My vingers klem die hals van my nagklere vas; dit voel asof ek versmoor so swaar druk die benoudheid op my bors, en die angsweet slaan nat op my voorkop uit. Langs my lê Ken en snork in sy slaap; in die kamer langsaan is alles ook rustig.. ons driejarige blondekop seuntjie speel seker heerlik in droomland. Dit is die hoeveelste angsaanval die afgelope tyd….. Vrees laat my nou byna nag, na nag in angsweet wakkerskrik.
Toe ek veertien jaar gelede met die woorde: “as God bestaan, kan Hy my eendag wys Hy lewe,” die wêreld ingestap het, het ek dit nie halfhartig gedoen nie. Ek lewe met passie, en dit waaraan ek my hand slaan doen ek met oorgawe. Een voet in die kerk, en een in die wêreld was dus nie ‘n keuse nie; ek moes kies en ek het die wêreld gekies. Ek kannie onthou wanneer “vrees vir die dood” saam met my begin stap het nie… maar hy het my nou stewig in sy greep gehad.
Ek roep nie na God, of gryp na ‘n bybel nie. Saam met God, het ek sy woord ook uit my lewe geban. Ek vee die sweet af, en kruip agter Ken se rug in. Klein en kwesbaar lê ek in die donker kamer; die wêreld het vir my ‘n angswekkende plek geword.
“Jy gaan wat?” vra ek ‘n paar dae later vir Ken. Hy het ‘n tydjie terug vir hom ‘n plek as kantoor ingerig om verder te studeer. “Bid,” sê Ken…. ”ek het so gedink, as ek bid voordat ek leer behoort ek goed te doen.” Bid is nie iets wat ek of Ken doen nie, dus is my verbasing te verstane. Wel as hy dink dit gaan hom help, laat hom dan maar bid besluit ek. Die wiel was aan die draai, ek het dit net nie besef nie.
Dis Sondagoggend; ek hang wasgoed aan die waslyn op. Meteens begin die kerkklokke lui. “Verbeel ek my of lui hulle ekstra hard vanoggend?” Daar is twee dinge wat ek haat; die gelui van kerkklokke, en orrelmusiek. Ek kners op my tande, en probeer my aandag op die wasgoed hier voor my sit, maar tevergeefs. Dit voel asof ek te midde daardie klokke staan en hulle om, en deur my weergalm. Met ‘n kreet laat val ek die wasgoed, en druk my hande oor my ore. So kry Ken my toe hy om die hoek van die buitegebou gehardloop kom. “Wat is verkeerd?” vra hy en probeer my regop trek. “Maak stil daardie kerkklokke…. maak net stil daardie kerkklokke!!” smeek ek hom huilend.
En toe bring Ken ‘n bybel huistoe. “Bid alleen help nie,” verduidelik hy. “Ek gaan nou eers ‘n stukkie daaruit lees, en dan bid.” “Net solank jy nie verwag ek moet iets daarmee te doen hê nie.” sê ek en wonder wat het geword van my “ek soek nie ‘n bybel in die huis nie,” die dag toe ons saam huis opgesit het.
“Ek gaan nie kerk toe nie!!” sê ek vir Ken ‘n paar weke later. “Ek het gesê ek sit my voete nooit weer in ‘n kerk nie.” Eers was dit bid, toe die bybel, en nou wil hy kerk toe gaan… alles om hom te help met sy studies. “Jy gaan Sondag saam met my kerk toe,” sê Ken met daardie toon in sy stem wat vir my sê “no more arguing.” Ek uiter nog een desperate poging; “ek het nie ‘n hoed nie; en jy mag nie in die kerk sonder ‘n hoed ingaan nie.” “In hierdie kerk mag jy, ek het gebel en gevra.”
Die Sondag sit ek langs Ken in die stafkamer van ‘n skool. Ek was verlig toe ek sien die byeenkoms is nie in ‘n kerkgebou nie. Binne my kook dit… “my liggaam is miskien hier,” dink ek, “maar luister die sal ek nie!” Die pastoor is lank en lenig gebou. Hy is nog jonk, definitief ‘n paar jaar jonger as ek en Ken. Vanaf die preekstoel glimlag hy breed, en verwelkom die nuwelinge vriendelik.
Rustig begin hy sy preek; gefassineerd staar ek na sy lang arms wat in vloeiende bewegings hulle eie taal praat. My oë volg sy arm toe hy dit stadig in die lug steek en sê, “of jy gaan hemel toe,” ek kan die wolke om sy vingerpunte sien; dan laat sak hy sy arm, en leun oor die preekstoel, laat sak sy arm grondwaarts; “of jy gaan hel toe;” die vlamme lek aan sy vingerpunte. Onbewustelik luister ek na die woorde terwyl sy arms dan hier, dan daar in grasieuse bewegings dans…. meteens roer iets in my hart, trane vorm in my oë. Ek sluk hulle weg, en probeer beheer oor myself kry. “Ek kannie nou wil huil nie; dit nadat ek so met Ken baklei het omdat hy my kerk toe wil sleep.” ‘n Geluid langs my laat my na sy kant toe kyk. Hy onderdruk ‘n snik, haal ‘n wit sakdoek uit sy sak, en vee die trane wat oor sy wange loop daarmee af. Nou is daar geen keer meer nie… die trane wat ek probeer keer het stort oor en ek laat hulle vrylik loop.
Die pastoor nooi ons om die volgende Sondagaand ‘n kerk “ralley,” in ‘n teater daar naby by te woon. Oorgretig ry ons ‘n week later daarheen, en neem ons plek in ‘n vol bioskoopsaal in. Tussen my en Ken sit ons blondekop seuntjie. Ons hang aan elke woord van ‘n vreemde prediker, Aan die einde van sy preek nooi hy die wat hulle harte aan Jesus wil gee vorentoe. Soos ‘n pyl uit ‘n boog skiet Ken uit sy stoel uit op, en ek sien hom met die paadjie af verdwyn. Toe ek opstaan om hom te volg, begin ons blondekop huil. Ek tel hom op my skoot en sak terug op my sitplek. Met geslote oë prewel ek diè paar woorde; “Here, as dit wat ek vanaand hier gehoor het waar is, hier is ek.”
Dit is eers die volgende oggend by die werk dat ek besef iets drasties IN my het verander. Een van die Ingenieurs saam met wie ek werk, kom na my lessenaar toe geloop; “Het ek die naweek ‘n lekker grap gehoor,” sê hy en vertel vir my die grappie. Waar ek voorheen sou skater, kyk ek hom net verslae aan. “Jy lag nie?” vra hy ongelowig. Ek skud my kop; “Dit is ‘n vuil grap,” sê ek, en wonder benoud wat gaan met my aan…. Dit was maar net die begin van ‘n nuwe lewe, en ‘n pad wat ek glad nie verstaan het nie.



