Die stil kind slot

Nie lank na die stil kind se ouer broer uit die tehuis gekom het nie, maak hy met haar kontak.  Sy het my gebel om van die ontmoeting te vertel, en ek kon hoor sy was opgewonde.  Ons kinders was egter nie so gelukkig nie; “Ek verstaan dit glad nie,” sê ons oudste dogter, “sy is ons sussie,”  Ons Portugese dogter; twee jaar jonger as die stil kind (met haar eie storie,) was baie verontwaardig.  Natuurlik agter my rug het sy aan haar susters gesê, “Hoe kan sy dit aan mamma doen, ek sal dit nooit oor my hart kry om dit te doen nie.”  Die drie meisiekinders konfronteer my met die stil kind se “verraad,” soos hulle dit noem.  “Dit is nie verraad nie,” verseker ek hulle, “dit is dood natuurlik dat sy haar broers en suster wil ontmoet.”  Tevrede dat dit my goedkeuring wegdra gaan hulle, maar in elkeen se hart het ‘n doring kom sit wat in die jare wat kom dikwels pyn sou veroorsaak.

Die kind se lewe was nie een van rustige waters wat elke wan en dan oor meer rowwe terrein gevloei het nie.  Sy het hoë golwe gery, om dan weer hard op die sand neergegooi te word.  Daar gebeur dinge met haar wat die vrees van haar kindertyd opnuut in haar wakker maak, en haar na kos laat gryp.  Op ‘n dag bel sy huilend, sy het verby twee swart mans in ‘n parkeerterrein gestap, toe ‘n stem in haar binneste sê “duik agter hierdie motor in.”  Sy reageer net toe ‘n koël verby haar kop fluit.  Die klein dogtertjie in haar praat toe sy vir my sê, “Kan ons nie teruggaan soos dit was nie…. net pappa, mamma, ek en my kind.”

Bekommerd oor haar en haar kind se welstand praat ons op ‘n dag met ons oudste seun wat aan die Suidkus bly.  Hy en sy vrou doen berading, en hy reken dat ‘n tydjie by hulle aan huis haar goed sal doen.  “Julle sal haar baie subtiel moet nader,” waarsku ek.  “’n Direkte benadering, en sy gaan mure om haar bou, en julle gaan met haar “stubborn,” kant te doen kry.”  Die uiteinde van die saak was dat sy gegaan, en vroër as beplan teruggekom het;  Toe ek by haar gaan inloer, het ek onvoorbeid ‘n geestelike oorlogsveld binnegeloop, en bebloed en verwond daar uitgeloop.

Jaar na jaar vertel sy my nogsteeds alles wat in haar lewe gebeur, dinge wat my hare laat rys, my laat huil, my in my bed laat ronddraai, maar ook laat lag het.  Soos die dag toe haar broer haar uiteindelik oorreed om saam met hom na haar ma en diế se nuwe man toe te gaan.  Haar vertelling is lewend, en ek kan sien hoe sy agter die motor se stuurwiel begin kriewel toe hulle ‘n baie arm woonbuurt binnery.  Sy loer benoud om haar rond, en wonder of sy ooit weer die pad uit sal kry.  Voor ‘n armmoedige huisie stop hulle, alles om haar spreek van armoede en verwaarlosing.  Die verwelkoming is oorweldigend, die tandlose glimlagte en drankasems hier teenaan haar gesig laat haar terugstaan.  Sy voel haarself styf teen ‘n muur vasgedruk, en nogsteeds kom die menslike liggame nader.  Haar pa is ook daar, en sy verstaan nie hoekom hy by sy eks-vrou se huis is nie, maar hoor later dat hy gehaal word as een van die kinders kom kuier.  Sy duik uiteindelik onder die baie arms deur, en gaan soek na ‘n badkamer.  Vandaar bel sy haar man, en in ‘n fluisterende stem probeer sy so noukeurig moontlik verduidelik waar sy is, “As ek by vanaand nog nie by die huis is nie, kom soek my asseblief,” smeek sy.”

