk dat ek besef iets drasties IN my het verander.  Een van die Ingenieurs saam met wie ek werk, kom na my lessenaar toe geloop; “Het ek die naweek ‘n lekker grap gehoor,” sê hy en vertel vir my die grappie.  Waar ek voorheen sou skater, kyk ek hom net verslae aan.  “Jy lag nie?” vra hy ongelowig.  Ek skud my kop; “Dit is ‘n vuil grap,” sê ek, en wonder benoud wat gaan met my aan…. Dit was maar net die begin van ‘n nuwe lewe, en ‘n pad wat ek glad nie verstaan het nie.

Posted in God en ek | 8 Kommentaar

Vanoggend se diens…

Vanoggend se diens het nogals op my emosies gewerk…

Ons was amper laat, en toe ons instap was die kerk redelik vol. Ons sit toe sommer net so links van die deur op die heel agterste bank. Dis op presies dieselfde plek wat ons gesit het met Sextus se begrafnis so 5 jaar terug, en my broer het in ‘n rolstoel gesit, net mooi langs die bank. Hy was vir baie lank in ‘n koma en dit was ‘n wonderwerk dat hy geleef het. Dit was seker die eerste keer wat hy weer in die kerk was. Vriende van ons het so ‘n entjie verder gesit en ek was nie seker of sy geweet het hoe my broer lyk nie. Ek het nog vir haar beduie dat dit hy is.

Maar om vanoggend se prentjie toe net nog meer in te kleur, sit oom Dana toe daar in sy rolstoel, net in die ry voor ons!! Maar die mooiste vir my was dat elke keer wat ons gesing het, tannie Anne opgestaan het en langs hom gaan staan het met haar arm so om sy skouers. Ná die tyd het ek sommer vir hulle ‘n druk gaan gee!!

En in die diens het ek die mooiste, mooiste moedersdagpreek gehoor wat ek nog ooit gehoor het. Regtig, dit was aangrypend. Om dit oor te vertel, is moeilik. Nadat al die mooi van moederskap besing was, het die dominee tog gesê dat hy soms die gevoel kry dat mammas nie meer so baie tyd vir hulle kinders het nie…

Toe dink ek sommer aan my ma. Ek skryf nie baie oor haar nie omdat ons by tye ‘n baie stormagtige verhouding gehad het. Sy leef nog en ons het vandag saam geëet. Ek is dankbaar dat ons deur die jare geleer het om mekaar beter te hanteer en dat dit eintlik nou baie goed gaan tussen ons. As ek nou daaroor dink, besef ek dat wat sy gedoen het, sy dit gedoen het omdat sy vir ons wou goed doen en goed wees. Al het ons dalk nie altyd gehou van die manier wat sy dinge doen omdat ander dinge dalk vir my belangrik was, het sy die beste bedoel. En daarvoor sê ek: “Dankie Ma.”

Posted in Ouerskap en ouerleiding | 5 Kommentaar

lojaliteitsprogramme

Soveel winkels en ander instansies beloon lojale kliënte.  Partykeer voel ek dat ek eerder sou verkies om minder te betaal vir my produkte, as die “geskenkie” wat ek kry, maar aan die ander kant is die programme daar en is ons eenvoudig hardekop as ons nie daaraan deelneem nie. Die belonings is reeds ingereken in die pryse van die produkte, so, as ons nie deelneem aan die lojaliteitsprogram nie, verloor ons.

Die eerste van hierdie programme waarmee ek te doen gekry het, was Clicks. Elke drie maande is die beloninkie in die pos, en dit het al handig te pas gekom. Jy kan die geskenkie slegs in Clicks benut.

Ons is deel van Vitality se lojaliteitsprogram, maar ons maak nie regtig daarvan gebruik nie, daarom voel ek dis geldmors (vir ons). Die ding van al hierdie programme is, dat dit net voordelig is as jy dit gebruik.

