‘n Geselsie met die jong volwassenes tussen ons

Liewe Jongmens

Jy het nou pas klaargemaak met skool, universiteit, kollege en betree nou die “grootmenswêreld”. Jou oë is vol sterre want jy het die wêreld se kennis opgebou en jy kan beslis ‘n verskil maak! En dis reg! Ons het jongmense vol drome en vol energie nodig om die wêreld aan die gang te hou.

Maar net soos wat daar onderwysers, dosente, kenners was waar jy jou opleiding gehad het, het die lewe ook sy mentors. Jy betree nou die universiteit van die lewe. En ja, jy wil graag nou onmiddellik die erkenning ontvang vir dit wat jy bereik het.

Die eerste les wat jy gaan leer is dat jy jouself sal moet bewys. Elke keer wat jy na ‘n nuwe dorp, nuwe land, nuwe werk gaan, sal jy jouself van voor af moet bewys. “Vertel” van wat jy kan doen, gaan nie noodwendig werk nie. Nee, DOEN. Bewys jy is betroubaar. Bewys dat dit wat jou CV van jou vertel, die waarheid is.  Want onthou, jy tree as nuweling in tussen mense wat al die pad gestap het. Hulle het dalk nie die boeke-kennis wat jy het nie, maar hulle het lewens-ervaring.  Moenie proebeer om van die ouer mense se werk uit hulle hande te vat nie! Help waar jy kan.

Behandel ALLE mense met die respek wat jy graag wil verdien! Jou ouers. Jou meerdere wat oor jou aangestel is. Ouer mense. Jou mindere wat onder jou aangestel is. Elke persoon met wie jy in die dag jou pad kruis, in jou besigheid, maar ook op straat. Moenie mense afjak wat vir jou met goeie bedoelings help nie!! Onthou, hulle help jou omdat hulle die slaggate ken, nie omdat hulle dink jy is ‘n kind nie! Gee erkenning vir iemand wat vir jou goed was.

Wees lojaal teenoor jou mense, jou werkgewer, jou werk, jou kollegas. Moenie oor jou werk sleg praat nie. Nooit nie. Nie tussen jou vriende nie. Nie op facebook nie. Nie op jou blog nie. Lojaliteit kan vir jou baie inbring of baie kos!! Onthou, jou werkgewer, hoe sleg hy ook al is, sorg vir jou bord kos!

Wil jy soos ‘n volwassene behandel word? Tree dan soos een op!  Doen wat jy doen na die beste van jou vermoë. In die begin gaan jy dalk nie heeltemal doen wat jy graag wil nie, maar doen dit na die beste van jou vermoë. Wys jy’s betroubaar in die klein dingetjies, en kort voor lank word daar vir jou meer uitdagende werk aangebied.

Geniet dit wat jy doen ten volle!

Sterkte. Mag dit met jou goed gaan!

Toortsie

Posted in Die lewe, Geleefde Christenskap, Motivering en Bemoediging | Tagged , , , , , | Lewer kommentaar

internet-hekkies

Soveel van ons lees blogs op ons selfone, en as ons wil kommentaar lewer, word soms vereis dat ons eers moet inteken (log in). Gewoonlik is ek, as ek op my selfoon lees, nie ingeteken nie, en lewer dan nie kommentaar nie.

Dis natuurlik elke blog-eienaar se eie keuse hoe jy dit wil hê – ingeteken of nie, maar… as jy nie weet hoe nie…. so maak mens!! ;)

In jou instrumentepannel gaan jy na “settings”. Kies dan “bespreking”. Dan soek jy “other comment settings”. Tweede van bo af in hierdie groepie staan: “Gebruikers moet geregistreer en aangeteken wees om kommentaar te lewer.”  Wil jy hê hulle moet ingeteken wees??? Sorg dan dat die blokkie gemerk is. Wil jy hê almal moet kan kommentaar lewer, ongeag of hulle ingeteken is of nie? Sorg dat die blokkie skoon is!! :lol:

***************************************************************************

Vir meer as ‘n week kon ek nie my facebook op my rekenaar oopmaak nie. Wel op my selfoon. Dit was ‘n baie groot frustrasie. Ek het gekerm op my blog, op facebook, op facebook se eie wall…

Toe gee iemand my dié raad, wat beslis gewerk het vir my, en vir ander ook! In plaas van die gewone www.facebook.com, moet jy intik: https://facebook.com .  Dan maak facebook oop. Hulle vra of jy altyd van die sekuriteitfunksie gebruik wil maak. Sê “JA”!!! en…..whala! Einde van probleme!! :)

Toortsie

Posted in Blogging | Tagged , , , , , | 5 Kommentaar

Wie loop daar?

