Ek het al geskryf oor ons kinders se vriende wie ons kinders kan maak of breek. Maar terselfdertyd bly ons, selfs al is ons volwassenes, oud en getroud, nog steeds kwesbaar vir vriende. Oor jare groei ons in volwassenheid, en leer ons “hopelik” om vriende beter te kies, maar ons moet maar wakker wees.
Bou my vriende my op, of breek hulle my selfbeeld af? Gebruik hulle my net om ‘n trapklip te wees sodat hulleself beter hoogtes kan bereik? Is ek dalk die gewillige een wat dankbaar is vir die vriendskap, terwyl die vriend/vriendin my gebruik om hulleself teen te spieël?
Soveel huwelike word verwoes as gevolg van vriende. Jou lekker “jol” vriende bly aandring daarop dat jy onbeperk saamjol, selfs ten koste van jou huweliksmaat. Of dalk is jou eie huwelik effens wankelmoedig en net dan vertel jou vriende vir jou dat dit beter is om te skei? Of hulle wys op jou huweliksmaat se swak punte. Hulle vertel selfs vir jou dat jy baie lekkerder geselskap is as jou huweliksmaat nie by is nie. Hulle maak dalk soveel aanspraak op jou tyd, en as die onvermydelike dan gebeur en jou huweliksmaat daaroor kla, word laasgenoemde die verkeerde een. (Ek praat nie hier van hiper-jaloers, hiper-selfsugtige huweliksmaats nie, maar net gewone mense wat probeer om van hulle huwelik ‘n sukses te maak.) ‘n Mens moet net oppas dat jy nie op die ou end sonder jou huweliksmaat, maar ook sonder die vriende is nie!!
In my oë is goeie vriende mense wat ook my huwelik as heilig ag. Mense wat my eerder sal help om my huwelik op die regte pad te kry en te hou. Mense by wie my huweliksmaat ook welkom sal wees en gemaklik by sal wees. En as my huweliksmaat ernstige probleme met sekere van my vriende het, sal ek dit ook ernstig oordink of hy/sy nie reg het nie.
Die ou spreekwoord lui: “Maak jou vriendelikheid goedkoop, maar jou vriendskap duur.” Kom ook ons, as volwassenes, kies ons vriende met oorleg.
Groete, Toortsie
Ek hoop elke jonge lees hier.
Dis nou ware woorde!
Hallo Toortsie, ek is al ‘n rukkie op die lug, maar blog maar min. Wou net inloer…
Welkom hier!!
Dit is SO waar!
dit is soos wat hulle in Engels sou se `n “awesome post” en so waar .
Baie dankie, Staaltjies!
Ja, vriendskap kan iets kosbaars wees, maar ook jou ondergang beteken.