Het ons nege maande oue baba nie die nag van die karavaan se bed afgeval nie, was hy, my eks, die ongebore kind in my binneste, en ek sekerlik die nag almal dood. Die geluid het van vêr gekom – met moeite het ek my oë oopgemaak en in die maanlig die bondeltjie op die vloer sien lê. Die reuk van gas het die lug vol gehang; my elke beweging was loodswaar; dit het soos ‘n ewigheid gevoel voordat ek die slap liggaampie buite op die grond neergelê, en teruggekruip het om my man wakker te maak.
Ons wou bou, en om geld te spaar het ons by my skoonouers in hulle karavaan ingetrek. Na daardie nag het ons besluit dit was tyd vir ‘n ander blyplek. So kom ons op ‘n plot ‘n paar kilo’s anderkant die Sterkfontein Hospitaal af. My eks was in sy noppies, hy het op ‘n plot grootgeword, en ek was ook heel in my skik, veral met die agterste stoep wat met gaasdraad toegemaak was; dit het my aan die plaashuis uit my kinderdae herinner. Dit was ‘n netjiese plot, nie te groot nie – daar was ‘n paar vrugtebome, ‘n prieël, hoenderhokke en ‘n koeistal – wat onmiddelik nadat ons daar ingetrek het, ‘n inwoner gekry het. Alhoewel dit my eks gekos het om nog vroeër in die oggende op te staan, het hy met groot liefde elke oggend die bruin koei gaan melk.
Saam met die plot het ons ook vir Sara gekry. Die ou tannie aan wie die plot behoort het, het vertel dat Sara nie op haar ouderdom weggestuur kan word nie, en sal vir ‘n blyplek, ‘n bord kos, en so ‘n ietsie ‘n maand aanbly om die koolstoof aan die gang te hou, en die werkies waartoe sy nog in staat is, te doen. Ek het nie fout daarmee gevind nie, ook nie toe sy byvoeg dat Sara nie aldag by haar volle verstand is nie. In haar jeug het die vroue wat haar tydens geboorte bygestaan het, haar oopgeskeur om die baba uit te haal. Die pyn het veroorsaak dat Sara nooit weer verstandelik normaal gefunksioneer het nie. Sy was baie lank in Sterkfontein, maar na haar ontslag is sy terug plot toe waar sy nog al die jare woon. So word Sara deel van ons huishouding – maar ek sou spoedig uitvind dat daar ‘n slang in die gras is.
Die hoofslaapkamer het my van dag een af koue rillings gegee, dus maak ek dit die babakamer, en skuif die wit kot na die tweede slaapkamer toe. Vroeg in die oggend voordat my eks gaan werk, glip ek vinnig die witkamer in, kry die dag se benodighede vir die baba, en sit nie weer my voete daarin totdat my eks later by die huis is nie. Die toegemaakte stoep met sy divan word my “safe haven,” waar ek my dae deurbring. Sara, oud en geplooid het toe nie soos ek gehoop het vir my ‘n moederfiguur geword nie, maar ‘n vyand. Hoekom sy my so vyandiggesind was weet ek nie, maar soos klokslag elke oggend het sy ingekom, en met ‘n kekkellaggie by my verby gestap terwyl sy onverstaanbare dinge prewel. Haar kraalogies het my vol haat aangegluur, dus het ek dit beter gedink om maar uit haar pad te bly, en haar, haar gang te laat gaan.
Die tyd het aangestap en ek het al onrustiger geraak…. of beter gestel bang. Die huis en Sara het my dag na dag aangegluur, en ek het dit nie meer gewaag om my voete binne die huis te sit as my eks nie daar was nie. Sy teenwoordigheid was net nog ‘n asem in die huis, maar dit het nie die koue wat vanaf die witkamer dwarsdeur die huis getrek het, weggeneem nie. In die aande het ek by kerslig vinnig in die pootjiesbad gespring en met bonsende hart gebad… dit was asof oë vanuit die mure my beloer het. My eks kon my bangheid glad nie verstaan nie, en gesê ek trek Sara se gedrag my te veel aan. Een aand kom kuier jarelange ou vriende vir ons; ons kon nagte deur kuier, maar die aand wil die gesels nie vloei nie. “It’s creepy here,” sê my vriendin; “it feels as if someone is watching me.” Ek stem heelhartig met haar saam, en konfronteer my man daarmee, maar die mans lag dit af as vrouegrille.
Nie lank na die aand nie, verbreek Sara haar daaglikse kekkellag en geprewel, en kom voor my tot stilstand. Met ‘n bewende krom vinger wys sy na my en sê: “Vir jou gaan hulle kry…..hulle gaan jou doodmaak en afslag, en jou vel gaan hulle teen die muur oopspalk.” (Nou nie die presiese woorde nie, maar die betekenis was heel duidelik.) “Wie?” vra ek verdwaas. “Wag maar…. hulle gaan kom,” en met die woorde verdwyn sy al prewelend deur die kombuisdeur. Daardie dag klou ek nog stywer aan my baba, die divan en die gaasdraadstoep vas. Die aand vertel ek my man, maar weer lag hy dit af; “Jy weet wat die ou tannie gesê het, haar kop is nie lekker nie.”