Het ons nege maande oue baba nie die nag van die karavaan se bed afgeval nie, was hy, my eks, die ongebore kind in my binneste, en ek sekerlik die nag almal dood.  Die geluid het van vêr gekom – met moeite het ek my oë oopgemaak en in die maanlig die bondeltjie op die vloer sien lê.  Die reuk van gas het die lug vol gehang; my elke beweging was loodswaar; dit het soos ‘n ewigheid gevoel voordat ek die slap liggaampie buite op die grond neergelê, en teruggekruip het om my man wakker te maak.

Ons wou bou, en om geld te spaar het ons by my skoonouers in hulle karavaan ingetrek.   Na daardie nag het ons besluit dit was tyd vir ‘n ander blyplek.  So kom ons op ‘n plot ‘n paar kilo’s anderkant die Sterkfontein Hospitaal af.  My eks was in sy noppies, hy het op ‘n plot grootgeword, en ek was ook heel in my skik, veral met die agterste stoep wat met gaasdraad toegemaak was; dit het my aan die plaashuis uit my kinderdae herinner.  Dit was ‘n netjiese plot, nie te groot nie – daar was ‘n paar vrugtebome, ‘n prieël, hoenderhokke en ‘n koeistal – wat onmiddelik nadat ons daar ingetrek het, ‘n inwoner gekry het.  Alhoewel dit my eks gekos het om nog vroeër in die oggende op te staan, het hy met groot liefde elke oggend die bruin koei gaan melk.

Saam met die plot het ons ook vir Sara gekry.  Die ou tannie aan wie die plot behoort het, het vertel dat Sara nie op haar ouderdom weggestuur kan word nie, en sal vir ‘n blyplek, ‘n bord kos, en so ‘n ietsie ‘n maand aanbly om die koolstoof aan die gang te hou, en die werkies waartoe sy nog in staat is, te doen. Ek het nie fout daarmee gevind nie, ook nie toe sy byvoeg dat Sara nie aldag by haar volle verstand is nie.  In haar jeug het die vroue wat haar tydens geboorte bygestaan het, haar oopgeskeur om die baba uit te haal.  Die pyn het veroorsaak dat Sara nooit weer verstandelik normaal gefunksioneer het nie.  Sy was baie lank in Sterkfontein, maar na haar ontslag is sy terug plot toe waar sy nog al die jare woon.  So word Sara deel van ons huishouding – maar ek sou spoedig uitvind dat daar ‘n slang in die gras is.

Die hoofslaapkamer het my van dag een af koue rillings gegee, dus maak ek dit die babakamer, en skuif die wit kot na die tweede slaapkamer toe.  Vroeg in die oggend voordat my eks gaan werk, glip ek vinnig die witkamer in, kry die dag se benodighede vir die baba, en sit nie weer my voete daarin totdat my eks later by die huis is nie.  Die toegemaakte stoep met sy divan word my “safe haven,” waar ek my dae deurbring.  Sara, oud en geplooid het toe nie soos ek gehoop het vir my ‘n moederfiguur geword nie, maar ‘n vyand.  Hoekom sy my so vyandiggesind was weet ek nie, maar soos klokslag elke oggend het sy ingekom, en met ‘n kekkellaggie by my verby gestap terwyl sy onverstaanbare dinge prewel.  Haar kraalogies het my vol haat aangegluur, dus het ek dit beter gedink om maar uit haar pad te bly, en haar, haar gang te laat gaan.

Die tyd het aangestap en ek het al onrustiger geraak…. of beter gestel bang.  Die huis en Sara het my dag na dag aangegluur, en ek het dit nie meer gewaag om my voete binne die huis te sit as my eks nie daar was nie. Sy teenwoordigheid was net nog ‘n asem in die huis, maar dit het nie die koue wat vanaf die witkamer dwarsdeur die huis getrek het, weggeneem nie.  In die aande het ek by kerslig vinnig in die pootjiesbad gespring en met bonsende hart gebad… dit was asof oë vanuit die mure my beloer het.  My eks kon my bangheid glad nie verstaan nie, en gesê ek trek Sara se gedrag my te veel aan.  Een aand kom kuier jarelange ou vriende vir ons; ons kon nagte deur kuier, maar die aand wil die gesels nie vloei nie.  “It’s creepy here,” sê my vriendin; “it feels as if someone is watching me.”  Ek stem heelhartig met haar saam, en konfronteer my man daarmee, maar die mans lag dit af as vrouegrille.