Die een wat vir my oor en oor die moeite werd is, is Ebucks van FNB. Dis gekoppel aan my kredietkaart en elke keer as ek my kredietkaart gebruik, word ek beloon!! Die heel lekkerste daarvan is dat die Ebucks by verskillende winkels gebruik kan word, soos Makro, Cape Union Mart, en waar nog orals. Dit gee my toegang tot winkels waarby ek nie in normale omstandighede koop nie omdat dit net te duur is, maar met die “komplimente van FNB” het ons dan die voorreg om onsself soms ‘n bietjie te bederf. (Hulle beloon ook die ander tipe bankrekeninge wat ‘n mens by hulle kan kry, dus nie net kredietkaarte nie.)

Nog steeds van FNB gepraat – Met ons onlangse toer het ons hulle sitkamers op die lughawens ontdek. WAT ‘n FEES!! As jy moeg gevlieg net ‘n bietjie daar kan gaan ontspan, in plaas van op die harde lughawe-bankies sit… hemels!!

Van watter lojaliteitsprogramme maak julle gebruik? Wat werk vir julle? Wat werk nie so lekker nie?

Toorts

Posted in Geldsake | 11 Kommentaar

met ‘n ander se kalwers ploeg…

Terwyl Seegogga so lekker kerjakker in Holland, hou ons lot hier by die huis die fort, net soos wat ander weer die fort hou as ek kerjakker! Sy vra my toe om in haar plek die “voorgesette onderwys” waarby sy betrokke is, waar te neem. Ek kon nie al haar klasse waarneem nie, maar wel op ‘n Donderdag die Afrikaans en EBW. Die Afrikaanse klas moet ‘n koerant maak. (Besef sy dat ek nie eers koerant lees nie? Wat weet ek van ‘n koerant af?) EBW is een van die vakke wat ek, uit die aard van my opleiding, behoort te kan gee…. maar….  ‘n sakeplan? Watse ding is dit???

‘n Deel van die opdrag is dat hulle elkeen ‘n koerantberig moet skryf, wat hulle vandag saamgebring het. Hulle het toestemming gegee om hul foto asook hulle beriggies te publiseer.  Ek is nie seker of dit kwalifiseer vir ‘n koerantberig nie, daaroor moet Seegogga besluit, maar die insig wat hulle getoon het, het my diep geraak.

So lyk Jacobus Jaers (heel links) se berig:

Hendrik Abrahams:

Kosbaar, né? Die dame het net so mooi geskryf, maar sy wil nog eers ‘n bietjie skaaf.

Dankie, Seegogga dat ek so ‘n bietjie met jou kalwers kon ploeg!

Mnr Nel het by my skrywe van gister so ‘n mooi kommentaar geskryf, maar onder andere skryf hy: “As ek soms deur die dale van die skaduwee gaan dan kies ek gewoonlik ‘n kind in my skool wat sukkel. Ek sit saam met hom vir twee dae, elke pouse. Ek werk vir hom ‘n studierooster uit en dan kyk ek met watter afdeling van ‘n leerarea hy/sy sukkel en dan teach ek dit. Die resulterende punte en glilag en aha oomblikke glo ek is meer werd as ‘n houtkruis vir dracula en ‘n muis vir ‘n olifant as ‘n teengif vir die laaglande. ” Net so, Mnr Nel, Net So!!

Toorts

 

Posted in Opheffingswerk; Opvoeding | 11 Kommentaar

Positiewe ek het ook maar soms my afdae

Ja! Dit is so! Ek verkies net om ‘n positiewe boodskap uit te stuur. Of moet ek myself korrigeer – ek HOOP ek stuur positiewe boodskappe uit. Maar dis juis die positiefste onder die positiewes wat baie keer ook maar afdae het. Kyk maar na ons grootste komediante – selfs hulle het baie diep insinkings. Myne is gelukkig nie baie diep nie, omdat, as ek ervaar dat ek ‘n insinking begin kry, ek dadelik vir God inroep. En Hy het nog altyd gehelp!!

Ek is ‘n aandmens en kan tot laat-aand lekker kuier en gesels sonder om moeg te word, maar om môre-oggend vroeg op te staan is nie altyd maklik nie. Tog het my kinders oor jare geleer dat as hulle my iets wil vra, dit beter is om dit in die dag te doen. Saans voel dinge vir my erger, veral as ek ‘n moeilike dag agter die rug het. As hulle iets in die aand vra, kan ek maklik oorweldig voel, terwyl dieselfde ding die volgende oggend soos ‘n muggie lyk. Dit het al baie keer gebeur dat ek in die aand iets van my blog afhaal… net om dit ‘n oggend of twee later weer terug te sit. Dis in die aand wat ek angstig raak in vrees dat iemand my dalk verkeerd verstaan het… Snaaks, noudat ek ouer word, raak ek saans vroeër lus vir inkruip!