Van daardie oggend af, dreig Sara my elke dag met dieselfde woorde, en ek raak by die dag banger, en my man meer hardhorig. Een nag word ek wakker van die plankvloer se gekraak in die gang. Dit is te donker om enigiets te sien, maar ek kan duidelik aanvoel hoe iemand die kamer binneloop, verby die bed beweeg en voor die kot tot stilstand kom. “Wat makeer?” vra ek, menende dit is my eks wat by die kot staan. Doodse stilte begroet my; iets onheilspellend aan die stilte laat my na die plek langs my op die bed voel. Toe ek my eks se warm liggaam aanraak, gil ek kliphard. Hy kom vervaard orent, “Wat gaan aan,” wil hy weet. “Steek aan die kers,” snik ek… “daar is iemand in die kamer.” Ek hoor hom met die vuurhoutjies vroetel, en dan flikker die kerslig in die donker. Daar is niemand in die kamer nie, en die baba slaap nog heel rustig in sy kot. “Jy het jou verbeel,” sê my eks, maar loop tog deur die huis om seker te maak alles is in orde. Terug in die bed, blaas hy die kers uit; “Slaap nou,” sê hy, “jy trek jou Sara se stories te veel aan.”
In die donker lê ek en luister, maar behalwe vir die naggeluide is alles rustig. Ek begin insluimer, maar skrik wawyd wakker toe ek die gangvloer hoor kraak. Iemand beweeg by die kamer in, en weer voel ek die teenwoordigheid verby die bed beweeg, en voor die kot tot stilstand kom. “STEEK AAN DIE KERS,” gil ek; die episode van vroeër word weer herhaal, maar natuurlik is dit weer my verbeelding. Hierdie keer bly die kers aan, en so ook al die daaropvolgende nagte. Maar uiteindelik kom daar vir my ‘n ligpunt. Met my maandelikse doktersondersoek raai hy my man aan om vir ons ander verblyf te kry. Volgens hom is daar bloed in my water, en ek is gespanne soos ‘n snaar; dit lyk nie goed vir die ongebore baba nie.
Oppad terug is my eks stil, dat hy nie die plot wil opgee nie is heel duidelik. Meteens verbreek hy die stilte: “Ek weet wat maak jou so bang,” sê hy, “met die mure so groen is die huis donker, as ek die huis spierwit uitverf gaan dit ‘n ander atmosfeer skep. Jy gaan sien ons gaan nog lekker daar bly.” My hart weet dat die probleem nie by die kleur mure lê nie, maar hoe oortuig jy ‘n man wat glo jy sien spoke waar daar nie spoke is nie? Hy gaan heel opgewonde voort: Frans en Nico (sy twee jonger broers,) kan vir die vier maande tot die baba se geboorte op die plot kom bly en hom help om die huis uit te verf, dan gaan bly ek by sy ouers, en na die geboorte neem hy my en die kinders na die spierwit geverfte huis toe… “and we will live happily ever after.” Ek val gretig in by sy plan, net om van die plot af te kom is vir eers genoeg.
Daardie selfde dag nog trek ek by my skoonouers in, en sy broers vat die pad plot toe. Vir die eerste keer in maande slaap ek rustig, en my dae voel nie soos een uitgerekte nagmerrie nie. Na twaalf een aand word almal in die huis wakker van ‘n gehamer teen die voordeur. My skoonpa gaan maak oop en daar voor hom staan sy drie seuns in hulle nagklere… hulle oë so groot soos pierings. Spierwit geskrik vertel hulle die storie van die aand op die plot.
My eks was moeg en het vroeg gaan inkruip; ‘n uur of wat later skrik hy wakker van ‘n geraas in die huis: “Frans en Nico!” roep hy, “kom tot rus… ek kannie slaap as julle so rondloop nie.” “Ons is in die bed!” kom die antwoord vanaf die witkamer, “ons dog dit is jy wat opgestaan het!” My eks ken sy broers, en reken hulle is besig met een van hulle streke. Skaars omgedraai om weer te slaap of hy is weer wakker van die geraas. Nou is hy kwaad en verhef sy stem “Kry einde daar in die kombuis….. en gaan slaap!!” “Ons is in die bed!” kom die antwoord vanaf die witkamer. Weer raak my eks aan die slaap, maar word net voor twaalf wakker van ‘n vreeslike rumoer in die kombuis. Hy vlieg uit die bed om sy broers te gaan regsien, en loop homself vas in die twee wat uit hulle kamer gestorm kom. In die donker staan die drie in die gang en luister na die lawaai in die kombuis; uiteindelik kry hulle ‘n kers aangesteek, en stap kombuis toe. Die kombuis is nou rustig, maar daar is ‘n atmosfeer daar wat hulle hare laat reis. Sonder ‘n tweede uitnodiging gryp my eks die motorsleutels, en die drie hardloop vir die kar….. en kom hamer ‘n halfuur later aan hulle ouers se voordeur.
Ek weet vandag nog nie wat om van dit alles te maak nie, maar ek wonder tog of ou Sara se kekkellag hulle nie daardie aand “totsiens,” toegeroep het nie.