Nie lank na die aand nie, verbreek Sara haar daaglikse kekkellag en geprewel, en kom voor my tot stilstand.  Met ‘n bewende krom vinger wys sy na my en sê: “Vir jou gaan hulle kry…..hulle gaan jou doodmaak en afslag, en jou vel gaan hulle teen die muur oopspalk.”  (Nou nie die presiese woorde nie, maar die betekenis was heel duidelik.)  “Wie?” vra ek verdwaas.  “Wag maar…. hulle gaan kom,” en met die woorde verdwyn sy al prewelend deur die kombuisdeur.  Daardie dag klou ek nog stywer aan my baba, die divan en die gaasdraadstoep vas.  Die aand vertel ek my man, maar weer lag hy dit af; “Jy weet wat die ou tannie gesê het, haar kop is nie lekker nie.”

Van daardie oggend af, dreig Sara my elke dag met dieselfde woorde, en ek raak by die dag banger, en my man meer hardhorig.  Een nag word ek wakker van die plankvloer se gekraak in die gang.  Dit is te donker om enigiets te sien, maar ek kan duidelik aanvoel hoe iemand die kamer binneloop, verby die bed beweeg en voor die kot tot stilstand kom.  “Wat makeer?” vra ek, menende dit is my eks wat by die kot staan.   Doodse stilte begroet my; iets onheilspellend aan die stilte laat my na die plek langs my op die bed voel.   Toe ek my eks se warm liggaam aanraak, gil ek kliphard.   Hy kom vervaard orent, “Wat gaan aan,” wil hy weet.  “Steek aan die kers,” snik ek… “daar is iemand in die kamer.”  Ek hoor hom met die vuurhoutjies vroetel, en dan flikker die kerslig in die donker.  Daar is niemand in die kamer nie, en die baba slaap nog heel rustig in sy kot.  “Jy het jou verbeel,” sê my eks, maar loop tog deur die huis om seker te maak alles is in orde.  Terug in die bed, blaas hy die kers uit; “Slaap nou,” sê hy, “jy trek jou Sara se stories te veel aan.”

In die donker lê ek en luister, maar behalwe vir die naggeluide is alles rustig.  Ek begin insluimer, maar skrik wawyd wakker toe ek die gangvloer hoor kraak.  Iemand beweeg by die kamer in, en weer voel ek die teenwoordigheid verby die bed beweeg, en voor die kot tot stilstand kom.  “STEEK AAN DIE KERS,” gil ek; die episode van vroeër word weer herhaal, maar natuurlik is dit weer my verbeelding.  Hierdie keer bly die kers aan, en so ook al die daaropvolgende nagte.  Maar uiteindelik kom daar vir my ‘n ligpunt.  Met my maandelikse doktersondersoek raai hy my man aan om vir ons ander verblyf te kry.  Volgens hom is daar bloed in my water, en ek is gespanne soos ‘n snaar; dit lyk nie goed vir die ongebore baba nie.

Oppad terug is my eks stil, dat hy nie die plot wil opgee nie is heel duidelik.  Meteens verbreek hy die stilte: “Ek weet wat maak jou so bang,” sê hy, “met die mure so groen is die huis donker, as ek die huis spierwit uitverf gaan dit ‘n ander atmosfeer skep.  Jy gaan sien ons gaan nog lekker daar bly.”  My hart weet dat die probleem nie by die kleur mure lê nie, maar hoe oortuig jy ‘n man wat glo jy sien spoke waar daar nie spoke is nie?  Hy gaan heel opgewonde voort:  Frans en Nico (sy twee jonger broers,) kan vir die vier maande tot die baba se geboorte op die plot kom bly en hom help om die huis uit te verf, dan gaan bly ek by sy ouers, en na die geboorte neem hy my en die kinders na die spierwit geverfte huis toe… “and we will live happily ever after.”  Ek val gretig in by sy plan, net om van die plot af te kom is vir eers genoeg.

Daardie selfde dag nog trek ek by my skoonouers in, en sy broers vat die pad plot toe.  Vir die eerste keer in maande slaap ek rustig, en my dae voel nie soos een uitgerekte nagmerrie nie.  Na twaalf een aand word almal in die huis wakker van ‘n gehamer teen die voordeur.  My skoonpa gaan maak oop en daar voor hom staan sy drie seuns in hulle nagklere… hulle oë so groot soos pierings.  Spierwit geskrik vertel hulle die storie van die aand op die plot.