Maar van af gepraat…. Die menopause wat vir soveel goed die skuld kry…. menopouse of nie, dit was vir my moeilik toe my kinders skielik almal groot en uit die huis uitis. Maar gelukkig gaan dit nou alreeds baie baie beter!

Eintlik gaan dit sommer spiekeries!! :lol:

Toorts

Maak die beste van elke geleentheid!!

 

 

 

Posted in Motivering en Bemoediging | Tagged , , | 10 Kommentaar

Vuurdoop

Nege maande na ons wedergeboorte is Ken en ek oornag ontwortel, en tussen die mielielande geplant.  Die platteland was vreemd, die mense was vreemd, en bo alles was hierdie nuwe Lewe saam met God vreemd.

Ons “geestelike vader,” het seker gemaak dat ons versorg sal wees in die vreemde, en het ‘n gemeente daar op ons koms voorberei.  Na ‘n nag wat ons op die harde grond deurgebring het - omdat die trok waarop ons meubels was – eers deur die nag daar aangekom het; was ‘n vrou met ‘n mandjie in haar hande voorwaar ‘n heuglike gesig.  Die eetgoed was baie welkom, en die uitnodiging na die Sondag se erediens ook.

Ek en die vreemde “dame,” sou nog groot vriendinne word, maar op daardie dag was sy ‘n vreemdeling in engelgewaad.  Die engel het ek spoedig uitgevind is die bybelstudieleidster, en die daaropvolgende Woensdagoggend is ek bybelstudie toe.  Die weke wat daarop gevolg het, het ek gretig God se Woord ingedrink…. maar my mond was “tjoepstil.”

Op ‘n dag lui die telefoon.  Ek tel die gehoorbuis op… “Hello daar,” sê die by nou bekende stem, maar vandag is daar ‘n hees ondertoon daaraan.  “Ek is siek, en sal definitief nie Woensdag se bybelstudie kan waarneem nie.”  “Jammer om dit te hoor,” my stem klink heel simpatiek.  Haar volgende woorde laat my bloed yskoud word;  “Ek het oor die saak gebid, en die Here het jou aangewys om Woensdag se bybelstudie te lei.”  “Wie… EK?” vra ek verdwaas.  “Ja, definitief jy… ek los dit dan in jou hande? reg”  As hierdie “engel,” nog nooit in haar lewe verkeerd gehoor het nie, was haar geestelike ore nie hierdie keer reg ingestel nie, daarvan is ek seker.  Outomaties gaan my mond oop om “NEE!!” te sê, en tot my stomme verbasing verander die woorde op hul pad uit, en ek hoor myself sê; “Ja, word jy nounet gesond.”

In ‘n dwaal gaan sit ek by die ronde eetkamer tafel.  “Here,” roep ek wanhopig, “U verwag sekerlik nie rêgtig van my om voor al daardie vroue ‘n bybelstudie te lei nie?  Waaroor kan ek in elk geval praat?”  Die stem hierbinne my is onmiskenbaar God; “Praat oor gebed.”  Praat oor gebed… ek, wat nie eers hardop voor mense bid nie?

Ek was juis besig met bybelstudie toe die foon gelui het.  Papier en pen is dus byderhand; ek trek ‘n skoon vel papier nader, neem die pen op, en wag vir inspirasie.  ‘n Uur of wat later en ek staar nogsteeds na die skoon vel papier…bo teen die hoek is daar  darem ‘n bybelvers geskryf.

