Jo-Ann se reaksie op ‘n stuk oor wat die soekenjin als na my toe gooi, het my laat besluit dat dit weer tyd is om die lys deur te gaan. Daar is natuurlik baie meer versoeke as wat ek nou hier neerskryf…
Dis vir my opvallend hoeveel mense probleme het met verhoudings en ook hoeveel mense eintlik maar onseker is van hulleself. Dis so ‘n universele probleem. Ons kan so maklik ontmoedig raak deur ‘n ondeurdagte opmerking van iemand anders. Daar is woorde soos “vrees vir mense”, “swakpunte van vriendskap”, “eensaam”. Dis woorde wat ek ken, waarmee ek in my eie lewe ook al geworstel het. Ek het doelbewus geleer om my nie te veel te probeer steur aan ontaktvolles wie nie dink wat hulle sê nie. Ek het doelbewus soms ander paaie geloop, selfs aan ander verenigings behoort waar ek myself kon uitleef, sonder om gedruk te word deur mense wie se optrede my dalk minderwaardig laat voel. Ek het myself baie fyn bekyk en besluit of die probleem by die ander lê en of dit nie dalk iets is waaraan ek self kon werk, dat die probleem dalk eintlik by my eie persepsie lê en dat die ander persoon eintlik nie ‘n meerderwaardige houding het nie… Ek het die volgende woorde op papiere geskryf en dit op verskillende plekke gebêre, sodat ek soms onverwags daarop afkom en dit lees… “Ek is ‘n wonderlike skepsel van God, ‘n mens met eie reg. Uniek. En daarom het ek waarde.” Ek het gekyk hoe ek myself kon ontwikkel en so selfvertroue begin kry en bou. Ek het my sterk punte ontdek en ontwikkel, ook my eie belangstellings ontwikkel. Ek het geleer dat baie mense wie ek gedink het ‘n meerderwaardige houding het, eintlik ook maar soms onseker is…
Omdat ek baie oor die huwelik skryf, is daar baie huweliksvrae wat by my beland. Gesonde huwelik. Liefdestaal. Die huwelik is deur God ingestel en daarom sal ek altyd daarvoor veg, my hele lewe lank. Ekself het al in my lewe baie oor die huwelik geleer, daaroor gelees en leer nog steeds elke dag daaroor. Ek glo dis iets waaraan daagliks gewerk moet word.
Positiwiteit en Motivering. Twee groot woorde. As ons onsself kan oefen om positief kan wees, kom so baie ander dinge reg. My grootste motivering en rede vir positief wees vind ek daagliks in die Woord van God.
“Liefdesbrief voorbeeld”… mense, ‘n liefdesbrief kan jy net uit jou hart uit skryf, jy kan nie iemand anders s’n kopieer nie!! “Wat is liefde” is die een wat die meeste “hits” kry. Hoekom sukkel ons dan so om die antwoord daarop te vind? Ek weet net dat hoe meer liefde ek gee, hoe meer kry ek terug. Dalk begin dit by myself en moet ek nie wat vir ander om dit eerste te gee nie?
Daar word gereeld vir ‘n sekere teksvers gevra. As jy regtig vinnig na ‘n bybelteks soek, kliek hier.
Mag jy ‘n wonderlike naweek hê!
Toortsie
Jou blog help baie mense, Toortsie. Duidelik belangrike dinge waaroor jy skryf! By my het ‘n soektog na “Vyande van naaldekokers” opgeëindig. Ek neem aan die persoon meen natuurlike vyande, want anders gaan daai persoon hel toe. Niemand behoort ‘n vyand van ‘n naaldekoker te wees nie!
Pingback: Vegetariese braai | Swartbelt vir diere
Daars darem baie lawwes ook, die stuk het net lank geraak. My vorige skryfsel bewys dit.
Jou liggie moet omtrent in baie plekkies skyn….. en ek het altyd gedog dit is net “Jy in jou KLEIN hoekie en ek in myn.”
Kameel, ons probeer maar net! Of my raad veel beteken, kan ek nie sê nie! Ek kan maar net skryf hoe dinge vir my werk, hoe ek die lewe probeer leefbaar maak. En jy is saam met my in onse hoekie en is net so ‘n aansporing vir so baie van ons!