Van daardie dag af sê die kind gereeld vir my en my man, “Pappa, en mamma, ek wil vir julle baie dankie sê dat julle my gevat en grootgemaak het as julle eie kind.  Ek weet nie wat andersins van my sou geword het nie…. ek glo ek sou op straat gewees het.”  Partykeer was daar trane in haar oë as sy dit sê, ander kere weer het haar stem gebreek.  Maar die woorde was min of meer altyd dieselfde.

Soos haar broers uit die tehuis uitgekom, en met haar kontak gemaak het, het sy meer van die familie ontmoet.  Natuurlik het daar baie staaltjies na hierdie ontmoetings gevolg, lagwekkende gebeurtenisse, maar op ‘n manier tog maar hartseer.  Haar pa se swerwerslewe het tot ‘n einde gekom toe die motor wat hom opgelaai het, in ‘n botsing betrokke was.  Haar ouer broer gaan haal hom af en toe uit die tehuis waar hy versorg word.  “Ek sien hom in die rystoel sit, en kry hom jammer omdat hy soos ‘n baba doek moet dra, en gevoer word,” sê die kind, “maar ek voel vir hom niks…. hy is nie my pa nie, pappa is.”  Sy word kwaad as mense vir haar sê sy lyk soos haar ma, “sy is net ‘n vreemde vrou, en sal nooit my ma wees nie.”  Maar iets in haar begin verander, stadig maar seker is sy besig om weg te raak; ek kyk maar kan haar nie meer duidelik sien nie.  Ek praat maar my stem slaan teen ‘n onsigbare muur vas.

Op ‘n dag sit sy voor my, haar stem so dood soos haar oë, “Baie jare gelede het mamma vir my gesê ek is ‘n kind, wat ‘n kind wil grootmaak.”  Ek sê niks, ek luister.  Haar oë skiet vol trane, “Mamma was reg, ek het nie geweet wat ek doen nie, en het ‘n groot gemors van my kind se lewe gemaak.”  Ek wag.  “Ek moes haar laat aanneem het.”  Sy kyk met die opslaan van haar oë, en vinnig afkyk na my, en dit moet vir haar moeilik wees om die volgende woorde te sê; maar sy sê dit omdat sy nog altyd alles vir my gesê het.  “Ek dink ek haat hierdie kind.”

Later toe my man by is praat sy weer, sonder haar sprankel en animasie teken sy in woorde vir ons ‘n prentjie.  Ek is weer in die sielkundige se spreekkamer, en kyk na ‘n prentjie van ‘n huis met mense in wat hulle normale gang gaan.  Buite is ‘n tuin, en daar in die regterkantste hoekie staan ‘n figuurtjie klein en half onsigbaar, met seunsklere aan; en ek voel hoedat die bodem uit my wêreld val.  Dit is my man wat praat, “En dit is soos jy voel, daar is nie vir jou plek in die familie nie.”  Sy knik haar kop, en kyk half smekend na my, “Mamma vra my nou al vir so lank hoekom lag ek nie meer nie, ek lag nie want ek pas nie hier nie.”  Dit is weer my man wat praat, “En wanneer jy by jou broers is, kan jy lag en is jy gelukkig?”  Weer knik sy haar kop.  Dan hoor ek my man sê, “Dit is al wat ons nog altyd vir jou wou gehad het, dat jy gelukkig sal wees… gaan waar jy gelukkig is.”  Sy kyk na my met daardie anderlandse bruin oë, “mamma?”  Vanuit die donker dieptes waar ek sit knik ek my kop, “Gaan waar jy gelukkig is.” 