Dit is Woensdagoggend; die dag van my vuurdoop; die vel papier wat ek drie dae tevore nader getrek het, lyk presies nog net soos op die eerste dag.  My maag is een naar kol, en my kake is so styf opmekaar geklem dat ek skaars met Ken en die kinders kan praat.  Soos ‘n lewende dooie ry ek die nou bekende pad, en stap – bybel onder die arm – die kerk ‘n rukkie later binne.  Ek kannie lag en praat nie; my vasgeklemde kake maak dit ‘n saak van onmoontlikheid.  Ook neem ek nie die leidsterstoel in nie, maar gaan sit in een van die stoele wat in ‘n halfsirkel uitgepak is…. Hopende vir ‘n wonderwerk.  Die wonderwerk gebeur nie; een van die dames open met gebed, doen ‘n paar afkondiginge, en meld toe aan dat “Kameel,” vanoggend se bybelstudie sal waarneem.  Sy kyk in my rigting, knik haar kop en neem dan haar plek by die ander dames in.  Die uur van waarheid het aangebreek.

Ek gaan sit en kyk na die halfsirkel vrouens hier voor my;  “Here help!” roep ek boontoe.  “As you all know I am actually Afrikaans speaking,”  begin ek.  “I hope you all understand Afrikaans, as I do not believe myself capable of giving this bible study in English (who am I kidding…. what bible study?????)  “I would like to speak to you this morning about prayer.”  Nou kan ek net sowel “amen,” sê, en maak dat ek by die huis kom.  Maar ek beur voort.  Ek maak my mond oop om in my moedertong ‘n paar gedagtes wat ek rondom gebed het, te formuleer, toe my mond meteens met Engelse woorde gevul word, en soos ‘n lewende stroom uit my binneste begin vloei.  Ek hoor my eie stem vanuit die hoeke van die kerk na my toe terugslaan, en luister in verwondering na die wysheid en insig oor die krag van gebed, wat my stem – waarvan ek nie in beheer is nie – verkondig.

Toe alles stil word, kan jy ‘n speld in die gebou hoor val.  In gewyde stilte sit ons voor ‘n lewende God; dan praat ‘n vrouestem.  “I don’t think we should stay for tea this morning… let us go home and meditate on the message that we received from God.”

Oppad terug besef ek wat in daardie bybelstudie gebeur het, het niks met my wysheid en vermoëns te doen gehad nie.  God het ‘n instrument gesoek om deur te praat…. al wat Hy van my gevra het was gehoorsaamheid aan Sy stem.

Posted in God en ek | 14 Kommentaar

Saamboerdery

Wat ek hier skryf het nie net op boerdery betrekking nie, maar op enige klein (of groot) besigheid.

Saamboerdery kan wonderlik werk, maar dit kan ook baie wrywing veroorsaak tussen die twee persone wat saamboer. Baie keer is dit broers.

Ek het al van verskillende weergawes gehoor. In sommige gevalle word ‘n baie klein “salaris” deur die verskillende broers getrek, terwyl die boerdery betaal om die huis, voertuie, en selfs vakansies te finansier. Op die lang duur bring dit maar grommery te voorskyn, want dalk word daar meer geld aan die een se huis spandeer as aan die ander een.

My voorstel is regtig dat, selfs al boer jy alleen, maar veral waar saam geboer word, ‘n billike salaris aan die persoon wat die werk doen, betaal word. Sodat die boerdery (besigheid) se geld apart gehou word, en die betrokke persone hulle finansies kan hanteer soos dit hulle pas.

Soms wil een van die vennote se vroue dalk ook betrokke raak by die boerdery, maar kan sy nie werk nie, want hul is in ‘n vennootskap en die ander vrou wil dalk nie werk nie. In baie besighede is die ou idee nog geldig dat die vrou nie betrek moet word nie. Dis NONSENS! Bereken ‘n bedrag per uur, of ‘n maandelikse salaris, en betrek haar! Sy kan soveel nuttige insette lewer tot voordeel van julle besigheid!  Betaal elkeen vir sy dienste, net soos wat julle enige iemand anders sou betaal wat by julle werk. Ek is ‘n absolute voorstander daarvan dat hoe meer mense met eie belang in die besigheid betrek word, hoe beter!

Hoe maak julle in julle familie-besighede?

………………..

Ns. Só lyk die koring wat op 28 April, 10 dae gelede, geplant is nou:

Groete, Toortsie

Posted in Plaaslewe en Landbousake | Tagged , , , | 8 Kommentaar