Vuurdoop

Nege maande na ons wedergeboorte is Ken en ek oornag ontwortel, en tussen die mielielande geplant.  Die platteland was vreemd, die mense was vreemd, en bo alles was hierdie nuwe Lewe saam met God vreemd.

Ons “geestelike vader,” het seker gemaak dat ons versorg sal wees in die vreemde, en het ‘n gemeente daar op ons koms voorberei.  Na ‘n nag wat ons op die harde grond deurgebring het - omdat die trok waarop ons meubels was – eers deur die nag daar aangekom het; was ‘n vrou met ‘n mandjie in haar hande voorwaar ‘n heuglike gesig.  Die eetgoed was baie welkom, en die uitnodiging na die Sondag se erediens ook.

Ek en die vreemde “dame,” sou nog groot vriendinne word, maar op daardie dag was sy ‘n vreemdeling in engelgewaad.  Die engel het ek spoedig uitgevind is die bybelstudieleidster, en die daaropvolgende Woensdagoggend is ek bybelstudie toe.  Die weke wat daarop gevolg het, het ek gretig God se Woord ingedrink…. maar my mond was “tjoepstil.”

Op ‘n dag lui die telefoon.  Ek tel die gehoorbuis op… “Hello daar,” sê die by nou bekende stem, maar vandag is daar ‘n hees ondertoon daaraan.  “Ek is siek, en sal definitief nie Woensdag se bybelstudie kan waarneem nie.”  “Jammer om dit te hoor,” my stem klink heel simpatiek.  Haar volgende woorde laat my bloed yskoud word;  “Ek het oor die saak gebid, en die Here het jou aangewys om Woensdag se bybelstudie te lei.”  “Wie… EK?” vra ek verdwaas.  “Ja, definitief jy… ek los dit dan in jou hande? reg”  As hierdie “engel,” nog nooit in haar lewe verkeerd gehoor het nie, was haar geestelike ore nie hierdie keer reg ingestel nie, daarvan is ek seker.  Outomaties gaan my mond oop om “NEE!!” te sê, en tot my stomme verbasing verander die woorde op hul pad uit, en ek hoor myself sê; “Ja, word jy nounet gesond.”

In ‘n dwaal gaan sit ek by die ronde eetkamer tafel.  “Here,” roep ek wanhopig, “U verwag sekerlik nie rêgtig van my om voor al daardie vroue ‘n bybelstudie te lei nie?  Waaroor kan ek in elk geval praat?”  Die stem hierbinne my is onmiskenbaar God; “Praat oor gebed.”  Praat oor gebed… ek, wat nie eers hardop voor mense bid nie?

Ek was juis besig met bybelstudie toe die foon gelui het.  Papier en pen is dus byderhand; ek trek ‘n skoon vel papier nader, neem die pen op, en wag vir inspirasie.  ‘n Uur of wat later en ek staar nogsteeds na die skoon vel papier…bo teen die hoek is daar  darem ‘n bybelvers geskryf.

Dit is Woensdagoggend; die dag van my vuurdoop; die vel papier wat ek drie dae tevore nader getrek het, lyk presies nog net soos op die eerste dag.  My maag is een naar kol, en my kake is so styf opmekaar geklem dat ek skaars met Ken en die kinders kan praat.  Soos ‘n lewende dooie ry ek die nou bekende pad, en stap – bybel onder die arm – die kerk ‘n rukkie later binne.  Ek kannie lag en praat nie; my vasgeklemde kake maak dit ‘n saak van onmoontlikheid.  Ook neem ek nie die leidsterstoel in nie, maar gaan sit in een van die stoele wat in ‘n halfsirkel uitgepak is…. Hopende vir ‘n wonderwerk.  Die wonderwerk gebeur nie; een van die dames open met gebed, doen ‘n paar afkondiginge, en meld toe aan dat “Kameel,” vanoggend se bybelstudie sal waarneem.  Sy kyk in my rigting, knik haar kop en neem dan haar plek by die ander dames in.  Die uur van waarheid het aangebreek.

Ek gaan sit en kyk na die halfsirkel vrouens hier voor my;  “Here help!” roep ek boontoe.  “As you all know I am actually Afrikaans speaking,”  begin ek.  “I hope you all understand Afrikaans, as I do not believe myself capable of giving this bible study in English (who am I kidding…. what bible study?????)  “I would like to speak to you this morning about prayer.”  Nou kan ek net sowel “amen,” sê, en maak dat ek by die huis kom.  Maar ek beur voort.  Ek maak my mond oop om in my moedertong ‘n paar gedagtes wat ek rondom gebed het, te formuleer, toe my mond meteens met Engelse woorde gevul word, en soos ‘n lewende stroom uit my binneste begin vloei.  Ek hoor my eie stem vanuit die hoeke van die kerk na my toe terugslaan, en luister in verwondering na die wysheid en insig oor die krag van gebed, wat my stem – waarvan ek nie in beheer is nie – verkondig.

Toe alles stil word, kan jy ‘n speld in die gebou hoor val.  In gewyde stilte sit ons voor ‘n lewende God; dan praat ‘n vrouestem.  “I don’t think we should stay for tea this morning… let us go home and meditate on the message that we received from God.”

Oppad terug besef ek wat in daardie bybelstudie gebeur het, het niks met my wysheid en vermoëns te doen gehad nie.  God het ‘n instrument gesoek om deur te praat…. al wat Hy van my gevra het was gehoorsaamheid aan Sy stem.

About these ads
This entry was posted in God en ek. Bookmark the permalink.

14 Responses to Vuurdoop

  1. Toortsie sê:

    Dankie dankie dankie Kameel.
    Wil jy nie vir ons vertel hoe dit gekom het dat julle tot bekering gekom het nie?

  2. seegogga sê:

    Ek wil ook graag weet, Kameel. Jou lewe het al sulke draaie geneem!

    • Kameel sê:

      Ek sou my lewensboek rustiger wou skryf as ek hom kon oorskryf seegogga; maar nou het ek al soveel stofpaaie gestap…. my skoensole is al deurgeloop :shock:

  3. Olga sê:

    Wow, dit was moedig van jou.

    • Kameel sê:

      Olga, as ek mooi oor my lewe dink besef ek, ek is nog altyd (of meeste van die tyd,) net diepwater ingegooi. Sou ek eers tyd gegun word om oor ‘n saak te dink, sou ek seker mooi netjies myself daaruit “manauver” het. ;)

  4. dirkiedoep sê:

    Baie dankie.

  5. Ken sê:

    ‘N lang, ongeskraapte stof pad het “Kameel” gestap
    Ken

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s