Sy stap oor na die hoofhuis waar ons ander drie dogters vir haar wag, hulle wil praat.  ‘n Ruk later kom sy terug, haar lyf ruk soos sy snik.  Vir ‘n lang ruk hou my man haar vas, en laat haar dan gaan.  Sy buk en soen my; ek druk haar saggies vas, en hoor myself met ‘n vreemde stem sê, “Ek is lief vir jou.”  Wanneer haar motor wegtrek, kom ons Portugese meisiekind ingehardloop.  “Gaan julle haar net so laat gaan?”  My stem, nogsteeds vreemd in sy doodsheid, antwoord, “dit is haar keuse, sy moet gaan waar sy gelukkig is.”  “Ons harte is gebreek,” praat ons Portugese dogter vir haar susters ook.  Ek voel die hartseer in my opwel, maar dan sak dit terug in daardie diep donkerte, “Ons almal se harte is gebreek… hare ook.” antwoord ek.

This entry was posted in Die stil kind. Bookmark the permalink.

22 Responses to Die stil kind slot

  1. MaanKind says:

    Hoe wens ek dat hierdie fiksie was, dan het ek jou oorred dat ek dit as e-Boek publiseer. Maar dit sou die heiligheid van hierdie storie oneer aandoen.

  2. Sonlig says:

    Sjoe Kameel. Dit was nie die einde waarop ek vir julle gehoop het nie. Ek neem aan hierdie laaste afskeid het nie baie lank terug gebeur nie?

  3. Toortsie says:

    Kameel. Kameel. Kameel. Mag jul genesing vind.

  4. seegogga says:

    Ai, ai. ‘n Mens kan net vir haar bid. Ek glo sy sal weer terugkom, wanneer sy klaarheid gekry het. Sterkte

  5. Pingback: Hoe lyk my dag? | Toortsie en Kameel

  6. Slakkelak says:

    Kameel, ek het die hele storie elke dag gevolg, maar kon nie kommentaar lewer nie. Weet dat ek julle opdra in gebed.

  7. Kameel says:

    Dankie slakkelak. Ek glo sy het op ‘n plek in haar lewe gekom waar dit net sy en God gaan wees.

  8. Charms says:

    Ek het vermoed dat dit ‘n hartseer einde gaan wees vir almal. Die feit bly dat dit haar lewe is en alhoewel julle ‘n goeie en opbouende familie vir haar beskikbaar gestel het, is haar fondasie nog steeds vol gate wat sy eers moet ondersoek en versterk voor sy kan aangaan.

  9. klippie says:

    Ek voel so saam met jou en geen woorde kan die seer verwoord of beter maak nie. Sterkte vir jou.

    ‘n Kind wat soos my eie was is van my af weggeneem. Nou nog, na amper 30 jaar, kry ek ‘n beklemming as ek haar naam hoor. Maar die goeie nuus is dat sy deur middel van die internet met een van ons kontak gemaak het. Nog steeds het sy nie die moed om ons te ontmoet nie maar ek vertrou dat ons haar wel in die nabye toekoms sal sien.

  10. murphy says:

    Ek het nou hierdie vir die eerste keer van voor tot agter gelees, en eerstens wil ek vir jou sê dat jy ‘n uitstekende skrywer is, dat jy my diep aangraak het met hoe jy hierdie verhaal van jou kind vertel. My hoop is dat julle mekaar weer sal vind.

  11. Kameel says:

    Dankie Murphy, dit beteken vir my baie :)

    • annetjie kompaan says:

      Liefkameel, Dankie vir hierdie ongelooflike verhaal van liefde, geduld en deernis en dat jy dit gedeel het met ons. Ek dink nie dis regtig die ‘slot’ van die storie nie! Soos jyself hierbo gesê het, is sy nou in die Here se hande en dan is daar mos altyd ‘n next ‘thrilling episode’! Hy werk mos bonatuurlik en maak reg wat menslik onmoontlik klink. Mag Vader jou seer hart troos en haar verwarring oor haarself en waar sy hoort, sag kom herstel en haar na Hom toe trek met bande van liefde. Ek bid ook saam vir jou ‘agtergeblewe’ kinders se hartseer, verwerpgevoel en kwaad, dat hulle ook sal vergewe en weer sagword vir sus-met die-swaarkry-verlede.

Gesels saam, asseblief!

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s