My eks was moeg en het vroeg gaan inkruip; ‘n uur of wat later skrik hy wakker van ‘n geraas in die huis:  “Frans en Nico!” roep hy, “kom tot rus… ek kannie slaap as julle so rondloop nie.”  “Ons is in die bed!” kom die antwoord vanaf die witkamer, “ons dog dit is jy wat opgestaan het!”  My eks ken sy broers, en reken hulle is besig met een van hulle streke.  Skaars omgedraai om weer te slaap of hy is weer wakker van die geraas.  Nou is hy kwaad en verhef sy stem “Kry einde daar in die kombuis….. en gaan slaap!!” “Ons is in die bed!” kom die antwoord vanaf die witkamer.  Weer raak my eks aan die slaap, maar word net voor twaalf wakker van ‘n vreeslike rumoer in die kombuis.  Hy vlieg uit die bed om sy broers te gaan regsien, en loop homself vas in die twee wat uit hulle kamer gestorm kom.  In die donker staan die drie in die gang en luister na die lawaai in die kombuis; uiteindelik kry hulle ‘n kers aangesteek, en stap kombuis toe.  Die kombuis is nou rustig, maar daar is ‘n atmosfeer daar wat hulle hare laat reis.  Sonder ‘n tweede uitnodiging gryp my eks die motorsleutels, en die drie hardloop vir die kar….. en kom hamer ‘n halfuur later aan hulle ouers se voordeur.

Ek weet vandag nog nie wat om van dit alles te maak nie, maar ek wonder tog of ou Sara se kekkellag hulle nie daardie aand “totsiens,” toegeroep het nie.

Posted in Uncategorized | 15 Kommentaar

Bootjies

Toe my kinders kleuters was het ek soms spasie gesoek. Ruimte. Want so ‘n kleuter kan erg onder jou voete wees. En hoe meer jy probeer om ‘n bietjie ruimte te vind, hoe meer klou hulle. Toe verduidelik ‘n vriendin dat dit is soos ‘n bootjie op die see. As jy gaan probeer om die ander persoon oorboord te gooi, gaan hy KLOU!!

Ek ervaar soms dat sekere mense hul lewe lank in bootjies dobber sonder rigting. Hul vat elke dag soos hy kom. Rowwe dae trek hulle hulle kop toe en wag vir beter dae. Dobber dobber dobber. Nooit in ‘n rigting nie. Kry jy hulle oor ‘n paar jaar weer, dobber hulle nog steeds. Niks het verander nie. Geen doelbewuste poging om iets in jou lewe te verbeter nie, of om iets te bereik nie. Dobber dobber dobber… Dit kan gevaarlik wees…

Soms vaar jou huweliksbootjie op rustige water, dan is dit heerlik om daarin te wees. Maar skielik tref dit ‘n stroomversnelling, of ‘n massiewe storm! Dis nie dan die tyd om uit te klim nie, jy gaan verdrink!! Dis wanneer jy jou deel moet doen om die boot deur die storm te kry! Soms is dit rampspoedig, maar PROBEER ten minste!! Skep die water uit met ‘n emmer, gryp die stuurwiel as dit nodig is, bid!! Of dalk moet jy die stuurwiel vir jou maat gee! Of vir God!! En as die storm oor is, bemagtig jouself deur te leer wat jy kan doen om te help om so ‘n storm af te weer, of, as jy in die toekoms weer in een is, makliker daardeur te kom, dit beter te hanteer. Maar die belangrikste van als is dit ook dan die tyd om te kyk watter skade die storm aan jou bootjie gedoen het, en daardie skade te probeer herstel. Doelbewus. Daadwerklik.

Klou vir jou lewe!

Toortsie

 

Posted in Geleefde Christenskap, Huwelik en Verhoudings, Ouerskap en ouerleiding | Tagged , | 2 Kommentaar

Ek kan daarmee maak wat ek wil

As kind het my pa my die vraag gevra – en ek het dit weer vir ons kinders gevra, en nou is dit die kleinkinders se beurt: “Wat is wit (alhoewel dit in meer kleure voorkom,) het plate wat jy kan aanskakel, wanneer dit warm is kook jy kos daarop, en daarna was jy dit, en hang dit aan die draad op?”  Die helder gesiggie hier voor jou verander, dit frons en skud dan die kop… “ek weet nie,” kom die antwoord:  “’n Stoof,” se jy ewe ernstig.  Nou is die gesig die ene konsternasie: “mens hang nie ‘n stoof aan die draad op nie.”  “Hoekom nie?” sê jy ewe ernstig, “dit is my stoof, ek kan met hom maak net wat ek wil.”  Natuurlik is dit ‘n grappie, en ons lag dan lekker saam.

“Dit is my stoof, en ek kan met hom maak net wat ek wil.”  Wat van die lewe?  Mag ek nie vanoggend sê: “Dit is my lewe, ek kan met hom maak net wat ek wil nie?”  Dit was op ‘n tyd die motto van my lewe, en ek het vir my baie onheil oor my pad gebring met so ‘n seining.  Omdat ek vanoggend swaar kry om my knieë voor ‘n Hoër Gesag te buig, is dit miskien goed om te kyk na die pad wat ek gekom het.

Daar was ‘n dag toe ek die deur agter ‘n man en kinders toegetrek, en die wêreld ingestap het – op soek na my potjie goud aan die voet van die reënboog.  Ek het die lewe wat die wêreld bied met albei hande vasgegryp.  Ek wou elke oomblik ten volle geniet, elke druppel uitsuig, my in die volheid daarvan versadig.  Maar die heuningsoet smaak wat dit op my tong moes bring was galbitter.  Dit het my leeg, koud en eensaam gelaat.  Met gedrogvingers het vrees my lewe omklem – my nag, na nag in agsweet laat wakkerskrik.  My reënboog het van kleur verander;  dit was grou, dof en skrikwekkend.  En onophoudelik het dit deur my siel weergalm; EK WIL LEWE, LEWE, LEWE!

Vanuit die hemel buk God af:

Jy soek na lewe? – Ek is die weg, die waarheid en die lewe.

Jy wil versadig word? – Ek is die lewende brood, as iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.

Jy wil jou dors les? – Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie.’

Ek steek my hande uit – “Gee my hierdie lewe, Heer!”

Die dae word maande, die maande jare – en God is besig met sy vernuwingsproses.  Hy kap en saag, skuur en hamer, breek en bou – en ek, ek kreun en huil, lag en juig; EK HET DIE LEWE GEVIND!!

Dan, is daar weer ‘n dag – My huis word met kinders gevul.  Nie net my eie nie, maar ook ander s’n.  En ek onthou – lank, lank gelede, was daar twee kindertjies; ‘n swartkopseuntjie met ‘n hemelglimlag, en ‘n ander enetjie met sprekende bruin oë.

“Here, ek verstaan nie – hoe kan U my ooit weer vertrou?”

Soos ‘n ligstraal breek dit deur die donkerte; God se vergifnis is volkome!!  Selfs in die areas van ons grootste mislukkings, vertrou Hy weer!!

Dié wete vou my toe – bring vrede en geluk.  In my hart is daar ‘n lied, om my mond ‘n lag:  “O, die heerlikheid daarvan wanneer God vergewe.”

Posted in Uncategorized | 7 Kommentaar

nog steeds is fb af…

Ek het Firefox probeer, en Internet Explorer, en Google Chrome met groot gesukkel aan die gang gekry…

Al wat ek kan sê is dat op my rekenaar maak facebook nie heeltemal oop nie. Al van Vrydag af. Ek kan inteken. Dan verskyn die opskrif wat sê Tuis en My Naam. En dit wys dat 2 of 3 of hoeveel raksies was op iets wat ek gesê het. Kliek jy op die 2 of 3 gebeur daar net niks en as jy dan op jou selfoon oopmaak, wys daardie reaksies nie meer nie. Niks wys wat iemand anders geskryf het of geplaas het nie…..

wonder of dit sabotasie is????

FB op die selfoon is nie lekker nie.

:( :( :(

Getoorde Toorts

Posted in Verskeidenheid Onderwerpe | Tagged | 8 Kommentaar

Nuweling op ‘n plattelandse dorp…..

‘n Bitter oulike stadsmeisie gaan uit met ‘n boerseun. Op ‘n stadium gesels ons lekker oor die leef in of rondom ‘n plattelandse dorp. Dié ding dat almal mekaar ken, almal mekaar se stories ken. Soms ken hulle jou storie voor jy dit self ken!! Soms is dit omgee, ander kere blote nuuskierigheid, of soms is dit sommer net ‘n lekker skinderstorie.

Sy sê toe vir my dat haar ma vir haar gesê het sy moet net haar kop laag hou en vinnig vorentoe, anders is daar ‘n storie daaroor. Ek sê toe, nee!! Tel juis jou kop op, kyk almal in die oë, groet vriendelik, knoop ‘n geselsie aan. Dan hou hulle van jou en is hulle aan jou kant!

Maar eintlik is nie een van ons reg nie. Die heel, heel belangrikste ding is: Wees net jouself. Straal liefde uit, maar wees jouself. En dan sal jy inpas op enige plek in die wêreld. Of hoe??

Toortsie

Posted in Geleefde Christenskap | 7 Kommentaar